Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Preekreeks: Wat laat ons vir die volgende geslag na?

Elke geslag ontvang bagasie, goed én sleg van die vorige geslag. Amper soos ’n aflos-stokkie. Of ’n sak met bagasie. En elke geslag gee ook weer iets aan na die geslag wat ná hulle kom, skryf Piet Retief van die NG gemeente Garies. Die vraag is, wat gaan ons aan- en oorgee? Vrees, of hoop?

 

LEES OOK: TEOLOGIESE TOERUSTING: ‘SO OOK OP DIE AARDE’-PREEKREEKS

As ons na ons onlangse geskiedenis kyk, dan het ons ’n klompie goeie goed die afgelope 30 jaar gedoen en beleef. Ons het egter ook ’n paar foute gemaak en een daarvan is dat ons nog nie genoeg gedoen het om ons verledes, beide individueel en kollektief, op ’n effektiewe en opbouende manier hanteer het nie. In baie opsigte, kies party mense vandag steeds om vanuit ’n plek van vrees op te tree en die blame-game te speel, as vanuit ’n plek van hoop, maar dit is nie die taal van die Evangelie nie, is dit?

Ivan Boszormenyi-Nagy, die Hongaarse psigiater, help ons om te sien dat ons ’n verantwoordelikheid het teenoor die vorige- en volgende geslagte-’n verantwoordelikheid wat ons nie durf ignoreer nie. Gaan ons bloot dít oorgee wat ons ontvang het, of gaan ons aktief werk om die vrees in óns generasie in hoop te verander, sodat dít ons nalatenskap aan die volgende geslag gaan wees?

Die Evangelie help ons om nie vanuit ’n plek van vrees nie, maar vanuit ’n plek van hoop te reageer en op te tree met betrekking tot dit wat gebeur het in die verlede, maar ook wat tans aan die gebeur is in die wêreld waarvan ons deel is. Ons hoef natuurlik ook nie altyd reaktief te wees nie, maar kan vanuit ons hoop pro-aktief optree.

As ons kyk na die woorde van die Nigeriese digter Ifeanyi Menkiti, wie skryf dat ’n mens in Afrika kan faal om ’n mens te wees in die ware sin van die woord, want in Afrika word ’n mens nie soos elders in die wêreld gedefinieer aan dit wat jy doen of bereik nie, maar deur die kwaliteit van jou interaksies en verhoudings, dan besef ons die gewig van die verantwoordelikheid wat ons het om nou verhoudings te bou wat ’n beter toekoms gaan verseker.

En dit begin deur die Bybelse beginsel van GESED, goedheid, soos gevind in 2 Samuel 9. (Eksegetiese opmerkings kan hier gevind word.)  Ons word geroep om goedheid teenoor ander te bewys, om so die kwaliteit van ons verhoudings met God, met mekaar en met onsself te versterk en te verdiep.

Met die onlangse afsterwe van pous Franciskus, het die wêreld weer gehoor hoedat hy in lewe graag vertel het van die eenvoudige gebed wat sy ouma hom van kleins afgeleer het: “Jesus, maak my hart meer soos U s’n.”

Kan jy dink watter getuienis dit kan wees as ons hierdie gebed ons eie maak?

Jesus, maak my hart meer soos U hart?

Jesus, laat ek goedheid bewys soos U het?

Jesus, laat my doen wat goed is?

Here, laat my hoop bo vrees kies.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top