Op die vooraand van die oorhandigingsfunksie vir vanjaar se wenners van pryse en toekennings van die Andrew Murray-Desmond Tutu-Prysfonds (29 Mei 2026), praat ons met van die wenners. Sien die volledige lys van wenners onderaan dié artikel.
- Schalk van Heerden gesels met Tom Smith
- Juanita Greyvenstein gesels met Fay van Eeden
- Mia Lintvelt gesels met Mark James
‘Dit is die mees persoonlike boek wat ek nog geskryf het’ – Tom Smith
Schalk van Heerden gesels met Tom Smith, vanjaar se wenner van die Andrew Murray-prys vir Christelike publikasies in Afrikaans, vir sy boek Vind God in die gewone.
Uitgewer: Lux Verbi, 2024
SvH: Tom, jy is seker bly om die Andrew Murray-prys te wen, ek hoor daar was sterk kompetisie?
TS: Dit was vir my ’n groot verrassing om genomineer te word en nog ’n groter een om die prys te ontvang. Die ander genomineerde outeurs is uitstekende skrywers, en een van hulle is al byna dertig jaar ’n vriend van my en darem ’n Betereinder …

SvH: Ernstig, wat van die boek maak dit ’n wenner?
TS: Ek is dankbaar dat die beoordelaars die boek as behulpsaam ervaar het. Hulle praat van die balans tussen deurleefde spiritualiteit en gegronde teologiese nadenke oor God se teenwoordigheid in die gewone lewe. ’n Vriend herinner my gereeld dat die taak van ’n geestelike leier nie net informasie en inspirasie is nie, maar om mense uit te nooi om met God in gesprek te tree. Ek hoop die boek help daarmee.
SvH: Dink jy ’n toekenning soos dié sal maak dat nog mense die boek optel?
TS: Ek hoop so! Dit is besonders dat die boek met Andrew Murray verbind word. Ek het dele daarvan in sy huis, Clairvaux, in Wellington geskryf. Ek voel altyd bevoorreg wanneer mense my woorde lees.
SvH: Wat is van die lekker terugvoer wat jy al gekry het na publikasie?
TS: Dit is seker die mees persoonlike boek wat ek nog geskryf het, veral die dele oor my hartaanval en broosheid. Mense kontak my dikwels ná hulle daardie hoofstukke gelees het. Ek is ook verbaas oor hoeveel mense reageer op die stories oor ons honde.
SvH: Jy skryf nie net boeke nie, jy help ook met predikante se voortgesette bedieningsontwikkeling. Waarmee sukkel mense in terme van alledaagse gewoontes?
TS: Ek dink die spoed van ons moderne lewe is een van ons grootste uitdagings. Ons leef in ’n aandag-ekonomie waar ons selde werklik teenwoordig is. Om bewus te wees van die hier en nou bly moeilik.
SvH: Gee asseblief vir ons ’n voorbeeld uit jou lewe van “habit stacking”?
TS: Wanneer ek in die motor klim, bid ek. Ek vra die Here om my te help om te speel en lag, liefde te gee en oop te wees vir die mense wat oor my pad kom.
SvH: Staan alledaagse praktyke teenoor genade?
TS: Praktyke verdien nooit God se genade nie. Dallas Willard het gesê: “Grace is opposed to earning, not effort.” Praktyke is daarom ’n manier om dankbaar te leef vanuit genade.
SvH: Hierdie is ’n “doenboek”. Wie sal daarby baat vind?
Almal wat soek!
Hier beskikbaar.
Ds Schalk van Heerden is diensleraar by Fontainebleau Gemeenskapskerk en voorsitter van Betereinders.
Skrywers vertel verhale van medegelowiges wat in totaal verskillende kontekste ekoteologie beoefen
Jacques Beukes, Hassan Musa, Fay van Eeden en Mias van Jaarsveld is die redakteurs van die wenboek vir die 2026 Andrew Murray-Desmond Tutu-prys: Care for Africa: Witnesses of earthkeeping and ecological justice.
Uitgewer: CLF, 2025
Tussen gemeentebesoeke, skoolritte en ’n vol bediening deur, maak ds Fay van Eeden tyd vir ’n gesprek oor Care for Africa, die publikasie wat vanjaar met die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys bekroon is. Van Eeden, gemeentepredikant by NG Stellastraat, eko-blogger en teoloog, was een van die redakteurs van dié bundel wat teologie, ekologie en die Afrikakonteks op ’n unieke manier saambring. Juanita Greyvenstein het haar gevra:
JG: Hoe het dit gevoel toe julle as redakteurspan hoor dat Care for Afrika, ’n boek wat uit sulke “onvolmaakte” omstandighede gebore is, met die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys bekroon is?
FvE: Dit voel onwerklik. Selfs toe ons hoor die boek is genomineer, het dit vreemd gevoel. Die redakteurs en skrywers se enigste fokus was om die boek die lig te laat sien. Dit is eintlik ’n soort aspoestertjieverhaal. Die boek pas nie netjies in ’n bepaalde genre in nie en die tema is ook nie altyd gewild in kerklike gesprekke nie. Daarom is hierdie erkenning besonders.

JG: Aanvanklik was Care for Africa hoofsaaklik ’n Suid-Afrikaanse projek, maar die redaksionele span het later uitgebrei om stemme uit ander dele van Afrika in te sluit, onder meer dié van Hassan Musa van Nigerië. Wat was jou ervaring van die samewerking met ekoteoloë, dominees en aardversorgers uit ander lande in Afrika?
FvE: Dit was kosbaar om mense van verskillende lande en kontekste se stemme te hoor. Wat my opgeval het, was die gedeelde erns waarmee mense regoor Afrika die ekologiese krisis beleef. Al verskil ons in benadering, deel ons dieselfde roeping tot rentmeesterskap. Daar is immers net een planeet waarvan ons almal deel is en van afhanklik is.
JG: Hoe dink jy help Care for Africa om die gapings tussen ekoteologie binne ’n Westerse akademiese raamwerk en die kontekstuele werklikhede van Afrika – soos droogte, mynbou en voedselonsekerheid – te oorbrug?
FvE: Dit was vir my verrykend en verruimend om die verhale van medegelowiges wat in totaal ander kontekste ekoteologie beoefen, te lees. As ’n wit, vrouepredikant in Oos-Pretoria, het ek kritiese vrae begin vra oor my bevoorregte konteks en die aksies wat ons neem. Dit is egter die eerlike manier waarop beide die stemme van Westerse teoloë en dié van mense wat die praktiese gevolge van klimaatsverandering eerstehands beleef langs mekaar aangebied word, wat ’n eerlike en noodsaaklike gesprek ontlok. Elke stem en aksie is belangrik, al begin dit ook klein.
JG: Wat is jou verdere hoop vir hierdie publikasie?
FvE: Ek hoop dat hierdie boek sal lei tot bewusmaking en gesprekvoering rakende die ekologiese krisis op verskeie vlakke – onder gewone lidmate, dominees en aan universiteite. Verder hoop ek dat gesprekke sal lei tot die neem van praktiese aksie wat ons help om sagter met die aarde, ons tuiste, om te gaan.
Beskikbaar by CLF.
Ds Juanita Greyvenstein is predikant by die NG Kerk Skukuza en verskaf pastorale berading aan kinders en volwassenes uit diverse agtergronde.
Gebaretaal het hom toegang tot die Dowe se wêreld gegee
Mark James se boek, Proud to be Deaf, is pas bekroon met die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir opkomende skrywers (debuutwerk). Mia Lintvelt het met hom gesels.
Uitgewer: UJ Press, 2025
Mark James noem dat hy glad nie verwag het om die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys te wen nie, maar hoop dat die blootstelling wat hierdie prys aan sy boek gee, die storie en geskiedenis van Dowe mense meer op die voorgrond sal bring. Die bediening aan Dowes, ook in die Katolieke Kerk, is gemarginaliseer en daar is bitter min kapelane wat aan die geestelike bediening aan Dowes aandag gee. Hy hoop dat die boek lesers se oë sal oopmaak vir die verskillende werklikhede van mense se lewens en dat dit die kerk sal inspireer om Dowebediening nie net as ’n barmhartigheidsbediening te sien nie, maar as ’n volwaardige bediening aan en saam met ’n minderheidsgroep met hulle eie taal, kultuur en identiteit.

Mark is gevra om die Dowebediening by die uittredende kapelaan oor te neem en hy het onder andere Dowe mense in Johannesburg, Pretoria en Swaziland bedien. Hy het Gebaretaal begin leer en so al meer toegang tot die Dowe gemeenskap gekry. In die proses het hy die ryke leefwêreld van Dowe mense begin ontdek – ’n wêreld waarin mense hulleself met trots deur beweging, gebare, gesigsuitdrukkings en liggaamstaal uitdruk. Sy boek, wat gevloei het vanuit sy PhD, was ’n poging om self sin te maak van wat hy ervaar het.
Die boek bestaan uit vier hoofstukke. Hy begin met ’n bespreking van sy metodologie en terminologie; die tweede hoofstuk is ’n breedvoerige geskiedenis van en kritiese nadenke oor die rol van die Katolieke Kerk in bediening en onderwys aan Dowes. In die derde hoofstuk vertel Mark stories van besonderse Dowe mense en wat hulle bereik het. Hy sluit die boek af met gedagtes oor die toekoms, waar hy veral klem lê op bediening aan en saam met Dowes.
Sy fokus was die Katolieke Kerk en hy hoop dat die boek dialoog sal aanmoedig en sal lei tot verdere navorsing.
Deur die hele boek poog hy om klem te lê op die individualiteit van Dowe mense. Mark daag ons uit om nie na ander mense te kyk vanuit ons bekende perspektief nie, maar om mense wat anders is as ons te verstaan vanuit hulle diverse agtergrond, behoeftes en ryk lewenservarings. Hierdie is ’n boek wat elkeen van ons behoort te lees – veral mense in alle aspekte van die bediening en in die onderwys.
Gratis aanlyn beskikbaar.
Ds Mia Lintvelt is gekoppel aan die NG Kerk Worcester De la Bat, met opdrag Dowes.

Die volledige lys van wenners
Vanjaar se wenners van pryse en toekennings van die Andrew Murray-Desmond Tutu-Prysfonds is:
ANDREW MURRAY-PRYS VIR CHRISTELIKE PUBLIKASIES IN AFRIKAANS
Tom Smith vir Vind God in die gewone (2024, uitgegee deur Lux Verbi).
Die beoordelaars was dr Guillaume Smit, prof Kobus Schoeman en prof Christo Lombard.
Die prysgeld beloop R25 000 en word onder meer geborg deur Dagbreektrust.
ANDREW MURRAY-DESMOND TUTU-PRYS VIR TEOLOGIESE WERK IN ’N AMPTELIKE TAAL VAN SUID-AFRIKA, BEHALWE AFRIKAANS
Jacques Beukes, Hassan Musa, Fay van Eeden en Mias van Jaarsveld is die redakteurs van die wenboek vir die 2026 Andrew Murray-Desmond Tutu-prys: Care for Africa. Witnesses of earthkeeping and ecological justice (2025, uitgegee deur Christelike Lektuurfonds).
Die beoordelaars was prof Demaine Solomons, dr Sandiswa Lerato Kobe en dr James Goddard.
Die prysgeld beloop R25 000.
DESMOND TUTU-GERRIT BRAND-PRYS VIR OPKOMENDE SKRYWERS (DEBUUTWERK)
Mark James vir Proud to be Deaf: Ministry, saintliness and the history of the Catholic Deaf community in South Africa, 1874-1994.
Die beoordelaars was prof Juanita Meyer, prof Eugene Baron en prof Douglas Lawrie.
Die prysgeld beloop R15 000.
JAAP DURAND-DENISE ACKERMANN-TOEKENNING VIR EENHEID, GEREGTIGHEID EN VERSOENING
Dr Wayne Alexander, Wes-Kaap Streekskommissaris vir Grondeise, is die ontvanger van hierdie toekenning vir 2026, geborg deur Remgro Management Services Ltd. Dr Alexander is genomineer deur Laurie Gaum en aanbeveel deur die Uitvoerende Raad van AMDTPF. Die toekenning beloop R10 000.
CLF-ELISE TEMPELHOFF-TOEKENNING VIR OMGEWINGSBEWARING EN -GEREGTIGHEID
Dr Attie van Niekerk, stigter van die Nova Instituut (www.nova.org.za), is die ontvanger van die toekenning vir 2026, geborg deur Christelike Lektuurfonds (CLF). Die Nova Instituut is ’n organisasie sonder winsoogmerk wat daaraan toegewy is om arm gemeenskappe in staat te stel om hulle lewensgehalte te verbeter. Nova werk met huishoudings en netwerkvennote in laeinkomstegemeenskappe regoor Suid-Afrika met die doel om praktiese en volhoubare oplossings te vind vir daaglikse uitdagings wat mense se welsyn en omgewing beïnvloed.
Dr Van Niekerk is deur prof Ignatius Swart genomineer en deur ’n onafhanklike paneel beoordelaars aanbeveel. Die toekenning beloop R10 000.
ANDREW MURRAY-SAKOV-TOEKENNING: KERKMUSIEK
Hierdie toekenning word vanjaar (2026) die eerste keer toegeken as deel van die Suider-Afrikaanse Kerk- en Konsertorrelistevereniging (SAKOV) se verbintenis tot die bevordering van kerkmusiek. Dit word toegeken aan prof Theo van Wyk vir sy werk: The Lockdown-Büchlein: Eighteen chorale-based works for the organ. Prof Theo van Wyk het dié werk in 2024 gepubliseer.
Die beoordelaars was dr Isabelle van Rensburg, Rineke Viljoen, Anneli Roux, Johann Enslin en Wybrand van der Westhuizen.
Die Andrew Murray-SAKOV-Toekenning: Kerkmusiek, word deur SAKOV geborg en beloop R10 000.
EERWAARDE ANDRIES DREYER-TOEKENNING: KERKHISTORIESE NAVORSING
Dr Gerdrie van der Merwe ontvang die 2026 Eerwaarde Andries Dreyer-Toekenning: Kerkhistoriese Navorsing, vir sy bydrae as kerkhistorikus. Hierdie toekenning word vanjaar (2026) die eerste keer gemaak as deel van die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk in Suid-Afrika Argief se verbondenheid tot kerkhistoriese navorsing in Suider-Afrika.
Die beoordelaars was die Sinodale Taakspan: Argief van die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk in Suid-Afrika. Die Eerwaarde Andries Dreyer-Toekenning: Kerkhistoriese Navorsing, word geborg deur die NG Kerk in SA en beloop R10 000.
Die oorhandigingsfunksie vind op 29 Mei 2026 op Wellington plaas.
