Bethulie: My lewe in die kamp deur Rensche van der Walt
Uitgewer: Tafelberg Uitgewers, 2026
Resensent: Jan de Man
Die Anglo-Boereoorlog breek in Oktober 1899 uit tussen Brittanje en die twee Boererepublieke, die ZAR en die Vrystaat. In Februarie 1900 begin die Britse magte die Boererepublieke binnedring. In dié tyd vaardig Lord Roberts, die Britse opperbevelvoerder in Suid-Afrika, ’n proklamasie uit wat Vrystaters waarsku om hulle van verdere weerstand te weerhou. Diegene wat hieraan sou gehoor gee, sou nie verder in hulle persoon en besittings benadeel word nie. Teenoor burgers wat egter die Britse magte teenstaan en die Boerekommando’s (wat hulle toe reeds op guerilla-oorlogvoering toegespits het) van voorrade of inligting voorsien het, sou “opgetree word in ooreenstemming met oorlogsgebruike”. Wat Roberts hiermee bedoel het, sou spoedig uit die verskroeideaardebeleid sigbaar word. As uitvloeisel van die beleid is verskeie konsentrasiekampe opgerig waar hoofsaaklik vrouens en kinders, wat in hegtenis geneem is wanneer plaaswonings (asook verskeie dorpswonings en ander geboue) en weiding afgebrand en vee gekonfiskeer is, gehou is. Een so ’n kamp was by Bethulie in die Suid-Vrystaat.
Die 23-jarige Rensche van der Walt is in April 1901, saam met haar ma en drie sussies, van hulle plaas in die Reddersburg-omgewing na die kamp op Bethulie weggevoer. Die Van der Walt-vroue het die kamp oorleef en na die oorlog na Reddersburg teruggekeer. Rensche het nooit getrou nie en is op 2 November 1948 op 70-jarige ouderdom oorlede.
Rensche het vanaf haar eerste dag in die Bethuliekamp haar ervarings neergeskryf. Hierdie dagboek was in haar besit tot haar dood. Na haar dood het haar suster, Hester, dit bewaar en later aan haar dogter, Kezia Hamman, gegee. Kezia het die dagboek in 1960 in Afrikaans vertaal en ’n klein oplaag uitgegee.
Rensche se weergawe van die lewe in die kamp laat die leser die skrikwekkend intense seer van honger en wanvoeding, oorbevolking, siektes en dood in die kamp saam met haar beleef; die ander kant van oorlog. Dit lees uit die aard van die saak anders, swaarder, nader aan die lyf, as my eksemplaar van “Bethulie” in die Konsentrasiekamp-Gedenkreeks. Sy sien alles raak en deel dit: die hout wat te min is om kiste te maak; die bekommernis oor mans, broers en pa’s in die oorlog en in krygsgevangenekampe; die diep hartseer toe die inwoners hoor dat hulle geliefde “Vrystaat” nou, na heroorname deur Brittanje, die “Orange River Colony” heet.
Die leser stap saam deur die tentekamp en word gedwing om te besin en te besluit wat hy/sy na die oorlog uit die kamp wil saamneem. Soos ek oorweldig saam met Rensche uitstap, maar nooit daarop sal kan aanspraak maak dat ek eens kan begin om regtig te verstaan nie, beleef ek dieselfde as toe ek jare gelede buite München by Dachau se hek voor die “Never Again”-muur gestaan het en myself, diep in my hart, hieraan verbind het …
Beskikbaar by meeste boekwinkels. Die publikasie word verryk deur bydraes van historici, onder andere Johan van Zÿl.
Dr Jan de Man is predikant by die NG Gemeentes Viljoensdrif en Taaibosspruit in die Noord-Vrystaat.
