Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief | Eerste indrukke uit die hof: tugbesluite teen Marius Coetzee tersyde gestel

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds CJ (Neels) de Jager, leraar Vaalrivier-gemeente en aktuarius Goudland Sinode skryf: Die hofsaak tussen ds Marius Coetzee en kerkraad NG Gemeente Karatara-Sedgefield vs Ring van Knysna, die Sinode van die Wes-Kaap, en andere verwys. Hierdie is eerste indrukke onderhewig aan korreksie.

Here, wees ons genadig! Op U wag ons (Jesaja 33:2).

’n Hofgebou is ’n vreemde plek. Om daar te sit en te weet, vandag is dit kerk (wat aan die Here behoort) teen ekklesia (gemeente deur God uit die wêreld geroep) is nog vreemder.

Regter Louw het die dag met humor begin. Elke dominee en regter se droom, het sy gesê, ’n vol gebou (my parafrase).

Die advokaat vir die sinode en andere het sy saak gestel. ’n Prentjie is geskets van ’n dominee wat “defiant” opgetree het teen die gesag oor hom aangestel van die Ring se kant. Daar is gestel dat die dominee ten onregte nie teenwoordig was by sy tugverhoor nie. Die aanklag was skeurmakery en Coetzee is in sy amp gestuit. Daar is aangevoer dat die dominee se situasie soortgelyk is aan dié van ’n advokaat wat tot die balieraad toegelaat moet word alvorens hy mag praktiseer. Hierop het die regter gestel dat die twee sake glad nie vergelykbaar nie.

Die advokaat vir Coetzee was Hanri Loots SC. “Your Ladyship” het hy die meeste sinne mee begin. Hy het van sy “learned friend” verskil en aangevoer dat Coetzee slegs beswaar gemaak het teen die samestelling van die ringstugliggaam weens bevooroordeling. Verskeie skrywes gerig aan die teenparty het onbeantwoord gebly.

In haar uitspraak het regter Louw gesê dat dit verwag sou word van ’n organisasie wat gebou is op die beginsels van “grace, reconciliation and forgiveness” om eers ander opsies soos mediasie en herderlike sorg te ondersoek alvorens ’n verhoor belê word.

Sy het gesê dat die ringstugliggaam vooraf gesuiwer moes wees en nie behoorlik gekonstitueer was nie. Sy het gesê dat die gees van die Kerkorde sowel as die letter en woord van die Kerkorde in ag geneem behoort te word. Daarom moes die dominee se redelike versoek tot uitstel toegestaan gewees het. Die regter het in haar uitspraak verwys na die “tripartite agreement” waarby die leraar, die kerkraad en die breër kerk betrokke is. Om een party, die kerkraad, uit te sluit is ondenkbaar.

Regter Louw het gestel dat die onderskeie tugliggame in gebreke gebly het aangesien die beginsels van “natural justice” asook die vereistes van die Kerkorde nie aan voldoen is nie. Die besluit van die vierde respondent, ringstugliggaam Knysna, gedateer 30 Mei is tersyde gestel. Die sanksie van delegitimasie is ook tersyde gestel. Die besluite van die appèlliggaam Sinode Wes-Kaapland asook die appèlliggaam Algemene Sinode 27 Desember 2024, is tersyde gestel. ’n Kostebevel is gegee teen die derde tot die tiende respondent vir die hersieningsaansoek.

Onthou asseblief die woorde van Jesus, ’n huis verdeeld kan nie bly staan nie (Lukas 11:17).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Brief | Eerste indrukke uit die hof: tugbesluite teen Marius Coetzee tersyde gestel”

  1. Greyvenstein

    Ek moet net eers n belang verklaar. Ek is as onderhandelaar betrokke in n soortgelyke geskil tussen die Vrystaatse NGK, die ATP en ds. Chris Erasmus. Ek moes Sondag verneem dat onderhandelinge, waarmee ons meer as n jaar besig is, eensydiglik deur die Vrystaatse NGK verbreek is.
    Ek lees met brlangstelling wat Ds De Jager rapporteer. Dit voel soos die proses wasrin ek bettokke is.
    Regter Louw het in haar uirspraak gesê dat dit verwag sou word van ’n organisasie wat gebou is op die beginsels van “grace, reconciliation and forgiveness” om eers ander opsies soos mediasie en herderlike sorg te ondersoek alvorens ’n verhoor belê word.
    Sekere funsionarisse van die NG Kerk beskou hulself as onaantasbaar. Daarom geniet ek hierdie uitspraak só! (Kommentaar verkort en belyn met kommentaarbeleid / https://kerkbode.christians.co.za/kommentaarbeleid/ – Red)

  2. Ben Visagie

    Ek wil aan ons Liewe Vader die dank betuig in die saak. En die Regter wat kan luister in ts met die Ring sinode wat absoluut n koue oor gegee het aan die leraar. Ek was by n oop ring sitting n luisteraar, absoluut geen broeder liefde of aansgesindheid nie.

    Hoekom moet ek nog by die bree NG kerk inskakel? Ek sal egter steed Ds Marius ondersteun in sy kerk en gemeente.

    Gaan die ring apologie aanteken? Ek lees dit nie?

Comments are closed.

Scroll to Top