Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Nee, broers en susters, nie so nie!

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Leon M Foot van Welkom skryf: Soos dikwels in die verlede moes die kerk in die laaste jare standpunte inneem oor nuwe uitdagings. Baie van hierdie besluite is nie goed ontvang deur sommiges in die kerk nie en hulle spreek hulle daarteen uit. Die hartseer is die dikwels misleidende aard van hierdie kritiek: Omdat die kerk selfdegeslagverbintenisse goedkeur, glo hulle sommer ook nie meer in die verlossende werk van Christus, of die maagdelike geboorte, of die bestaan van die bose nie (om net ’n paar te noem). Dit is eenvoudig nie waar nie.

Op minagtende manier word die geloofsinhoud van medegelowiges verdag gemaak asof hulle nie meer gelowiges is nie. Die trant van briewe en die inskrywings op sosiale media, en nou selfs van die kansel af, pas nie by broers en susters in die geloof nie. Jy kan nie jou moeder so beledig en sê dat sommige van haar kinders nie meer haar kinders is nie.

Die kerk het plek vir meer as net my oortuigings. Van die Nuwe-Testamentiese tyd af was daar al verskille in die kerk wat nie die waarheid van die evangelie op die spel plaas nie: Paulus praat met die vleiseters en die groente-eters. Albei groepe, sê hy, is welkom in die kerk; albei mag aansit en saam eet aan die nagmaalstafel. Tans verhef sommige egter hulle eie verstaan tot die enigste verstaan – net hulle spyskaart is geldig! Dit dreig om die kerk te skeur. Dit is nie nodig nie. Broers en susters, as gelowiges mag ons nie na mekaar hap en byt nie; netnou verskeur ons mekaar.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top