Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hoewel NG Harmonie destyds ingelyf is by NG Pretoria, het die kerkgebou nie aan die gemeente behoort nie. Op die kampus saam met die Harmonie-kerkgebou is daar twee ander geboue, wat destyds as jeugsentrums bestuur is, maar wat later behuising geword het vir pensioenarisse. Al hierdie geboue behoort aan die SKDBM (Sinodale Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid Maatskappy). Ds Wynand van Niekerk, uitvoerende beampte van die SKDBM, het genoem dat daar verskeie faktore was wat gelei het tot die verkoop van die kampus, en dat daar voortdurend met die gemeente in gesprek getree is. Maar grotendeels het dit gegaan oor die befondsingsmodel wat redelik vinnig verander het weens die demografiese skuiwe in die stedelike en voorstedelike gebiede waar die NG Kerk nog ’n voetspoor het.

Die verkoop van geboue: NG Pretoria se verhaal opper belangrike vrae oor die toekoms van gemeentes en die breër kerkverband

In die middestad van Pretoria werp die geval van NG Pretoria lig op ’n gereelde vraag vir gemeentes in stede en dorpe regoor die land: Hoe gemaak met geboue waarvan die onderhoud te hoog raak of die sakemodel uit pas met die omgewing is? Hendrien van Vliet doen verslag.

 

  • Sinodale Kommissie verkoop geboue in Sunnyside
  • Bejaarde inwoners skuif na Queenswood
  • Middestadbediening gaan wel voort, bemoedig leraar

 

Die middestad van Pretoria was op ’n stadium ’n spilpunt vir die NG Kerk in die destydse Transvaal. Gemeente na gemeente het afgestig van Pretoria Moedergemeente, omdat daar bloot te veel lidmate was in hierdie digbevolkte deel van die stad. In die vroeë tagtigs het hierdie ses verwante gemeentes altesaam meer as 17 000 lidmate gehad. In die laat-tagtigerjare, net voor die verkiesing in 1994, het demografiese skuiwe vinnig gebeur. Stuk-stuk het hierdie einste gemeentes se lidmaattal al minder geword, en in 2000 smelt vyf gemeentes saam en word ingelyf by NG Pretoria, met vier bedieningspunte. Bronberg se kerkgebou in Sunnyside, Harmonie se gebou in Steve Bikostraat, Sunnyside, Arcadia se gebou, in Arcadia oorkant die Uniegebou, en Bosmanstraat se gebou in die middestad van Pretoria. Burgerspark se kerkgebou word verkoop. Pastorieë word verkoop. Woonstelblokke word verkoop … Als voorheen bates van die kerk, wat ander maatskappye en eienaars nou besit en bestuur.

Leraars en oudleraars van NG Pretoria. Kansel: Ds Elaine Dippenaar. Vlnr: Ds Louis van Deventer, dr Marinda van Niekerk, prof Cobus van Wyngaard, ds Hendrien van Vliet en ds Francois Smit. Foto: Elize Steenkamp

 

In 2007 is Afrikaanse eredienste in Bosmanstraat afgeskaf. Nie lank daarna nie volg Arcadia. In 2016 is die laaste Afrikaanse diens in die Bronberg-kerkgebou gehou. Dit het egter nie verhoed dat die gemeente voortgaan met gemeente- en gemeenskapswerk nie. Bosmanstraat se verhaal is een van innovasie en samewerking. Dié kampus het ’n ongelooflike diverse groep mense bedien: Swart, wit, Suid-Afrikaner, buitelander, oud en jonk. Bronberg se kampus het op ’n stadium uit sy nate gebars met verskeie vennote se aktiwiteite. Arcadia was al van die laat 2000’s af ’n multikulturele bediening. Die verbeelding van hoe om geboue te laat werk vir die gemeente was ryk. En alhoewel dit vasberade personeel, baie werk en insette geverg het, het dit wel baie vrug gedra. Die NG Kerk se voetspoor is nog te sien in die middestad en die gemeente is voortdurend besig om nuut te dink oor hoe om kerk te wees vir ’n veranderende gemeenskap.

Tydens die afsluitingserediens van NG Pretoria se Harmonie-bedieningspunt. Foto: Elize Steenkamp

Vele oorgangsfases

Ek het baie van hierdie oorgangsfases in die gemeente beleef. My bevestiging was in die Harmonie-kerkgebou in 2016, in ’n toga veels te groot vir my wat ’n kollega nog vir my geleen het. Ook in 2016 is die laaste Kerssangdiens (en Afrikaanse erediens) gehou in die Bronberg-kerkgebou, waar dit dodelik warm was en ek hoog swanger was en die liturgie gelei het. Die beste deel van daardie aand was die vrugteslaai en roomys wat bedien is onder die liggies van die parkeerterrein. Die enigste bedieningspunt waar daar nog Afrikaanse dienste gehou is, was in die Harmonie-kerkgebou in Steve Bikostraat in Sunnyside, en die laaste Afrikaanse erediens in die Harmonie-kerkgebou was op Sondag 17 Augustus 2025. Ek was vir hierdie (moontlike laaste) geleentheid ook deel van Pretoria-gemeente se storie.

 

Harmonie-oord se nuwe tuiste in Queenswood, sowat 7 km van Sunnyside. Die inwoners word nou bedien deur NG Queenswood. Foto: Le Roux Schoeman

’n Handjievol van die predikante wat daar gedien het, het deel gevorm van die liturgie. Ek het die voorsang gelei so vir ’n laaste keer, met trane wat vlak lê. Ds Elaine Dippenaar, tentmaker by NG Pretoria, het gepreek uit Deuteronomium 30:11-14 en dat elke einde ook ’n nuwe begin is. Die orrel het behoorlik harte geroer terwyl gemeentelede van heinde en verre die ou bekende liedboekliedere uitbasuin het. My kind het saam aan die nagmaaltafel gesit, sy was die laaste kind wat in die kerkgebou gedoop is amper nege jaar terug. Vir oulaas is daar geklets in die kerksaal met ’n koppie tee en ietsie lekker. Maar ek hoor saam met die terugdink en nostalgie ook inwoners van Harmonie-oord wat later verder moet gaan pak. Want oor ’n paar dae moet hulle trek na hulle nuwe tuiste: ’n omskepte woonstelblok in Queenswood, sowat 7 km hiervandaan.

 

Hoewel NG Harmonie destyds ingelyf is by NG Pretoria, het die kerkgebou nie aan die gemeente behoort nie. Op die kampus saam met die Harmonie-kerkgebou is daar twee ander geboue, wat destyds as jeugsentrums bestuur is, maar wat later behuising geword het vir pensioenarisse. Al hierdie geboue behoort aan die SKDBM (Sinodale Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid Maatskappy).

Volhoubaarheid en befondsingsmodelle 

Ds Wynand van Niekerk, uitvoerende beampte van die SKDBM, het genoem dat daar verskeie faktore was wat gelei het tot die verkoop van die kampus, en dat daar voortdurend met die gemeente in gesprek getree is. Maar grotendeels het dit gegaan oor die befondsingsmodel wat redelik vinnig verander het weens die demografiese skuiwe in die stedelike en voorstedelike gebiede waar die NG Kerk nog ’n voetspoor het. Tuistes soos Harmonie-oord was hoofsaaklik befonds deur die staat en deur die kerk. Namate die verkrimping van gemeentes en sinodes wat kon help befonds, en ook die vermindering van staatsubsidies oor die jare, is die befondsingsmodel wat gevolg is, nie meer volhoubaar nie. “Die versorging van ouer mense in elke finansiële klas het verander. In armer, sowel as middelklas huishoudings, is dit al meer die gebruik om ouers en grootouers in die huis te laat woon saam met die gesin en ’n voltydse versorger aan te stel, eerder as om ’n tehuis of versorgingsoord te oorweeg,” verduidelik Van Niekerk. Die finansiële model om na hierdie tuistes en organisasies om te sien, verander en daar moet al meer gekyk word na donateurs, eerder as gemeentes, sinodes en die staat. En weens hierdie redes was dit nie meer finansieel volhoubaar om die Harmoniekampus in Sunnyside te bestuur nie.

Die laekostebehuisingsprobleem word al meer prominent, nie net in die middestad van Pretoria nie, maar regoor die land. Foto: Le Roux Schoeman

Die SKDBM gaan egter voort om die nuwe Harmonie-oord se gebou in Queenswood te bestuur, waar die inwoners baie gelukkig is in hulle nuwe omgewing. “Ons moes in ’n kwessie van twee weke 20-24 persone op een dag trek. Dit was ’n moeilike en groot aanpassing vir baie van ons inwoners. Maar in die ses maande wat ons nou hier gevestig is ervaar ek ’n werklike gelukkigheid by die inwoners na die aanpassing. ’n Mens voel amper asof ons op die platteland is. Daar is ’n gevoel van huislikheid.” So vertel mev Marié Pienaar, bestuurder by Harmonie-oord.

Gebrekkige verbeelding? 

Die besluit is nie sonder teenstand ervaar nie. “Die hartseer oor die verkoop van Harmonie se kampus is vir my die gebrekkige verbeelding in die NG Kerk,” sê prof Cobus van Wyngaard, verbonde aan die Departement Filosofie, Praktiese en Sistematiese Teologie by Unisa, en tentmaker by NG Pretoria. “Harmonie is ’n ongelooflike fasiliteit, wat ’n ander maatskappy nou winsgewend gaan bestuur. Waarom was dit onmoontlik vir die NG Kerk om hier ’n volhoubare gemeenskapsentrum te bedryf, met behuising vir studente en ruimte vir bejaardes, en aanbiddingsplek. ’n Oop deur vir een van die mees dinamiese omgewings in die land: Steve Bikoweg in Sunnyside.

Prof Cobus van Wyngaard by NG Bronberg, een van NG Pretoria se bedieningspunte. Foto: Le Roux Schoeman
“As ons iemand sou beroep na hierdie gemeente toe, sou ek hulle vra om van hierdie punt na die einde van Esselenstraat te loop, alleen. As hulle dit maak, is dit die regte persoon vir die job,” sê ds Cobus van Wyngaard oor die gemeente waarby hy gekoppel is.

“Hoe maak ons seker dat daar nie nog Harmonieë is nie? Ons het ’n gemeenskap rondom ons wat die pols van Afrika as kontinent verteenwoordig. Die storie van NG Pretoria is nog lank nie verby nie.” Daar word gedroom oor wat die gemeente nog kan beteken in hierdie konteks. ’n Plan om parke weer te restoureer, sodat gesinne ’n veilige openbare ruimte het om in te beweeg en tyd te vertoef. Om bates wat hulle reeds het beter te bestuur en in te rig, sodat meer mense daarby kan baat. Lidmate word bemagtig om te bedien in die woonstelblokke waar hulle reeds bly.

“Ek ervaar ’n werklike gelukkigheid by die inwoners na die aanpassing. ’n Mens voel amper asof ons op die platteland is. Daar is ’n gevoel van huislikheid,” meen mev Marie Pienaar, bestuurder by Harmonie-oord. Foto verskaf deur Harmonie-oord

Die potensiaal van bates

Dit laat ’n mens wonder: Wat as demografiese skuiwe nie vrees ontlok het nie, maar nuuskierigheid en verbeelding? Daar is soveel verhale van hande neem en saam werk ten spyte van die demografiese skuiwe. Net onlangs lees ek van Stutterheim se mooi verhaal waar die NG en Presbiteriaanse Kerke saamwerk, met ’n formele ooreenkoms. In woord en daad funksioneer die twee eintlik as een. In verskeie ringe is daar nou samewerkingsooreenkomste tussen gemeentes en selfs ringe om nouer saam te werk, want die arbeiders is min, maar die werk is baie.

Hoe sou kerkwees lyk wanneer die voetspoor van die NG Kerk kleiner word in ’n gemeenskap?

“Die hartseer oor die verkoop van Harmonie se kampus is vir my die gebrekkige verbeelding in die NG Kerk,” sê prof Cobus van Wyngaard, verbonde aan die Departement Filosofie, Praktiese en Sistematiese Teologie by Unisa, en tentmaker by NG Pretoria.

Dalk juis soos hierdie gemeente in die middestad wat hulle deure oopgemaak het op interessante maniere en op momente in die geskiedenis toe dit nie so voor die hand liggend was nie. Daar was in die vorige dekade vier vroueleraars gelyktydig werksaam in die gemeente op een of ander manier. ’n Swart, Sothosprekende diensleraar doen tans uitmuntende werk in die gemeente se Arcadia-bedieningspunt.

Ds Hendrien van Vliet en prof Cobus van Wyngaard by NG Bronberg. Foto: Le Roux Schoeman

Die gemeente se Bronbergkampus word nou hoofsaaklik gebruik deur NG Pretoria se kantoorpersoneel, Hope Baptist kerk, en PEN, ’n nie-winsgewende organisasie se jeugbediening. Kinders het hier ’n veilige hawe om te speel, huiswerk te kan doen en belangrike lewensvaardighede op te doen deur verskeie kampe en projekte deur die loop van die jaar. Die Arcadiakampus bedien ’n wye en diverse groep mense, insluitend straatmense en sekswerkers.

Die meeste gemeentes, veral wanneer die area vinniger verander as beplan, het nie miljoene in die bank nie. Maar gemeentes het bates. Geboue en mense. Bates wat kan help met hierdie tipe drome en verbeelding. Dit help dat die voetspoor bly, en die werk voortgaan, al lyk dit anders as die oorspronklike plan toe die gemeente gestig is.


Ds Hendrien van Vliet is leraar by NG Kerk Kempton-Hoogland

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top