Constantiakruin-gemeente het in Julie vanjaar hulle vierde CK Winterkunstefees aangebied. “Daar is nie nog so ’n geleentheid aan die Wes-Rand wat soveel diversiteit bevorder tussen verskillende rasse in een gemeenskap nie,” sê die organiseerders. Hendrien van Vliet het namens Kerkbode gaan kyk.
Dit het begin met ’n probleem. Hoe kry hulle weer voete terug op die perseel ná die Covid-pandemie? In 2021 het Constantiakruin-gemeente, ’n NG gemeente aan die Wesrand van Johannesburg, met ’n plan vorendag gekom om die probleem te probeer oplos: ’n koorfees. Dit het nie bloot gegaan oor om die gemeentelede terug te kry nie, maar hoe hulle betrokke kan wees in ’n gemeenskap wat emosioneel swaar trek.

Dr Wicus van der Merwe, ’n leraar by die gemeente en hoof van kerklike opleiding by Tukkies se kuratorium, is een van die oorspronklike organiseerders, saam met die gemeente se musiekkoördineerder, Janus Venter. Hulle het begin met 14 kore wat optree oor twee aande. Vanjaar het hulle 32 kore gehad wat opgetree het, almal skool- en gemeenskapskore aan die Wesrand. Die fees het van 28 tot 31 Julie plaasgevind en ongeveer 4 000 mense besoek die perseel oor só ’n week.


Wat hierdie fees spesiaal maak, vir my in elk geval, is dat dit ’n gemeenskapsprojek is. Dit is nie net die gemeente wat inspring nie, alhoewel hulle behoorlik inspring! Meer as 70 vrywilligers help gedurende die fees. Nog omtrent 20 tieners help by die snoepie, of by die afsonderlike dienspunte. Gemeenskapsorganisasies help ook. Die ATKV se Arendsnes-tak bak die pannekoek (ongeveer 1 600 pannekoeke per aand) saam met die gemeente en die wins word 50-50 verdeel. Daar is ’n kunsgalery tydens die pouse, waar mense tyd kan vertoef. ’n Plaaslike fotograafspan vang die oomblikke van kameraadskap vas en jy kan jou kiekie na die tyd gaan koop (teen ’n minimale fooi). Voor die vertoning en tydens die pouse is daar advertensies wat op die bord verskyn van ondersteuningsgroepe waar jy kan inskakel, byvoorbeeld Divorce Care, Griefshare, ’n geestesgesondheidondersteuningsgroep, ’n noodgevallegroep en die lysie gaan aan. In hierdie geval is dit nie net in woorde wat die gemeente betrokke is in die gemeenskap nie, maar in dade. Enigiemand is welkom om by die groepe aan te sluit, jy hoef nie ’n lidmaat te wees om toegang daartoe te kry nie.


Hierdie jaar is die fees georganiseer deur diensleraar ds Leandra Seyfferdt, wat verantwoordelikheid neem vir jeug in die gemeente. Ek kan nie dink dat dit ’n maklike taak is om agt kore op ’n aand besig te hou, elkeen in ’n eie lokaal, seker te maak almal is waar hulle moet wees, én beskikbaar te wees as iets fout gaan nie. Maar die aande het vlot verloop, te danke aan uitstekende organisering. As elke diensleraar woeker soos Seyfferdt, is die kerk van die toekoms in goeie hande.
Indien ’n mens wonder wat die plek is van ’n gemeente in ’n gemeenskap, dink ek hierdie is een voorbeeld van hoe dit kan werk. Om ’n breër gehoor te bereik, nie net met eredienste nie, maar in verhoudings bou met organisasies, skole en netwerke rondom jou. Kerkwees vandag in Suid-Afrika, beteken dat ons nie meer die luuksheid het om net na ons eie kring om te sien nie. Om op hierdie manier te wys dat die kerk ’n veilige ruimte kan wees vir kinders van alle agtergronde, en vir hulle ouers ’n spasie beskikbaar te stel om te kom praat oor probleme en uitdagings, is van kardinale belang.
Dit het begin met ’n moeilike uitdaging, en het gegroei tot ’n mooier uitdaging. Van hoe kry ons voete terug op die perseel, tot hoe is ons gemeente in hierdie gemeenskap, nie net vir gemeentelede nie, maar vir almal? Die voete het daarna vansself gekom.
Ds Hendrien van Vliet is ’n leraar by NG Kerk Kempton-Hoogland.
