Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Philip Coetzee, Strand, skryf: Ek het die voorreg gehad om dr Helgard Janse van Rensburg se Pinksterbediening in die Strand by te woon. Een van sy boodskappe het gehandel oor twyfel en onsekerheid in verskeie vorms wat gepaard gaan met trauma, geluk en drome, soos ons as mense dit in ons verlede en hede beleef.
Met ander woorde: Watter rol het ons gewete, ons verstand, drome en visioene, in kontras met die Heilige Gees, in ons besluitneming gespeel en speel dit steeds? In kort kan ek dit opsom as volg: In twyfel is dit moontlik dat ons nie sekerheid mag vind nie, want dit roep ons om te luister na die “fluisteringe” van gewete, die “logika” van verstand, en die “wysheid” van visioene en drome, drome van ’n herlewing in die kerk, maar drome gebaseer op wat, ’n veranderlike Skrifbeskouing? In stede van om te luister wat die “Spreekbuis” van God, die Heilige Gees in die Skrif vir ons sê, dus om alles te toets aan die hand van die onfeilbare Skrif (1 Joh 4:1; HK Sondag 7, vraag 21).
Met dr Helgard se preek wat gehandel het oor twyfel en onsekerheid in gedagte, wil ek die volgende metafoor gebruik om te demonstreer hoe maklik dit is om die persoon van die Heilige Gees, die Onfeilbare Woord van God, in ’n verkeerde konteks te plaas deur ondeurdagte teorieë en doktrines soos genoem in paragraaf een. “Die kerk met die verkeerde adres,” dus die plasing van die Heilige Gees (die Skrif), as die enigste ware adres vir ons geloofontmoeting en -oortuigings, onder die veranderlike invloed van liberale en sekulêre sienings en vertolking, ’n verkeerde “adres”.
Daarom is dit noodsaaklik dat ons ten alle tye ons geloofsbril moet opsit, veral as ons met geloofskwessies gekonfrontreer word. Dus, wat is ’n “Geloofsbril”? Dit is die geestelike lens waardeur ’n Christen die werklikheid interpreteer op grond van God se Woord (Heilige Gees-Bybel), waardes, en wil. Wat dit behels:
- Wêreldbeskouing: Jy sien die wêreld as deur God geskape en onder sy soewereine beheer (Gen 1 – 2; Jes 45:21).
- Morele rigting: Jy oordeel reg en verkeerd volgens Bybelse beginsels, nie wêreldse norme nie (Spr 14; Matt 7:16; Joh 7:24).
- Lyding en sin: Jy soek God se doel, plan, en die gawe van die Gees, in omstandighede, eerder as om bloot na toeval en liberale uitsprake te kyk en luister (Jes 55; 1 Kor 12).
- Vertroue in God se karakter en nie dié van die verleidelike mens nie: Jy kyk met hoop, selfs in moeilike tye, omdat jy deur geloof weet God is goed en getrou, dus vertou jy die Heilige Skrif in al jou geloofsvrae (Jes 41:10, 64:4; Fil 4: 6-7).
Daarom is ons “geloofsbril” van onskatbare waarde wanneer ons geloofsvrae het, kwellinge of beproewinge ondervind, want ons moet besef: Die Skrif is ten volle geïnspireer deur die Heilige Gees. Elke persoon wat daar geskryf het of wat deel uitgemaak het van die Skrif, was geïnspireer deur die Heilige Gees (2 Tim 3:15-17; 2 Pet 1:11-21). Met ander woorde, Die Bybel, die Skrif, is God se Woord.
