Daar is al die afgelope meer as 15 jaar volgehoue aanvalle op Christene aan die gang in Nigerië, volgens biskop Wale Oke, president van die Genootskap van Pinksterkerke in Nigerië. Fanie Heyns doen verslag.
“Die Christendom in Nigerië ervaar ’n eksistensiële bedreiging,” het Donald Trump, president van die Verenigde State van Amerika, in ’n verklaring in die Withuis op 5 November gesê.
“Duisende Christene word doodgemaak. Radikale Islamiste is verantwoordelik vir hierdie massaslagting. Nigerië (word verklaar as) ’n land van sonderlinge belang (Engels: a country of particular concern),” het pres Trump bygevoeg.
Het die Amerikaanse president na strooihalms gegryp en hierdie feite uit die lug gegryp met sy stelling dat Christene aan ’n massaslagting onderwerp word in hierdie Wes-Afrikaanse staat?
Mike Burnard, direkteur en spesialisontleder van Dia-LOGOS, ’n globale netwerk van ervare sendingspesialiste, wys daarop dat daar in die eerste sewe maande van vanjaar 7 087 Christene in Nigerië vermoor is, terwyl 7 800 Christene in dieselfde periode ontvoer is, meestal deur Jihadistiese groepe soos Boko Haram en Fulani-militante.
Meer as drie miljoen mense, meestal Christen-gemeenskappe, was die slagoffers van gedwonge verskuiwings uit hulle huise in dieselfde periode weens godsdienstige aanvalle.
Elizabeth Botha, media-beampte van Geopende Deure (Suid-Afrika), ’n internasionale bedieningsorganisasie wat vervolgde Christene in 70 lande bystaan, verduidelik die omvang van die Nigeriese Christene se vervolging so: “Tussen Oktober 2011 en September 2024 is daar altesame 41 152 Christene in Nigerië vermoor.
“Van Oktober 2023 tot September 2024 is daar in die wêreld 4 476 Christene vermoor, en van daardie getal was 3 100 Nigeriese Christene.”
Volgens Botha is die kanse dat Nigeriese Christene doodgemaak sal word, 6,5 keer meer waarskynlik as enige ander groep s’n, terwyl die kanse 5,1 keer groter is dat Nigeriese Christene ontvoer sal word as dat enige ander groep in die land aan ’n soortgelyke misdryf onderwerp sal word.
“Jaarliks word 3 775 Christene wêreldwyd ontvoer, waarvan 2 830 in Nigerië gebeur,” sê Botha. “Nigerië is ook die sewende mees gevaarlike land ter wêreld vir Christene om in te woon,” voeg sy by.
Konflik met Fulani-militante
“Altesame 80% van die vervolging van Christene wêreldwyd, kom in Nigerië voor. Die grootste gevaar is Fulani-militante en die Islamitiese staat in die Wes-Afrika provinsie,” het Botha verduidelik.
Tans is 27% van die Nigeriese bevolking in die noorde van die land Christene, en 71% van die inwoners in die Suide is ook Christene. Christene maak 46,5% van die algehele Nigeriese bevolking uit, volgens Botha.
‘Die aanklag van Christen-volksmoord in Nigerië’
Daar is al die afgelope meer as 15 jaar volgehoue aanvalle op Christene aan die gang in Nigerië, het biskop Wale Oke, president van die Genootskap van Pinksterkerke in Nigerië, op 13 November gesê toe hy op die program The Morning Brief van The Channels TV-stasie in Lagos deelgeneem het. “Ons blameer nie die huidige administrasie hiervoor nie, want hulle het dit geërf. Maar ons hou die huidige regering verantwoordelik vir die dood van elke Christen.
Volgens pastoor Oke is verskeie sekuriteitsverslae al voorheen aan Nigeriese regerings oorhandig oor die moorde en bloedige vervolving van Christene, en die regering het glad nie opgetree teen die geweldenaars nie.
“Ons sê daar is Christen-volksmoord, en die Nigeriese president moet ophou om dit te ontken,” voeg Oke by.
Gideon Para-Mallam, president van die Gideon en Fumni Para-Mallam-vredestigting, het op die Morning Brief-program gesê sekere narratiewe word misbruik om skuldige partye se optrede te verontskuldig.
Een van daardie narratiewe is dat Moslems ook vermoor word. “Natuurlik word Moslem-mense ook vermoor, en ons innige simpatie met elkeen van hulle.
“Maar negeer die feit dat Moslem-mense vermoor word, nou die werklikheid dat daar geteikende en volgehoue aanvalle is op Christene in die middel- en noordelike gordel van Nigerië. Trek die aanwesigheid van aanvalle op Moslems nou ’n streep deur die werklikheid dat daar ’n Christen-volksmoord in Nigerië is. Nee,” het Para-Mallam beklemtoon.
Para-Mallam het bygevoeg dat in November daar byvoorbeeld drie geteikende aanvalle op Christene was in die Chikot-staat, net dae nadat president Trump sy aankondiging gedoen het oor wat in die Wes-Afrikaanse staat aan die gang is.
“Daar is byvoorbeeld kerke en huishoudings afgebrand tydens daardie aanvalle.
En in die Plato-staat is daar in die eerste week in November vanjaar 12 Christene doodgemaak,” volgens Para-Mallam.
Biskop Oke het die regering gekritiseer omdat hy ontken het daar is ’n Christen-volksmoord. “Kom ons wees eerlik oor die sterftes van die Christene. Kom ons bedryf nie politiekery oor die bloed van Christene nie,” het hy bygevoeg.
“Die eerste stap na genesing vir Nigeriese mense is dat jy die waarheid moet erken. Jy kan nie kanker ’n hoofpyn noem nie,” het hy bygevoeg.
Deel van die omvattende brandpunte is volgens Oke dat honderde skoolmeisies in die noorde van die land ontvoer is en dan in huwelike ingedwing word met Moslem-persone sonder dat die ouers ooit toestemming gegee het.
Para-Mallam het bygevoeg selfs vroue in Christen-huwelike word ontvoer en dan ontvang hulle mans oproepe van ’n Sharia-hof af dat hulle vroue nou met Moslem-mans getroud is.
Die grondoorsake van die konflik is kompleks
Burnard, in ’n artikel onder die opskrif Nigeria: the complexities of a Christian community under threat, wys daarop dat die twee grootste rolspelers in die huidige Nigeriese konflik die Fulani-herders (hoofsaaklik Moslem) en die Bachama-boere (hoofsaaklik Christene) is.
Die Fulani’s is nomadiese boere van sowat 15 miljoen mense wat ’n groot rol speel in die groei van Islam in Wes-Afrika.
Die Bachama-boere is oorwegend Christen, en is betrokke by skermutselinge met die Fulani-groep oor grondgebied en hulpbronne.
Deel van die uitdaging is dat die Nigeriese noorde al meer ’n dorsland word, volgens Burnard. Altesame 75% van die graslande in die noorde van die land het nou in woestyngebied verander en die aantal reëndae in die noordooste het met 50 % afgeneem, volgens Burnard.
Gevolglik het die Fulani-herders al hoe meer suid beweeg op soek na grondgebied wat reeds bewoon word deur Bachama-boere in die Suide.
Volgens Anietie Ewang van Human Rights Watch het die teenwoordigheid van die militante terreurgroep Boko Haram in die noordweste en gewelddadige voormalige gevangenes in die noordooste ’n sekerheidsprobleem veroorsaak en ook die Fulani-boere al hoe meer na die suide gedwing.
Volgens Eliabeth Kendal, in die Religious Prayer Bulletin, misbruik die Jihadiste en ander Moslem-ekstremiste die Fulani-herders om in hulle beweging suidwaarts Moslem-grondgebied te vergroot ten koste van Christene.
Hulle word as ’t ware as gewelddadige stormramme gebruik deur die Jihadiste, en val soms aan met outomatiese wapens en dra koeëlvaste baadjies en dit is waarom hulle selde gevang word.
Para-Mallam sê Christene in Nigerië word geteiken deur Moslem-ekstremiste “weens ’n onverklaarde beleid om Nigerië te Islamifiseer. Jy kan nie Sharia-wet opdwing aan Christene wat daar woon nie, maar dit is wat hulle probeer doen,” voeg Para-Mallam by.
“Lees jy in die Nigeriese grondwet van 1999 enigiets oor Sharia-wet? Nee. Word na Nigerië in die grondwet as ’n Moslem-staat verwys? Nee. Maar probeer hulle onregstreeks die Moslem-geloof op die res van ons afdwing. Vir seker,” het Para-Mallam gesê.
’n Ander perspektief
Burnard wys daarop dat in gewelddadige konflikte tussen 2019 en 2023 in die Wes-Afrikaanse staat, daar 30 880 burgerlikes dood is en 25 030 lede van die veiligheidsmagte en terreurgroepe. Onder hierdie burgerlikes wat gesterf het, was daar 6 225 Moslems.
Volgens Burnard moet daar gemeld word dat die Fulani-groep ook aan die ontvangkant was van geweld deur die Christelike boeregemeenskappe in die land, hoewel die skaal van die aanvalle op Christene aansienlik groter was en is as die geweld teen Moslems.
Op Christene rus daar egter die verpligting om ’n stem te wees vir almal wat arm en ellendig is, in die woorde van Spreuke 31 vers 8 en 9, maan Burnard.
Ons moet as Christene meer ywerig wees oor die onreg in die Middel-gordel van Nigerië as bloot om te fokus op die vervolging van Christene self.
“As ons bloot die een groep as slagoffer en die ander as die aggressor belig, dra ons by tot die polarisasie van die gemeenskap. Waar onreg gepleeg word, moet Christene hulle stemme laat hoor ongeag stam, ras, godsdiens of nasionaliteit,” het Burnard beklemtoon.
Bystand vir ontwortelde Christene
Volgens Botha is daar in Sub-Sahara-Afrika 16,2 miljoen Christene in vlugtelingkampe, hoofsaaklik in Nigerië.
Afgesien van gebed, en die verskaffing van Christelike literatuur, is Geopende Deure ook betrokke by fisieke noodlenigingsprogramme vir die ontwortelde gemeenskappe, asook dissipelskapapopleiding, traumaberading, regshulp en voorspraak.
Volgens dr Nico Mostert, uitvoerende amptenaar van Vennote in Getuienis van die NG Kerk in die Vrystaat, bly dit die taak van die kerk en lidmate om altyd in gebed te tree vir die vervolgde kerk, maar ook om fisiese en geestelike noodleniging aan die vervolgde kerk te bied.
“Die moeilike taak is om die oorsaak van vervolging aan te spreek, want dit gaan gewoonlik oor onreg en intoleransie van mense wat anders glo as jy self. Die Nigeriese verhaal is ongelooflik tragies maar so ook wat in die Soedan, die Kongo en onder Palestynse Christene gebeur,” het Mostert bygevoeg.
Fanie Heyns is ’n vryskutskrywer.
