Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Kom ons praat ook oor die ander oorloë en konflikte as net Israel-Gasa

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Albin Bowler van Bellville skryf: Ek vertrou dat ons afgevaardigdes by die tweejaarlikse vergadering van die Sentrale Komitee van die WRK wat tans in Johannesburg plaasvind op die inkonsekwente, onbybelse en liefdelose optredes sal getuig indien slegs die Israel-Gasa oorlog bespreek word.

Ter agtergrond: Oor die afgelope ses weke het verskeie briewe verskyn waarmee skrywers hulle opregte empatie, deernis en bekommernis uitspreek oor die oorlog tussen Israel en Hamas wat in Gasa plaasvind. Enige persoon wat hieroor koud staan, is die naam van Christen nie werd nie – veral oor die derduisende onskuldige kinders, vroue en ouer mense wat reeds gesterf het en nog steeds ly.

Ek wil dit duidelik stel:

  1. skrywers is onkundig oor oorloë in die wêreld, of
  2. skrywers probeer polities korrek optree deur die ANC na te praat, of
  3. skrywers is polities bevooroordeeld en versaak hulle amp as profete.

In my skrywe in Kerkbode van 3 April 2025 gee ek bepaalde feite oor drie oorloë:

  1. Die Israel-Gasa oorlog

In die periode 7 Oktober 2023 tot 6 Oktober 2024 sterf 45 000 mense in Gasa, hoofsaaklik vroue, kinders en ouer persone. Beide die ANC-regering en SARK praat van volksmoord. Voor die 7 Oktober-inval, was daar minder as 10 m inwoners in Israel. Hiervan was 2,2 m Palestyne in Gasa, amper 3 m Palestyne in die Wesoewer en meer as ’n halfmiljoen Palestyne wat in die res van Israel tussen die Joodse Israeli’s woon in stede soos Haifa, Tel Aviv, ens. Een van my vrae was en is nog steeds: Indien Israel volksmoord pleeg teen die Palestyne, hoekom is daar geen aanvalle waarin derduisende mense omkom in die Wesoewer of die ander gebiede nie?

2. Rusland-Oekraïne oorlog

Die oorlog duur al drie jaar. Ongeveer 138 000 Oekraïnse burgers, dws soldate, vrywillige burgers wat veg, vroue, kinders en ouer persone het reeds in die oorlog gesterf (gemiddeld 46 000 mense per jaar – min of meer dieselfde as in Gasa). Een van my vrae was en is nog steeds: Hoekom het die SARK en ANC nie ook verklarings opgestel en aksie geneem om dié oorlog te verdoem nie?

3. Soedanese burgeroorlog

Die burgeroorlog in Soedan het die afgelope twee jaar altesaam 150 000 burgerlikes gedood (gemiddeld 75 000 mense per jaar – heelwat meer as in Gasa). Meer as 11 miljoen mense het uit hulle huise gevlug. ’n Mens kan met reg vra hoekom het die SARK en ANC nie ook verklarings opgestel en aksie geneem om dié oorlog te verdoem nie, veral weens die groot getalle sterftes, ontheemdes en hongersnood? Die SARK steun die ANC-agenda, pleks van om ’n konsekwente profetiese rol te vervul!

Ek stem met die briefskrywers saam: Wanneer onskuldige kinders, vroue en ouer persone ly in enige oorlog of konflik, dan huil die drie-enige God, maar ook ons as sy navolgers. Ons huil en empatiseer en bid nie net vir die mense van Gasa nie, maar vir alle lydendes. Wat vir my vreemd is, is dat die SA media baie meer aandag gee aan Gasa as die ander oorloë.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top