Wond: Plaasmoord – dis my mense deur Gerhard M Pietersen
Uitgewer: Litera, 2025
Resensent: Heléne Meissenheimer
Wat sê ’n mens vir iemand wie se mense vermoor is? Hoe lyk troos wanneer magtelose woede deel is van die rouproses? Gerhard Pietersen se skoonouers is in 2016 op hulle kleinhoewe in Groot-Brakrivier vermoor. Hy is die een wat hierdie skoknuus eerste by die polisie hoor en dit daarna vir sy vrou en hulle drie kinders moet vertel. Dit is maar die eerste van baie ondenkbare take wat op hierdie predikant wag.
Sy joernaal word sy biegboek. Die enigste plek waar hy veilig genoeg voel om regtig eerlik te wees. Terwyl hy vir ander hulle steunpilaar moet wees, help skryf hom om te probeer sin maak van trauma waarvoor ses jaar se teologiese opleiding hom nie voorberei het nie.
In Wond: Plaasmoord – dis my mense vertel Pietersen hoe die wreedheid van die moord en die lang uitgerekte ondersoek en hofproses hulle lewe as gesin onomkeerbaar verander. Hy gebruik die beeld van die genesingsproses van ’n rou bloeiende wond as metafoor vir hulle eie proses van trauma, rou en genesing. Die boek is in ses fases van wondgenesing verdeel – ’n struktuur wat goed werk om ’n verhaal soos hierdie saam te bind.
Dit is ’n boek wat emosioneel baie van die leser vra. Genadiglik sluit dit ook ligter oomblikke in van sagte genade, selfs humor. Soos die onbekende man wat uit die bloute opdaag om Pietersen te help om die moordtonele skoon te maak, maar so vloek dat hy liewer besoekers by die plaashek ontvang sodat hulle buite hoorafstand is.
Pietersen is ’n vaardige storieverteller wat slaag om outentiek hulle storie te vertel. Hy het my aandag as leser geboei vanaf die eerste bladsy tot op die einde, 297 bladsye later.
Vir die kerk in Suid-Afrika, waar soveel mense ernstige trauma weens geweldsmisdaad moet verwerk, is Wond ’n baie nodige en tydige boek. Dit is meer as ’n persoonlike getuienis oor ’n plaasmoord. Dit is ’n eerlike boek wat die leser uitdaag om te dink hoe ondersteuning en troos moet lyk wanneer iemand verlies weens geweld moet verwerk.
Die boek kan vir R390 (BTW ingesluit) aanlyn bestel word by Litera Publikasies.
- Heléne Meissenheimer is ’n joernalis by Kerkbode.
