Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Henk Zeeman skryf: Hoe sou ons die geskiedenis dan wou gehad het hier in Suid-Afrika? Dat ou Jan van Riebeeck maar nooit in 1652 met sy drie klein skepies by die Kaap aangedoen het nie?
Dat die Kaap maar ’n oop kuslyn moes gebly het, onaangeraak deur Europa, handel, konflik, kultuur en al die morsige mengsels van die geskiedenis?
En wanneer ons dan deesdae oor #Europa en #Islam praat, onthou sommige van ons darem seker nog 1683?
Dit was die jaar waarin die Ottomaanse Ryk die stad Wenen beleër het. En as Wenen sou val, sou Sentraal-Europa wawyd oopgelê het vir verdere Islamitiese uitbreiding!
Die stad het lank onder beleg gesteier, totdat daar weer ’n Jan opdaag het. Nie Van Riebeeck nie, maar Jan Sobieski, koning van Pole.
Op 12 September 1683 het Sobieski en sy beroemde Poolse gevleuelde husare van die hoogtes afgestorm en die Ottomaanse mag gebreek. Daardie dag het Europa se poort nie oopgeswaai vir die Islam nie. Dit is met perdehoewe toegetrap.
Vir ’n ruk lank was dit dus: koebaai kalifaat; halt halwe maan!
Maar die geskiedenis het ’n ironiese nuk. Wat nie by Wenen met kanonne en kavallerie Europa suksesvol binnegekom het nie, het eeue later op ander maniere begin instroom deur die groot immigrasiegolwe van die twintigste eeu, veral vanaf die 1960’s.
Deur arbeidsmigrasie, oop grense, politieke skuldgevoel en afnemende gevoel dat hy sy eie beskawingsgrense ernstig moet bewaak, het Europa spreekwoordelik die deur oop laat staan vir ‘n Turkse Trojaanse perd!
Dus vanweë sy eie luiheid, ekonomiese gerief en honger na goedkoop arbeid word Europa nou wakker in ’n wêreld wat hy self help skep het. Die kontinent wat eens sy poorte met ruiters verdedig het, het later magteloos gestaan voor rubberbote en rubberplakkies. Met ’n rubberrug-politiek kan Europa vandag nie meer regop bly staan vir sy eie erfenis nie.
En so sit ons vandag met die groot vraag: Wanneer word die beweging van mense oor hierdie aardbol kolonisasie of verowering? Wanneer is dit bloot immigrasie? Wanneer word dit verkoop as ’n soeke na diversiteit? En wanneer word dit ’n beskawingskrisis omdat ’n volk vergeet dat oop deure steeds skarniere, slotte en mure nodig het?
Want sonder grense word gasvryheid nie edelmoedigheid nie — dit word selfmoord. Sonder sterk eie identiteit word diversiteit nie rykdom nie — dit word verdunning en later kulturele verdwyning. En sonder historiese geheue word beskawing nie nederig nie — dit word naïef en dan genivelleer.
Die vraag vir 2026 is nou of die VSA uiteindelik weer groter bote in die spel bring? Nie om blindelings oorlog te verheerlik nie maar om die roer van gewelddadige Islamitiese ekspansiedrif om te gooi!
Want die wêreld moes mos al lankal geleer het: wanneer ’n beskawing nie meer weet waarvoor hy staan nie, hoef sy vyande nie eers die poorte af te breek nie. Hulle hoef net te wag totdat die poorte self oopgelos word.
Dan kan die Trojaanse Perd gewoon Wenen binne-galop.
