Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief | Is ons weer besig met isoleer?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johannes Mouton van Kaapstad skryf:

So vroeg as die 1930’s was die NG Kerk betrokke by die ekumeniese prosesse wat uiteindelik gelei het tot die stigting van die Wêreldraad van Kerke (WRK). Ook was die NG Kerk in Amsterdam teenwoordig toe die WRK amptelik in Augustus 1948 gestig is. In ’n brief (9 Januarie 1947), gerig aan dr WA Visser ’t Hooft, eerste sekretaris-generaal van die WRK, skryf W Nicol, moderator van die Transvaalse sinode: “Personally, I would very much want the Dutch African Churches to be represented in the World Council. We have so much to learn from our fellow Christians from other countries” (WRK Argiewe 1947).

Natuurlik was die kwessie van apartheid en die NG Kerk se rol daarin, gereeld op die WRK se agenda. Hierdie spanning het opgebou, totdat die NG Kerk, na die Cottesloeberaad in 1961 met aanmoediging van die apartheidsregering, uit die WRK onttrek het. Die isolasie wat met hierdie onttrekking gepaardgegaan het, het voortgeduur tot in die 1980’s toe Johan Heyns en Pieter Potgieter uitgereik het om die verhouding te herstel.

Dus, toe die stem van mede-Christene te uitdagend en ongemaklik raak, het die NG Kerk besluit om haarself eerder te isoleer. Toe ons nie hou van wat gesê word nie, het ons eerder weggestap van dialoog.

Ek het weer hieraan gedink in die lig van die Namibië-sinode se onttrekking uit die Algemene Sinode en prof Johan van der Merwe se onlangse oproep (Kerkbode, 24 Maart 2025) om dit as ’n geleentheid te sien om die Algemene Sinode te verander na ’n Federale Raad van Kerke, waarin sinodes, met inagnome van verskillende kontekste meer outonomiteit het. Benewens hierdie voorstel is daar ook die moontlikheid vir gemeentes en ringe om aan te sluit by enersdenkende ringe en sinodes, sou hulle nie meer saamstem met hulle plaaslike ring en sinode nie.

Dit klink na redelike opsies wat ondersoek moet word, maar in die lig van ons geskiedenis, behoort ons onsself ook af te vra: Is dit nie dalk weer pogings om dialoog te vermy en onsself te isoleer omdat die stemme van medegelowiges te uitdagend en ongemaklik begin raak nie? Ons het alternatiewe stemme nodig om te verhoed dat ons onsself isoleer. Dit is waarom ons ook die stemme van ons VG Kerk se broers en susters so nodig het.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top