As ons dink aan Koninkrykstyd in die kerklike jaar, dan word ons opgeroep om te doen. Om aktief te wees.
En hierdie doen, behels dat ons vanuit ’n spesifieke oortuiging begin optree. Die Taakspan Miga 6 vers 8: Vir versoening en geregtigheid, help ons om ons oortuiging te begin met die idee dat ons nie slagoffers is nie. Die derde aflewering in die preekreeks “So ook op die aarde” handel dan juis hieroor. Ds Rudi Swanepoel van Aan die Berg NG Kerk som die boodskap soos volg op: Een van die harde realiteite van die lewe is dat ek en jy op een of ander stadium aan die ontvangkant van verraad, geweld, leuens (of talle ander ellendes) gaan wees. Die lewe is gewoon onregverdig.
Viktor Frankl, die skrywer en psigiater, moet een van die mense wees wat al die meeste aangehaal is in preke wat oor lyding gaan, en met goeie rede! Frankl skryf immers dat hoewel ons nie kan kies wat met ons gebeur nie, ons ons reaksie daarop kan kies.

In hierdie preekvoorstel gaan maak ons ‘n draai (soos Karl Barth voorgestel het) in ons eie konteks (een waar talle groepe – nie net in Suid-Afrika nie – aanspraak maak op regstellende behandeling OMDAT hulle onregverdig hanteer word) en dan in die Woord.
Ons word gewaarsku teen die verlamming van slagoffermentaliteit: wanneer ons toelaat dat ons lot amper bepaal word deur die onreg wat ons voel aan ons gedoen is.
Die fokusteks is 2 Kor 4, met ‘n sterk fokus op ons roeping om draers van hoop te wees.
Laai die preekreeks HIER af.
