Mense het my vreemd aangekyk toe ek vertel dat ek op 45 weer gaan studeer, en boonop Teologie! Maar wanneer dit jou roeping is, maak ouderdom nie saak nie. Ek het lank genoeg Jona gespeel, vertel Annelize Botes.
In 1995 het ek saam met drie vriendinne ’n jeugaksie by my tuisgemeente begin. Destyds het my toekomsplanne heel anders gelyk. Kerk was deel van my lewe, maar nie noodwendig my beroep nie. Soos baie jongmense het ek ná skool gaan studeer, maar ná ’n jaar besef dit is nie wat ek wil doen nie. In 2000 het ek die geleentheid gekry om Diensjaar vir Christus te doen. Daar het my pad vir die eerste keer met Hugenote Kollege gekruis. Ek was deel van ’n gemeentespan wat in Huis Samuel in Wellington gewoon het. Ons het die CSV-werk by skole behartig en was ook betrokke by Huis Flippie. Aan die einde van daardie jaar het ek ingeskryf vir ’n BDiac-graad in Jeugwerk. Ongelukkig moes ek weens mediese redes in my tweede jaar opskop.
Daarna het ek teruggeval op my vorige kwalifikasie en in die reis- en toerismebedryf gaan werk. Tog het ’n leë gevoel in my hart bly groei: in die toerismewêreld is daar min tyd vir kerk. Ná jare in die korporatiewe wêreld het ek vir ’n paar jaar ma en huisvrou gespeel. In 2018 het ons in ’n nuwe dorp en gemeente beland, waar ek betrokke geraak het by kategese. Dit het gelei tot die aanbied van kinderdiens, eers een keer per kwartaal.
In September 2023, ná afloop van een van hierdie dienste, het die predikant vir my gesê ek moet ernstig oor legitimasie dink. Twee e-posse en ’n lang WhatsApp-gesprek later het ek nie net ’n volle studiebeurs gekry nie, maar ook ingeskryf by Hugenote Kollege vir ’n BTh-graad. Ek is tans in my derde jaar en voltooi my studies aan die einde van die jaar. Legitimasie volg in November, en gradeplegtigheid in Maart 2027.
Om in ritme met God se roeping te stap terwyl ek deeltyds studeer, kerklike opleiding doen en tyd maak vir my gesin, is nie altyd maklik nie. Dit verg deursettingsvermoë en goeie beplanning, maar dit is die moeite werd. Die mense wat ek die afgelope drie jaar ontmoet het, die vriendskappe wat gebou is op gedeelde geloof en passie vir God se koninkryk, die deure wat gesluit het en ander wat oopgegaan het: dit alles is genade. Die werk is baie en die tyd min, maar dit is doenbaar en bereikbaar.
Hugenote Kollege se logo toon drie pilare waarop ’n Bybel rus. Die pilare verteenwoordig Gebed, Roeping en Diens. Ek leef deur gebed, in pas met my roeping, tot diens van God en sy koninkryk. God roep ons tot sy diens: soms fluister Hy, ander kere roep Hy hard. Luister met ’n oop hart en oop ore, met ’n gewillige en bereidwillige gemoed. Dit verander jou van wie jy was na wie Hy wil hê jy moet wees.
Hugenote Kollege vier in 2026 haar 75ste bestaansjaar as ’n hoëronderwysinstelling en om dit te gedenk, is teologiestudente van al die opleidingsentra wat NG predikante oplei gevra om die verhaal van hulle roeping te vertel. Hierdie skrywe is deel van die reeks artikels wat Kerkbode publiseer.
