Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief | Wanneer Staat en Kerk stilbly oor onreg: ’n Amos-woord vir Suid-Afrika

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Albin Bowler van Bellville skryf: Dit lyk of sommige NG Kerk- leraars lief is om oor die onreg van ander lande te praat, te skryf en selfs te bid. Ek lees en hoor min dat diegene dieselfde doen oor die verskriklike sistemiese onreg wat tans in ons eie land plaasvind.

In Amos se wêreld is godsdiens oorvloedig, maar geregtigheid skaars. Sy boodskap is meestal teen sy eie volk gerig: rykes floreer, armes word verdruk, verarm en vernalatig. Mense se menswaardigheid word vertrap.

Amos se samelewing verpletter die weerloses: “Ons sal die armes koop vir geld en die behoeftiges vir ’n paar sandale” (Amos 8:6). Sy wêreld sien nie mense as beelddraers van God nie, maar as handelsware.

Amos 2:7 beskryf die morele verval: “… pa en seun kuier by dieselfde meisie … .” Kwesbares, veral vroue en meisies, geniet geen beskerming nie. Magswanbalanse het vererger, sodat uitbuiting normaal is. Die profeet roep om geregtigheid.

Amos 5:11–12 lees: “Julle vertrap die armes en neem omkoopgeld … julle verdraai die reg in die stadspoort” – stadspoort as die plek van regspraak. Waar reg- en administratiewe sisteme nie meer die kwesbares beskerm nie, maar eerder die magtiges dien. 

In Suid-Afrika is hierdie profetiese kritiek pynlik relevant. ’n Land met grondwetlike beloftes van waardigheid en gelykheid. Waar die politieke elite met mooi artikulasie inwoners heuning om die mond smeer. Kinders gaan slaap honger, honderde sterf jaarliks, terwyl die politieke elite geld, veiligheid en oorvloed vir hulself toe-eien en in weelde leef 

Enkele feite:
• Vanaf 1 April 2025 – 30 Sept 2025 (6 maande) het meer baba’s en peuters in slegs die Oos-Kaap van honger gesterf as tydens 7 Okt 2023 – 6 Okt 2025 (2 jaar) in Gaza.
• KZN: 421 tienermeisies onder 14 jaar kraam in 2025/2026. Oos-Kaap: 110 meisies onder 14 jaar kraam in 2025/2026. Die SAPD ondersoek slegs 35 gevalle van dié verkragtings.
• Elke jaar sterf tussen 50 en 90 seuns by inisiasieskole. Tradisionele leiers en politici is met rede ontsteld oor dié situasie. Maar elke jaar sterf tussen 50 en 75 tienerdogters a.g.v. die kraamproses. Maar niemand praat hieroor nie – ons sterk patriargale samelewing?
• Verskeie wette, regulasies en praktyke diskrimineer teen meer as 40 miljoen mense.

Amos ontbloot die onreg as ’n verlies aan morele verantwoordelikheid van beide politieke en godsdienstige leierskap. Amos 5:24 smeek: “Laat reg soos water vloei en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom.”

God roep vir ’n samelewing wat geregtigheid najaag – waar vroue, kinders en ouer mense beklee is met menswaardigheid, vroue en meisies veilig is en waar die reg nie vir die politieke elite en rykes buig nie.

Die oproep is beide veroordeling en uitnodiging: ’n ander soort samelewing is moontlik! ’n Samelewing waar geregtigheid ’n stroom is wat aanhou vloei. Waar die Kerk, veral die SARK en sy lidkerke, pleks van stilbly, sistemiese onreg deur die politieke elite in Suid-Afrika skerp aanspreek. Want dis Bybels!

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top