Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Sorg in ’n knyptang: Hoe herstel ons Suid-Afrika se sorgsisteme?

Ons kan nie net by ’n welsynparadigma bly stilstaan waar instansies geld ontvang en dienste lewer nie. Hulle moet leer om onafhankliker en meer innoverend te werk, skryf Frederick Marais.

 

Ek het onlangs in die media gelees van ’n bejaarde wat by ’n ouetehuis geval en twee uur lank op die grond gelê het voordat versorgingspersoneel by hom uitgekom het. 

Dit is ’n hartverskeurende verhaal, en ’n mens het begrip vir die familie se woede. Ekself was diep ontwrig vanuit my eie en familiegeskiedenis, maar ook vanweë my betrokkenheid oor dekades by organisasies wat sorg verleen in ons samelewing. My eintlike besorgdheid lê daarin dat ek voorsien dat ons al hoe meer van hierdie berigte in die media gaan sien. Die rede is, sorgsisteme in Suid-Afrika is in ’n knyptang.

 

Die drievoudige druk op sorgsisteme

Die druk is drieledig van aard. In die eerste plek het staatsubsidies vir sorgsisteme die afgelope tyd dramaties afgeneem en die afname het sedert 23/24 versnel. In die tweede plek het buitelandse befondsing nog meer dramaties verminder. Die Amerikaanse regering het alle befondsing van hulpleniging gestaak, en Europese lande het hulle hulp met gemiddeld 30% gesny. Duisende mense in die sorgstelsel het as gevolg hiervan hulle werk verloor en dienste moes gestaak word. Minder mense om te sorg. Derdens, minder mense kan dit bekostig om privaat vir sorg te betaal. Enige betrokkenheid by sorgorganisasies sal gou wys dat die hoeveelheid families wat kan betaal vir die sorg van hulle familielede, verminder.

 

Stygende nood in die samelewing

Terselfdertyd neem die nood in ons gemeenskappe toe. Jongmense wat werkloos en sonder aanstelbare vaardighede afstudeer, raak al hoe meer. Binne die volgende tien jaar gaan die aantal ouer mense verdubbel. Daar is eenvoudig nie geld om nuwe ouetehuise te bou of genoeg personeel aan te stel nie. Ook gesinne wat hulle eie ouers en grootouers wil versorg, het minder beskikbare inkomste om ouetehuiskoste te dra. Die werklikheid is dat ons langer leef, en daarom moet die geld wat vir sorg beskikbaar is, nou oor ’n veel langer tydperk gerek word.

Hierdie is die klassieke knyptangsituasie: befondsing krimp, maar die nood neem toe.

 

Wat is die uitweg?

By die Skool vir Sosiale Innovasie (Hugenote Kollege) is ons fokus onder andere op sorgsisteme, en ons sien hierdie tendense al lank, maar is bekommerd dat die druk verdiep. Ons kan as gelowiges eenvoudig nie wegkyk of net ander blameer nie, maar moet onsself bemagtig om iets hieraan te doen. Ons werk daarom hard om saam met ons vennote in die sorgsektor te kyk na alternatiewe planne of sosiale innovasie. Die uitdaging is kompleks en daarom is daar nie een antwoord wat alles gaan regmaak nie. ’n Kombinasie van die onderstaande sal ondersoek moet word.

 

  1. Die staat moet haar verantwoordelikheid aanvaar

Die drastiese afname in staatsbefondsing kan eenvoudig nie net gelate aanvaar word nie. Die regering het ’n grondwetlike en morele plig om sorgsisteme te befonds en kwesbare mense te beskerm. Oorsig oor die besteding van geld wat bewillig word vir die sosiale sektor moet voortgaan en verskerp en plaaslike leiers moet hulleself bemagtig om dit deurlopend te doen.

 

  1. Sorgsisteme moet self meer volhoubaar word

Ons kan nie net by ’n welsynparadigma bly stilstaan waar instansies geld ontvang en dienste lewer nie. Hulle moet leer om onafhankliker en meer innoverend te werk. ’n Onlangse publikasie van die Skool vir Sosiale Innovasie, Caribuntu (CLF 2023) het gewys dat daar wel organisasies is wat dit regkry. Hou in gedagte dat hierdie nuwe vaardighede en ingesteldhede is wat gekweek sal moet word.

 

  1. Samewerking en netwerke is onmisbaar: Leer om te leer by mekaar

Ons is dankbaar vir liggame soos die KMDR wat kerk- en maatskaplike dienste in ’n netwerk bymekaar bring. Só kan instansies van mekaar leer om uit die knyptangsituasie te begin kom. Die gevaar wat ons sien is dat gemeenskappe en gemeentes geneig is om plaaslik te probeer help, sonder om die groter prentjie en langtermyn volhoubaarheid in ag te neem. Help plaaslik, maar leer by en saam met ander.

 

  1. Die staat, besigheid en die sosiale sektor moet leer saamwerk

Sorginstansies moet leer om met die staat- en besigheidsektore saam te werk. Ons weet dit is nie altyd maklik nie, maar in die staat en in besigheid is daar mense met ’n roeping om die samelewing te dien. Gaan soek hulle en bou verhoudings met hulle. Suid-Afrikaanse ondernemings het ’n sosiale verantwoordelikheid en kan plaaslik baie beteken deur projekte of befondsing te ondersteun. Daar is al talle voorbeelde van hoe samewerking tussen besighede en sorginstansies groot verskil gemaak het.

Geborg

 

’n Beeld van hoop

Na ek die berig oor die oupa gelees het, het ek gaan draf in ons pragtige vallei, en afgekom op ’n spinnerak wat waarskynlik oornag in die mis geweef is. Dit het my herinner: ’n sorgsisteem is soos ’n spinnerak – fyn, delikaat en kwesbaar maar tog verstommend sterk. As ons saam daaraan bou, stuk vir stuk, kan dit sterk en draend word.

Die uitdaging is groot, maar dit is nie onmoontlik nie. Met verantwoordelike staatsoptrede, innoverende sosiale instellings, netwerk bou en samewerking oor grense heen, kan ons Suid-Afrika se sorgsisteme herbou – en daarmee die lewens van ons kwesbaarste mense beskerm.


Dr Fredereick Marais is Dekaan: Skool vir Sosiale Innovasie by Hugenote Kollege op Wellington.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top