Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die Australiese Nuwe-Testamentikus Michael Bird vra in sy onlangse studie Jesus among the Gods wat dit beteken om saam met die vroeë kerk te bely dat Jesus “God” is. Marius Nel vertel meer.
Ons kan naamlik in ons beantwoording van die vraag veronderstel dat ons presies weet wat hulle met die begrip “God” bedoel het, en dat ons net onseker is of Jesus in dié kategorie tuishoort.
Bird wys egter daarop dat daar in die antieke wêreld verskillende kategorieë vir goddelikheid en gode was. In dié verband onderskei hy twee hoofkategorieë in die Grieks-Romeinse en Joodse wêrelde van die eerste eeu.
Aan die een kant was daar die kategorie vir absolute goddelikheid – die ewige, ongeskape en ongebore Een wat uit homself God is.
LEES OOK: ‘Hoe volg ons die Evangelie tot by die plekke waar daar onderdrukking en onreg is?’
Aan die ander kant was daar ’n kategorie vir wat hy toegeskrewe goddelikheid noem – figure wat as gode vereer is omdat hulle besondere weldoeners van die mense was. Romeinse keisers soos Augustus, wat ná hulle dood as gode verklaar is, val in hierdie tweede kategorie.
Ook in die Joodse wêreld was daar ’n verskeidenheid tussenfigure aan wie ’n soort verhewe en selfs goddelike status toegeskryf is: aartsengele, verheerlikte aartsvaders soos Henog en Moses, en personifikasies soos die Wysheid en die Logos. Geen van hierdie tussenfigure is egter as die ware Skepper en daarom waardig van aanbidding van die eerste kategorie gesien nie.
Bird vra vervolgens watter van hierdie twee kategorieë die vroeë Christene in gedagte gehad het wanneer hulle Jesus as God bely het.
Hierop antwoord hy dat hoewel Jesus wel moontlik lyk soos ’n Joodse Herkules (wat ’n goddelike vader en ’n sterflike ma gehad het), ’n vergoddelikte Augustus (wat na sy dood vergoddelik is) of ’n aartsengel (wat God se wil uitvoer), Hy veel eerder lyk soos Jahwe self. Wanneer die Nuwe Testament Jesus as preëksistent, as Skepper en as die Een wat aanbid moet word, beskryf, plaas dit Hom in die eerste kategorie.
Hy is nie God danksy ander se erkenning nie, maar eerder uit Homself God. Volgens Bird is Jesus, soos aangedui in die titel van sy boek, dus wel “tussen die gode” herkenbaar volgens die taalkategorieë van sy tyd. Terselfdertyd is Hy uniek, omdat Hy in die kategorie van die God van Israel geplaas word en tog mens geword het. Dit is die belydenis wat in Filippense 2:5-11 weerklink: Hy wat in die gestalte van God was, het ’n slaaf geword en die Naam ontvang waarvoor elke knie sal buig.
Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is assessor van die Wes-Kaapse Sinode.
