Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Johann Theron van Kraaifontein skryf: By die Wes-Kaapse Sinode in 2023 het die Taakspan vir Publieke Getuienis ’n voorstel ingedien: “Die Sinode van Wes-Kaapland neem die geloofstap om op grond van die Skrif, die Belydenis van Belhar te aanvaar en te bely as vierde belydenisskrif.” In die taakspan se motivering noem hulle dat daar reeds twee-derdes van die Wes-Kaapse Sinode en die kerkrade in die Wes-Kaapse Sinode vir Belhar gestem het in die Artikel 1 stemproses.
Daar is op die laaste dag van die Wes-Kaapse Sinode 2023 uitgewys dat daar egter nie twee derdes van die kerkrade in die Wes-Kaapse Sinode vir Belhar gestem het nie. Interessant genoeg was die aard van die Artikel 1 stemproses sodanig dat die kerkrade eers ’n besluit moes neem oor Belhar, dan moes die kerkraad hulle besluit na die gemeente neem en daarna ’n finale besluit neem. Toe die kerkrade in die Wes-Kaapse Sinode die “eerste stem” uitgebring het, was daar 82,3% (ver bo twee derdes) van die kerkrade wat aanbeveel het dat Belhar deel word van die belydenis. Nadat die gemeente gestem het, moes die kerkrade die stem egter aanpas sodat slegs 58,4% van die kerkrade finaal daarvoor gestem het (wat onder die twee derdes is). Twee derdes van die kerkrade het dus, voor die gemeente se insette, Belhar aanbeveel.
In ’n gereformeerde kerk wat stem oor ’n belydenis, kan daar slegs Skriftuurlike redes wees om daarteen te stem. As die ouderlinge en diakens dan op Skriftuurlike gronde saam met die Wes-Kaapse Sinode 2011 met twee derdes vir Belhar was, watter Skriftuurlike gronde is deur die gemeentes aangebied om “Nee” te stem? Indien daar nie Skriftuurlike gronde by wyse van approbasie aangebied is nie, is daar ’n persentasie van 82-58= 24% verset teen die gesag van die Woord.
Aangesien die vyf sinodes (op daardie stadium Kaap, Vrystaat, Transvaal, Natal en Suidwes-Afrika), wat in 1962 “verenig” het, ook nie ’n 75% meerderheidstem kon kry om werklik een te word volgens die vereistes van die Verenigingsakte van 1911 nie, is die huidige 10 sinodes slegs aan mekaar gebind met ’n kerkorde artikel (44) waaroor slegs vyf sinodes, ook sonder die stem van die gemeentes, in 1962 besluit het.
Die eenheid van die NG Kerk is dus regsonseker, want dit is na regte slegs ’n sinodale samewerkingsooreenkoms. Om in hierdie soort eenheid, die aanvaarding van ’n belydenis, wat reeds as Skriftuurlik beoordeel is, te laat veto deur ander sinodes en aan ’n blote stemming te onderwerp, is in stryd met ons gereformeerde belydenis al is dit in kerkorde-artikels vasgelê. Die Kaapse Sinode se verbintenis tot die kerkorde en eenheidsverband met die ander sinodes in 1962 was deur ’n tweederdestem van die Kaap Sinode alleen verkry, sonder ’n stemming van kerkrade en gemeentes. Dit dra dus dieselfde gewig as die aanvaarding van Belhar deur die Wes-Kaapse Sinode in 2011 – ook deur ’n tweederdemeerderheid van die sinode alleen.
Indien die Woord en Belydenis werklik die hoogste gesag in die NG Kerk sou dra, is die Wes-Kaapse Sinode meer een met die VGK as met die veto-sinodes.
