Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Albert Alberts van Knysna skryf:
Sedert ons buurgemeente se kerkraad besluit het om te doleer het ons die geweldige trauma wat gemeentelede daar ervaar het saam beleef. Van die verslae gemeentelede het verskuif na buurgemeentes, onder andere by ons hier in Knysna kerk.
Bittere woorde het gevlieg vanaf die gemeenteleiers na gemeentelede, tussen die ring en die gemeenteleiers. Dit het die onderskeie posisies net laat verhard en ’n onversoenbare gees vier tans hoogty.
Tog is daar ’n sprankie hoop. In ’n gesamentlike sitting van die gemeenteleiers en die ring is daar tog besluit om die pad van versoening te probeer loop. En soos dikwels gebeur is daar tog individue wat nie wil probeer nie.
Ek wil my net indink dat wanneer ek voor die regterstoel van God gaan verskyn dat Hy my nie gaan vra wat ek verstaan het van die Skrifgedeeltes oor gaywees nie, of wat ek van die Skrifgedeeltes oor die duiwel verstaan het nie. Hy gaan my net vra of ek in sy Seun geglo het en Hom as my Saligmaker aanvaar het.
Ek het vandag weer gesien hoe daar van die gemeentelede in trane is oor die onmin. En ons gemeentelede huil saam met hulle. Ons kan en mag nie die liggaam van Christus uitmekaar skeur nie. Soos Jesus desperaat uitgeroep het: Jerusalem … hoe dikwels wou ek julle bymekaar maak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaar maak, maar julle wou nie …
Daar moet tog plek wees vir almal wat Christus as Verlosser ken onder die vlerke van God. Ons bid saam en smeek ons liewe Vader vir sagte harte.
