Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Fay van Eeden deel haar wenke vir plastiekvermindering: Ons het ons skottelgoedsponse en -lappies vervang met produkte wat van hemp, bamboes en hout gemaak is. Ons het ook ons eie skoonmaakmiddels en skottelgoedmasjien-seepblokkies gemaak. Ons het verbasend baie resepte op die internet gevind. Hier lê nog vir ons werk voor. Foto: Verskaf

Omgewing: Toe word ons gróót doelwit vir plastiekvry-leef ’n uitdagende avontuur

Miljoene mense neem jaarliks aan Plastiekvrye Julie deel deur “nee” te sê vir enkelgebruik-plastiek. Vanjaar het Fay van Eeden en haar gesin vir hulleself die uitdaging gestel om heeltemal plastiekvry te leef. En wat ’n uitdaging was dit nie!

 

Ons het aan die begin van die maand vyf doelwitte gestel en nou aan die einde van die maand is dit tyd om bestek te neem. Hier is hoe ons plastiekvrye maand verloop het.

Nee! vir die ‘groot vier’

Dit is plastiek bottels, inkopiesakke, strooitjies en wegneemkoppies.

Hoe het ons gevaar? Strooitjies kan ek en my man maklik by restaurante weier, maar ons sesjarige sukkel daarmee. Omdat sy so lief is vir ’n strooitjie het ons vir haar haar eie strooitjie van vlekvrye staal gekoop. Ons sou ook vir haar ’n glas- of bamboesstrooitjie kon gekoop het.

Aan die inkopiesak-front het ons nie so goed gevaar nie. Tot ons skande het ons ons hoop lapsakke heeltemal te gereeld by die huis óf in die motor vergeet. Aan die ander kant was ons reisbekers nog elke maal reg vir wegneemkoffie. Met plastiekbottels het ons die swakste gevaar, want ons lus vir gaskoeldrank het ’n paar maal die oorhand gekry.

 

Snoep- en lekkergoed

Ons gaan nie snoephappies wat in enkelgebruik-plastiek verpak is koop nie.

Hoe het ons gevaar? Hierdie was moeiliker as wat gedink het – veral omdat dit skoolvakansie was. Tot ons skok het ons agtergekom dat die meeste lekker- en snoepgoed in plastiek verpak word. Wat beteken het dat ons minder daarvan gekoop en geëet het (wat nie noodwendig sleg is nie). Ons het spesifiek lekkergoed in kartonboksies gekoop wanneer ons soettand die oorhand gekry het. Ons het ook ons eie koejawelrol gemaak – dit was ’n wenner!

 

Minder koop, meer kook

Ons gaan minder voorbereide etes koop en meer met vars produkte kook.

Hoe het ons gevaar? Ons het dit nege uit tien keer reg gekry. Wanneer ons gefaal het, was dit weens swak beplanning. Hierdie uitdaging het nie net gesorg dat ons gesonder eet en minder kos mors nie, maar ook dat ons minder mikroplastiek ingeneem het.

 

Plastiekvrye skoonmaakmiddels

Ons gaan plastiekvry skoonmaak.

Hoe het ons gevaar? Dit was makliker as wat ons gedink het. Ons het ons skottelgoedsponse en -lappies vervang met produkte wat van hemp, bamboes en hout gemaak is. Ons het ook ons eie skoonmaakmiddels en skottelgoedmasjien-seepblokkies gemaak. Ons het verbasend baie resepte op die internet gevind. Hier lê nog vir ons werk voor.

 

Plastiekvrye skoonheidsorg

Verminder plastiek in ons badkamer en opsmuklaai.

Hoe het ons gevaar? Die vloeibare seep in ons stort en wasbak het plek gemaak vir koekies seep. Ons het ook tandeborsels van bamboes, tandepastapoeier en oorstokkies van herwonne papier begin gebruik. Ons was ook verbaas oor hoe goed sjampoe-koekieseep werk. Ek het ook die katoenballetjies waarmee ek my grimering verwyder, met gehekelde lappies wat gewas en weer gebruik word, vervang.

 

Julie-maand was vir ons gesin omtrent ’n uitdagende avontuur. Plastiekvrye Julie het ons kom wys hoe onbewus ons leef en hoe ondeurdag ons inkopies doen. Ek het ’n gevoel dat ’n klomp van die veranderings wat ons gemaak het die nuwe norm in ons huishouding gaan word.

 

Nog ’n wenk: Maak jou eie skoonmaakmiddel

Tuisgemaakte skoonmaakmiddel vir jou kombuisoppervlaktes

Hierdie werk lekker om oppervlaktes in jou kombuis en badkamer skoon te maak.

Wat het jy nodig?

1 koppie gedistilleerde water (ek het gekookte water wat afgekoel het gebruik)

1 koppie wit asyn (gedistilleerde asyn is nog beter)

Die sap van ’n halwe suurlemoen (opsioneel)

15 druppels sitrus/laventel essensiële olie

Dit is hoe:

Meng al die bestanddele in ’n bottel. Skud die bottel saggies. ’n Spuitbottel werk goed. Indien jy die suurlemoensap gebruik, stoor in ’n koel plek (óf selfs in die yskas).


Ds Fay van Eeden is predikant by die NG Gemeente Stellastraat en ’n eko-blogger.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top