Bedieningsontwikkeling is die teenvoeter vir geestelike leiers wat uitgebrand raak, ontoereikend en uit voeling voel met die uitdagings van die tyd. Annabelle Lombard gesels met Tom Smith oor ’n lewenswyse van gestuurdheid.
Dr Tom Smith is hoof van Excelsus, die NG Kerk se Sentrum vir Voortgesette Bedieningsontwikkeling (VBO) in Pretoria en ook gekoppelde leraar by Fontainebleau Gemeenskapskerk.
Hy is een van daardie mense wat elke mens laat voel asof jy ’n kosbare bydrae het om te lewer vir die koninkryk. Sy deur is altyd oop – veral as jy oor roeping of toerusting wil gesels. In my onlangse kuiertjie by hom in die Teologie-fakulteit van UP, ontdek ons dat ons albei eerstejaarseuns het wat hulle eerste dag op kampus beleef en ek ontmoet ook sy seun Liam – ’n teologiestudent.

In die lug is daar is ’n heerlike atmosfeer en jeugdige energie wat aansteeklik is. Ons gesels oor die waarde van persoonlike groei dwarsdeur jou lewe en die genadegawe van ’n leergemeenskap wat jou uitdaag en ondersteun.
Ons praat oor bedieningsvreugde, dissipelmaking en die suiwer vreugde wat opgesluit lê in die oordra van kennis en goeie nuus. As jy net een ander persoon kan beweeg, inspireer of help … En dit is presies wat sy werk by Excelsus elke dag doen.
Hy vertel met groot entoesiasme dat Excelsus een van drie leergemeenskappe is in vennootskap met die NG Kerk se taakspan: VBO. Excelsus is een van die sentra en bedien die sinodes van Hoëveld, Goudland, Oostelike, Noordelike, KZN en die Noord-Kaap. Didasko het laasjaar ontstaan en bedien die Vrystaatse sinode. Communitas bedien die Wes-Kaap se Sinode. Daar is ook ’n nasionale taakspan wat deur elke sinode verteenwoordig word, wat saam beplan en werk aan die kerk se VBO.

Die taakspan het pas sy nuwe prospektus bekendgemaak en gemeentes en leiers kan lank vooraf beplan en begroot vir die groot verskeidenheid opleiding wat die jaar aangebied word. VBO is in sy wese ’n taakspan wat duisende dissipels toerus om beter dissipelmakers te wees. By VBO en sy vennote is toerusting en groei nie net ’n filosofie nie, maar ’n formele program wat leraars, gemeentepersoneel, gemeenteleiers en gewone lidmate toerus met inligting, kennis en praktiese vaardighede in die bediening.
VBO-aktiwiteite sluit in kursusse en werkswinkels; aanlyn leer; konferensies en seminare; mentorskap, leergemeenskappe; retreats en boekbesprekings.
Meer as net VBO-PUNTE
Predikante verdien VBO-punte vir deelname aan goedgekeurde aktiwiteite. Hierdie punte word aangeteken en is ’n vereiste vir die behoud van ampsbevoegdheid. “Maar dit gaan oor baie meer as net punte,” sê Smith. Hy eggo die woorde van prof Malan Nel wat die nasionale taakspan in 2007 op die been gebring en gekoördineer het: “Dit gaan daaroor dat ons aanhou om toegerus te word as dienswerkers om dissipels te maak en self beter dissipels te wees.” Dissipelskap en dissipelmaking het nie ’n eindbestemming waar jy ooit kan arriveer nie. Dit is ’n lewenswyse en ’n ingesteldheid as gestuurde. Vandaar ook die leuse: Gestuur, gevorm, geroep. VBO ondersteun leraars in die bediening en verskaf navorsing en hulpbronne van onskatbare waarde. Hulle oorbrug die skakel tussen die akademie en die praktyk en maak seker die kerk bly dinamies aan die beweeg. Smith voel ook dit is deel van ’n predikant se geskenk aan ’n gemeente om hom- of haarself en die gemeenteleiers toe te rus tot dienswerk.
Leergierigheid in gemeentes
VBO bedien ook nie net leraars nie. Al die navorsing wêreldwyd oor voortgesette bedieningsontwikkeling in kerksisteme dui daarop dat die gemeentes wat floreer altyd deel is van ’n leergemeenskap waar nie net die dominee inligting kry nie, maar wat die hele gemeente insluit.
VBO se raamwerk berus op drie bene: wie ek is en word, wat en hoe ek glo en wie en hoe ek dien (dikwels genoem Etos, Logos, Patos, die Griekse woorde wat verband hou met geloofwaardigheid, rede en emosie). Die leerproses word verdeel in basiskennis, vaardighede, ingesteldheid en oordraagbare gewoontes. As ’n mens loer na Excelsus se jaarprogram kan jy die balans sien tussen beste bedieningspraktyke wat gedeel word met mekaar, toegang tot die nuutste akademiese navorsing en wonderlike geleenthede waar leiers netwerke kan bou en verryk en verfris kan word om met nuwe entoesiasme en energie te kan terugploeg in hulle bedienings.

Bewustheid en betrokkenheid
Bedieningsontwikkeling is die teenvoeter vir geestelike leiers wat uitgebrand raak, ontoereikend en uit voeling voel met die uitdagings van die tyd. Dit is die antwoord op leiers wat geïsoleerd in ’n klein plattelandse gemeente werk. Kerkrade en bedieningsbesture kan vrywilligers toerus met vaardighede, selfs al werk hulle voltyds. Die meeste van die kursusse word aanlyn aangebied en opnames kan selfs later gekyk word.
Dit behoort elke sinode, kerkraad en leierspan se prioriteit te wees om mense aan te moedig om deel te neem aan VBO se bediening aan gemeentes. En dit is baie belangrik vir geestelike leiers om op die uitkyk te wees vir geleenthede en toerusting om hulleself en ander te verryk.
Vanjaar kan gemeentes uitsien na aanbiedings oor missionale gemeentes, sistematiese en praktiese teologie, inspirerende leierskap, geloofsritmes, die Ou en Nuwe Testament, historiese teologie en spelterapie vir predikante. Daar is ook ’n nasionale saamtrek vir predikante en diensleraars by Goudini in Augustus.
Gemeentes het ook toegang tot hulpbronne soos Nel se splinternuwe Dissipelskapreeks vir lidmate. Hou gerus Kerkbode dop vir meer inligting, terugvoer en nuus oor Excelsus se leer- en toerustingsgeleenthede.
Smith stuur my uit met ’n gebed vir ons albei se kinders en bedienings en die woorde wat by my en elke leser behoort te draal: “as iets jou binneste roer, of iets in jou wakker gemaak word … dis roeping. Wat gaan jy daarop antwoord?”
Annabelle Lombard is deel van die bedieningspan by Skuilkrans NG Gemeente.
