Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Jesus is in Emmaus. Hy neem die brood, spreek die seëngebed uit, breek dit en deel dit. En dan lees ons “Toe is hulle oë geopen, en hulle het Hom herken.”
Hoekom “tóé”? Wat was die magiese “iets”, die gebeurtenis, die wonderwerk wat daar aan tafel afspeel, dat hulle juis in dáárdie oomblik vir Jesus herken?
Om die vraag te beantwoord, moet ons teruggaan na ander etes vroeër in Lukas se Evangelie. Met die vermeerdering van die brood in Lukas 9 neem Jesus die brood en vis, spreek die seëngebed uit, breek die kos in stukke en deel dit uit. Fast forward ons na Lukas 22 en die instelling van die Nagmaal, dan doen Jesus dit weer. In die bokamer neem Hy die brood, spreek die seëngebed uit, breek dit en deel dit.
Daar het ons die antwoord op hoekom hulle Jesus juis toe herken het. Hoe so? Doodgewoon dit – Jesus stop nie sommer net brood en vis en wyn in sy mond nie. Nee, eet word altyd, soos bykans alles wat Hy gedoen het, vergesel met ʼn sekere houding en spesifieke handelinge. Dit is ʼn houding en handelinge wat ʼn manier van teenwoordig wees aandui.
Deur dankbaar te neem. Aandag te vestig met seën. Nie vas te hou nie, maar te breek en te deel. Só, met daardie houding, met hierdie handelinge, vestig Jesus aandag op die Een van wie die brood kom. En toe Jesus presies dít weer in Emmaus doen, naamlik om te neem, te seën, te breek en te deel, tóé besef Kleopas en kie – maar natuurlik, die Man wat sopas só die brood gebreek het, is die Man wat al vir drie jaar lank presies só brood breek! Jesus se optrede, hoe Hy die brood hanteer het, het verklap dat dit Hy is. En dat Hy as gas ook die Groot Gasheer van die hele wêreld is.
Die Vlaamse kultuurfilosoof Jacques De Visscher skryf soos volg oor priesters: “De bewegingen van de priester zijn traag, omdat hij zich in principe niet door de seculiere tijd laat leiden.” Hy sê priesters is nie stadig omdat hulle oud is nie, maar omdat hulle by die altaar werk en dus heilige dinge hanteer. Dit klink baie Katoliek en dit is ook, maar dit laat diegene wat sien wat priesters doen en hoe hulle dit doen, ook anders kyk. Dit laat oë oopgaan. In ʼn sekulêre en gejaagde lewe, vestig hulle deur hulle houding en handelinge aandag op ʼn ander werklikheid, net soos Jesus dit telkens gedoen het.
Hoe weet jy iemand is ʼn priester of ʼn dominee? Ja, daar is soms die boordjie en swart en wit klere of ʼn toga, maar meer nog is daar ʼn manier van dinge doen, ʼn manier van wees in die wêreld, ʼn manier van vat aan brood. Dit is ʼn manier wat dui op ʼn ander ekonomie. Ekonomie kom van die Griekse woorde oikos en nomos wat “huis” en “wet” of “bestuur” beteken. Ekonomie gaan oor hoe die sake van die huis ingerig word. Priesters se optrede herinner ons aan die klein ekonomie van die huishouding, eerder as die groot ekonomie van die maatskappy wat domineer in ons dag. Ons taak as dominees is om in ʼn gejaagde kapitalistiese leefwêreld eerder te besin as te bereken. Dominees neem, seën, breek en deel op ʼn wyse wat die wat dit sien die lewende God se ekonomie laat sien. Dit is hoekom De Visscher skryf dat die priester se sielkundige hebbelikhede en sosiale kwaliteite ondergeskik is aan die amp.
“Priesters zijn helemaal niet nuttig” skryf De Visscher. Ek stem heelhartig met hom saam. Dominees is nutteloos. Maar dit is juis daardie nuttelose handelinge, soos om vir mense klein stukkies brood te gee wat nie eers mense se honger stil nie, wat dominees se teenwoordigheid so onontbeerlik betekenisvol maak.
Om só in ons wêreld teenwoordig te wees, is ʼn moeilike opdrag. Maar sedert Emmaus en tot in ons dag, is dit die soort optrede wat moedelose mense laat sê: “Dit het ons harte brandend gemaak.”
Terloops, 9 September is die internasionale “Buy Your Priest a Beer Day.” Ek noem dit, want Septembermaand is om die draai.
Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
