Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ek wou weet hoe ’n stadsgemeente in die ooste van Pretoria betrokke geraak het by ’n geïsoleerde gemeenskappie tussen die Kalahariduine, skryf Annabelle Lombard.

Gemeente van Pretoria se band met Khomani San: Uitreik kan nie net ’n ‘hit & run’ wees nie

Die gemeente van NG Elarduspark het ’n spesiale verbintenis met die Khomani San- gemeenskap in die Noord-Kaap. Hierdie groep wat na hulleself as Boesmans verwys, is ongeveer 30 jaar gelede verskuif uit die gebied van die Kgalagadi-oorgrenspark. Vandag bly hulle in ou plaashuise en informele nedersettings tussen die duine naby die dorpie Askham net buite die Botswanagrens – ongeveer 200 km noord van Upington. Annabelle Lombard vertel meer. Foto’s: Verskaf. 

“Dit is vir ons gemeente die grootste voorreg om elke jaar in die Oktobervakansie na hierdie gemeenskap in die Kalahari uit te reik,” vertel dr Lieze Meiring, die uitreikspan se geestelike leier. Dit is nie eens nodig vir tolke nie, want hulle praat Afrikaans. Daar is nog net ’n paar ouer garde wat die Santaal vlot kan praat, want die 250 000 jaaroue taal is op die rand van uitsterwing. Daar is geen leraars of ouderlinge nie en die oumas – die groep se matriarge – dra die geloof oor deur Bybelstudies. Die naaste kerk is baie ver en daar is byna geen vervoer nie. Teen Lieze se kantoormuur hang ’n kunswerk deur een van die gemeenskappie se vroue:

‘Die Boesman se Onse Vader’

Onse Vader wat doer êrens vêr bo in die bloulug is,
op diese warm dag wil ikke op my se knieg tot U kom bid
lat U se koningkap tog by ons kom
en lat U se grootheid hier tissen ons staan gemaak kan worre,
en lat U se wil gebeure doer bo by U rond,
net so gebeur hier by ons Boesmaland se grond.

Gee ons vandag onse tjamimpie kos
en vergewe ons, onse sondige gemors,
sos ons die ander minse sin vergeef.
Here lat die kwaad doen goedters wye draaie om ons loop
en gee tog samblief Here lat die duwel nie naby kom nie.

Die minse doen sulke lelike goeters teen my,
maar help tog samblief dat ek dit nie sal raak sien nie,
dan sal U ook nie myne raak sien nie.

U is vir altyd en vir altyd.
Amene my Groot Kroon

Boesie Saaa Rosa

Ek wou weet hoe ’n stadsgemeente in die ooste van Pretoria betrokke geraak het by ’n geïsoleerde gemeenskappie tussen die Kalahariduine?

Die uitreik het byna 20 jaar gelede begin. Twee van NG Elarduspark se lidmate, Martinus Horak en sy vrou Gail, het ’n verhouding met die Khomani San gekweek. Martinus is ’n chemikus en in sy loopbaan het hy altyd gepoog om nuwe medisinale stowwe in inheemse plante op te spoor en na te vors. Hy het na plaaslike gemeenskappe soos die Komani San van Askham gegaan en sedert 2001 het hy gereeld met hulle leierskap vergader en ooreenkomste vir samewerking bespreek.

Hy het ontdek dat die groep een van die armste gemeenskappe in Suid-Afrika is. Hulle besit omtrent niks nie en daar’s baie min werksgeleenthede in die omgewing. Die Khomani San is geweldig afgeleë en hulle het nie toegang tot noodsaaklike lewensmiddele soos kos en water en klere nie. Martinus-hulle het die kerk aangemoedig om sedert 2006 ’n jaarlikse uitreik daarheen te organiseer om vir die mense te wys hulle gee om en ondersteun hulle.

“Kom kuier net vir ons”

In die beginjare het “die boere” soos hulle die uitreikspan noem, vreeslik baie skenkings saamgevat, maar veral Martinus was baie sensitief om nie verwagtings te kweek nie en waarsku veral teen allerhande beloftes wat mense maak en dan verdwyn. “Ons het op ’n stadium gevra wat hulle grootste behoefte is, en toe uitgevind hulle wil eintlik net hê ons moet kom kuier – en dit is wat ons gedoen het. Ons doelwit vanjaar was om te gaan omgee. Dit gebeur ook deur die programme wat ons aanbied, maar die groot ding is dat ’n vriendskap met die gemeenskap oor jare een gevorm en gekoester word. Lieze sê: “Ek dink die belangrike ding van hierdie uitreik is dat dit jaar na jaar gebeur en die mense wag al vir ons.”

Die span se samestelling wissel. Vanjaar was dit ’n kleiner uitreik as gewoonlik met 20 spanlede. Hulle het die studente gemis, want die skool- en universiteitsvakansie het nie saamgeval nie. Die studente is goeie rolmodelle vir die tieners in die gemeenskap. Vanjaar se programme het handvaardigheid ingesluit vir die vroue en ’n program vir die manne waartydens hulle ’n bietjie saam kon gesels oor hulle uitdagings. Daar is ook ’n groot kinderprogram wat aangebied is. ’n Organisasie het vir die eerste keer ‘n behoorlike kleuterskool vir die gemeenskap gebou en die uitreikspan het die kleuterskool gaan inwy. Hulle het die mooiste gordyne en kussinkies vooraf gemaak en ’n heerlike kleuterskoolpartytjie saam met die mense gehou.

Hulle hou ook kerkdienste saam, hulle sing en bid saam en doen huisbesoeke – wat die mense ook baie waardeer. “Ons het hierdie jaar vir hulle linne saamgevat. Ons het agtergekom dit is ’n ding wat al die mense van die shacks in die duine graag wil hê.

Hulle het ook ’n program vir die diere. Hulle vat kos saam, want daar is byna niks vir die diere om te eet nie. Hulle doen ook ’n bietjie ontwurming. Met ’n vorige uitreik het ’n veearts saamgegaan en dit was lekker, want sy kon dan kyk na die mense se honde, katte, donkies en bokke en leer die gemeenskap: ons sorg ook vir ons diere.

Die groot niks

“Dit is nogal ’n duur uitreik as gevolg van die groot afstand en die enigste verblyf is op ’n toerismeplaas daar naby. Dis baie warm en dit is erg om tussen die duine te loop waar ons die mense besoek en die niks te sien. Die niks waarvan mense ’n lewe maak. Dis ook aangrypend om ten spyte daarvan, groot dankbaarheid te sien.

Nog ’n uitdaging is ook om te sien daar is groot maatskaplike probleme. Daar is ’n groot taverne, wat eintlik die enigste mooi gebou is in daai omgewing en die jongmense gaan drink daar, omdat hulle niks anders het om te doen nie.”

Die Here se genade is reeds daar

”Ek dink vanjaar was die hoogtepunt weereens om saam met mense wat op so ’n afgeleë plek bly, die Here te aanbid. Ons kon met mense gesels oor sy liefde en sy genade. En dan die konneksie wat ons met die mense het. Al verskil ons so baie – ons kom van die stad af en hulle bly daar. Hulle het eintlik amper nie eens water om te drink nie. Dit is erg, maar daardie konneksie waarvan die Here die middelpunt is – dit is kosbaar.

Vir die span was dit wonderlik om die Here se genade vir alle mense te sien. NG Elarduspark se roeping is die liefde van God, oor alle grense heen, vir alle mense en dit is wat hulle daar beleef. Wanneer ons daar kom, weet ons die Here is reeds daar en ons ervaar sy genade ook by die mense. Die liefde waarmee hulle ons ontvang is wonderlik.”

’n Spanlid getuig: ”Dit was vir my ’n besonder emosionele ervaring. Ek het beleef dat die Khomani-mense so min het, maar dat hulle diep binne hulleself gelukkig is en tevrede is met wat hulle het.”

Nog ’n spanlid skryf poëties: “Daar’s nie baie water nie en dit wat daar is, is ondrinkbaar sleg, maar as die mensies sing is dit soos soete reëndruppels wat ’n dorre siel sopnat maak! Dis so lekker om saam met hulle musiek te maak, ’n mens wil net aanhou sing!”

Jy bring nie die Here daar aan nie

Indien jy ook betrokke wil raak by hierdie, of enige ander uitreik, is Lieze se raad om net saam te gaan. “Geen ondervinding is nodig nie, maar dit is baie belangrik om nie net een keer te gaan nie. Uitreik kan nie net ’n hit & run wees nie. Dit gaan oor ’n verhouding wat jy bou met die mense daar. Jy moet mense se name leer ken en hulle uitvra oor hulle lewe daar. Jy moet besef dat die Here alreeds besig is om daar te werk. Jy bring nie die Here daar aan nie. Hy is reeds daar en jy skakel in by sy plan wat hy vir die mense daar het. Jy moet oop wees vir die Here en nie daar in kom en dink jy weet alles en jy het al die antwoorde nie. ’n Mens moet regtig in groot nederigheid gaan en weet dat daardie mense dalk nog dieper ervarings van die Here het as wat jy al ooit gehad het. Wees daar, wees tussen die mense, luister na hulle en aan die einde mag jy dalk iets van jou storie met die Here ook met hulle deel.”

Pasop net vir die “erdmanne” soos wat die Boesmans die meerkatte noem en waarsku: “Hulle steel jou goed en is slimmer as mense!” Aan die einde van so ’n uitreik geniet die span die tradisie om saam te gaan kyk hoe die son sak op Kooppan – een van die soutpanne daar – en braai dan vir oulaas saam en deel hulle ervarings om die vuur. Die ongerepte natuurskoon en die hartlikheid van die Khomani San is betowerend.

As jy volgende jaar wil saamgaan, kontak Lieze by 012 345 1144.


Annabelle Lombard is verbonde aan Skuilkrans NG Gemeente as onderlingesorg- en kommunikasiebestuurder.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top