Wat kan ons as verbruikers doen om wal te gooi teen die vernietigende impak van “fast fashion”? Fay van Eeden berig.
Vir die hoeveelste maal vandag verskyn ’n SHEIN-advertensie op die skerm voor my. Ek dink aan die Franse wat vroeër die jaar ’n wet teen kitsmodes ingestem het. Die nuwe wetgewing is daarop gemik om die omgewings- en sosiale impak van kitsmode te beperk deur onder andere beïnvloeders (influencers) te verbied om kitsmode-handelsmerke te bevorder. Die nuwe wetgewing poog ook om maatskappye met groot omgewingsvoetspore met hoë belastingtariewe te penaliseer, en vereis dat produsente inligting oor hulle produkte se herstel- en herwinningsopsies verskaf.
Die krisis van kitsmode
Die term kitsmode (fast fashion) verwys na goedkoop vervaardigde en geprysde kledingstukke wat die nuutste loopplankstyle naboots en vinnig na winkels versprei om die huidige modetendense uit te buit. Kitsmode word so genoem omdat dit die vinnige ontwerp, produksie, verspreiding en bemarking van klere behels. Dit beteken dat handelaars groot hoeveelhede produkte kan bekom wat verbruikers in staat stel om kledingstukke teen baie lae pryse te koop.
Die term is die eerste keer gebruik toe Zara in die vroeë 1990’s in New York aangeland het. Die term “kitsmode” is deur die New York Times geskep om Zara se missie, om kledingstukke van die ontwerpstadium tot op die winkelrak in net 15 dae te hê, te beskryf. Die grootste spelers in die kitsmodewêreld is onder andere Zara, Shein, UNIQLO, Forever 21 en H&M.
Wat is die modebedryf se impak op die omgewing?
Volgens die 2015-dokumentêr The true cost verbruik die wêreld elke jaar ongeveer 80 miljard nuwe kledingstukke, 400% meer as die verbruik twintig jaar gelede. Die gemiddelde Amerikaner genereer nou amper 40 kg tekstielafval elke jaar.
Volgens ’n ontleding deur Business Insider, is modeproduksie verantwoordelik vir 10% van die totale wêreldwye koolstofvrystellings – dieselfde hoeveelheid koolstof wat deur die hele Europese Unie gegenereer word. Dit word beraam dat 85% van alle tekstiele elke jaar in stortingsterreine beland. Selfs die was van klere stel elke jaar 500 000 ton mikrovesels in die see vry, die ekwivalent van 50 miljard plastiekbottels. Die modebedryf is die tweede grootste verbruiker van water, wat ongeveer 700 liter benodig om een katoenhemp te produseer en 2 000 liter water om ’n paar jeans te produseer. Business Insider waarsku ook dat tekstielverf die wêreld se tweede grootste besoedelaar van water is, aangesien die water wat oorbly na die kleurproses dikwels in slote, strome of riviere gestort word.
Verder neem sintetiese vesels soos poliëster, nylon en akriel honderde jare om af te breek. In hulle verslag beraam die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUCN) dat 35% van alle mikroplastiek in die wêreld se oseane afkomstig is van die was van sintetiese tekstiele soos poliëster. Daarby is die produksie van plastiekvesels in tekstiele ’n energie-intensiewe proses wat groot hoeveelhede petroleum benodig en gasse en sure soos waterstofchloried vrystel. Daarbenewens is katoen, wat in ’n groot hoeveelheid kitsmode-artikels voorkom, ook nie omgewingsvriendelik om te vervaardig nie. Plaagdoders wat as noodsaaklik geag word vir die groei van katoen, kan ook gesondheidsrisiko’s vir mense inhou.
Wat kan ons as verbruikers doen?
- Koop klere by tweedehandse winkels
Tweedehandse inkopies is ’n eenvoudige en bekostigbare alternatief tot kitsmode. Tweedehandse winkels bied nie net klere teen meer bekostigbare pryse as kitsmodemaatskappye nie, maar ook sonder skade aan die omgewing of werkers. Deur klere aan tweedehandse winkels te skenk help jy hierdie winkels om ’n wyer reeks opsies te bied vir verbruikers wat nie andersins etiese en volhoubare mode elders kan bekostig nie.
- Koop, verkoop en ruil klere aanlyn
’n Verskeidenheid toepassings en webwerwe maak dit vir modeliefhebbers moontlik om tweedehandse klere te koop sonder om ’n tweedehandse winkel persoonlik te besoek. Toepassings soos Yaga maak dit deesdae vir verbruikers eenvoudig en veilig om tweedehandse klere aanlyn te koop en te verkoop. Baie verbruikers verkies om eerder gebruikte klere op sosialemediaplatforms, soos Facebook Marketplace en Instagram, te koop as om kitsmodehandelsmerke te ondersteun.
- Ondersteun plaaslike ontwerpers en winkels
Plaaslike handelsmerke soos SELEFI, Hemp Love en Sitting Pretty bied bekostigbare, omgewingsvriendelike klere. Bly op die hoogte van Suid-Afrika se groenmodetoneel deur die webwerf Twyg. Hulle deel gereeld volhoubare modewenke.
- Koop tydlose, goeiegehalteklere
In stede van goedkoop, lae gehalte kitsmode-items wat vinnig verslyt, koop eerder ’n paar hoë gehalte, tydlose stukke wat seisoen na seisoen gedra kan word.
- Leer hoe om klere te maak en te herstel
Die maak en herstel van klere is ’n bekostigbare, volhoubare en etiese alternatief tot die kitsmode.
As ’n verbruiker is daar baie alternatiewe tot kitsmode, maar nog belangriker, verbruikers het die mag om blywende en betekenisvolle verskuiwings in die modebedryf te skep. Deur meer bewustelik inkopies te doen kan ons ’n verskil maak.
Ds Fay van Eeden is predikant by die Stellastraat-gemeente in Pretoria.
