Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Andreas van Rooyen skryf: Ons lees in die nuus dat ons 30 Junie versigtig moet wees, dat daar oral in die land optogte gaan wees oor al die onwettige immigrante in ons land, want hulle is die probleem. Mense is moeg, mense sukkel, mense wil ‘n beter toekoms hê en dit gebeur net nie. In sulke tye is dit maklik om vir “die ander” te blameer. In die 1940’s is die ander as ‘n sondebok gebruik om Duitsland te probeer verenig en dit het nie gewerk nie. Elke poging om ‘n land te verenig in haat vir “die ander” het misluk, want dit is nie binne God se wil nie en dit spreek nie die probleem aan nie. Ons sit in Suid-Afrika met ongelykheid wat oor alle grense gaan en deur korrupsie vererger word. Optogte gaan dit nie verander nie, al wat optogte teen immigrante gaan doen is om mense bang te maak en onskuldiges gaan seerkry. Levitikus 19:34 gee duidelik die opdrag om nie die vreemdeling te onderdruk nie. Eksodus 22:21 herinner dat ons almal eens vreemdelinge was en daarom deernis met vreemdelinge moet hê. Baie min van ons woon in die plek waar ons oorspronklik vandaan kom. Ons is dan ook nog ‘n mengelmoes van nasies. As ons nie iewers die geleentheid gegun was nie, sou ons nie hier gewees het nie.
LEES OOK: Ongedokumenteerde burgers van ander lande: Vrees en koue buite Zim-konsulaat
Kom ons maak daarom ‘n punt om vandag en môre te bid vir die vreemdeling wat onder ons woon. Kom ons bid dat elkeen wat te min het, elkeen wat sit met leë beloftes, elkeen wat moeg is, in die Here troos sal vind. Kom ons bid dat korrupsie tot ‘n einde sal kom, geregtigheid in ons land sal heers en elkeen ‘n kans kry. Kom ons bid dat die Here ons as land sal seën en ons lei om na mekaar te kyk as broers en susters wat gelyk is in Sy oë.
