Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Cas Wepener: Imagine there’s no bodorp

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Daar is niks wat ons in die lewe doen waarvoor ons nie ons verbeelding gebruik nie. Terwyl jy nou hier lees, is jou verbeelding nog besig met die opskrif van hierdie artikel en die betekenis van die openingsin. Wat geld vir verbeelding, geld ook vir empatie. Verskillende lesers het verskillende grade van empatie met die middeljarige manlike skrywer van hierdie artikel. 

Soms is verbeelding en empatie subtiel op die agtergrond. Soos hier aan die begin van die artikel. Soms is verbeelding en empatie blatant op die voorgrond. Soos wanneer dominees preek maak. 

Die teoloog Fred Craddock het daarom gesê ʼn prediker moenie haar verbeelding weg wens wanneer sy preke voorberei nie. Ook nie haar empatie nie. Nee, werk eerder met ʼn sogenaamde empatiese verbeelding. 

Geen preek word ooit geskryf sonder dat die prediker die mense vir wie hy die preek skryf verbeel nie. Ook die mense in die Bybelteks waarop die preek gebaseer word, word verbeeld. En die mense, die in die banke en die in die teks, bly altyd in ʼn dorp – Stellenbosch of Standerton; Jerusalem of Jerigo. Predikers loop wanneer hulle preke skryf voortdurend rond in die skoene van mense en in die dorpe waar die mense woon.

Verbeelding is goed. Ook empatie. Maar wanneer ek ʼn dorp of stad in Suid-Afrika in my verbeelding oproep, dan het ek ʼn probleem. My verbeelding oor hoe ʼn dorp of stad lyk is gekaap. My verbeelding as sodanig is gekaap. Ek kan nouliks ʼn dorp, ʼn stad, ʼn land waar mense saam moet woon anders verbeel as die dorpe waarin ek grootgeword en voorheen gewerk het en waar ek nou woon en werk. En hulle is almal verdeelde dorpe. Die lyn tussen bodorp en onderdorp lê soos die letsel wat ʼn chirurg se skalpel na ʼn groot operasie laat in die dorpe. En ek vat daardie letsels blatant in my preke in wanneer ek die dorpe waarin die mense woon verbeel terwyl ek preek voorberei.

Ek hoor soms motiveringsprekers wat mense aanmoedig dat hulle moet droom. Ons moet vrylik ons verbeelding inspan. Ek wonder egter of dit nie soms gevaarlik is nie. Is dit nie gevaarlik indien ek nie besef en eers erken dat my verbeelding eintlik ʼn gekaapte verbeelding is nie. ʼn Gekaapte verbeelding wat byvoorbeeld armoede, ongelykheid en verdeeldheid as doodnormaal aanvaar en net so opneem in my preke nie. Hoe vry kan ek werklik droom? Hoe gevaarlik is my verbeelding dan nie eintlik nie?

Dit is waar empatie inkom. Empatie moet my verbeelding perforeer. Maar empatie is, net soos verbeelding, ook problematies. Wat ek reeds ken programmeer my empatie. Bekendheid met iets of iemand is redelik bepalend vir my eie empatie en met wie ek dus meegevoel het, en met wie nie. Lê my empatie dalk ʼn raps nader aan die bodorp as die onderdorp terwyl ek my preek teks op my rekenaar sit en tik? En is die implikasie dalk dat die laastes nooit ooit eerstes in my preke kan wees nie.

In die roman To kill a mockingbird ontmoet empatie en verbeelding mekaar. Atticus, die pa, gee daar vir sy dogter Scout die volgende raad: “You never really understand a person until you consider things from their point of view.” Die bloedjong Scout is nie heeltemal seker wat haar pa bedoel en antwoord: “Sir?” Dan sê Atticus: “… until you climb into his skin and walk around in it.”

Hoe kan ek my verbeelding en empatie perforeer? Perforeer sodat dit nuut geïnformeer kan word. Wel, as Stellenbosser kan ek begin deur Danie Marais se gedigte oor my dorp te lees. Marais skryf soos volg oor ʼn Matie student se belewenis van die Eikestad. Ek haal een vers uit ʼn lang gedig in sy bundel ek en jy betaan nie aan: “… wanneer jy Stellenbosch met die litteken/ van Birdstraat langs binnery/ behoort jy te bewe wanneer/ jy die ruit oopmaak ruik jy/ dié dorp is in petrol/ gedoop die skeidslyn/ van Helshoogte loop soos ʼn lont/ van Cloetesville deur die hangende lushof/ van Delaire tot by die wingerde/ van Babylonstoren/ Gaan stap deur Little Europe – / soos Kayamandi die middedorp noem -/ en verstaan hoe dit moet voel/ om dankie te moet sê/ vir die beurs wat jy gekry het om met jou eie oë/ te sien wat saamgestelde rente/ en eergister se parlementsgangsters alles/ vir wit kinders gedoen het kyk/ hoe ry die witgeldboere sit-sit so/ in karre wat huispryse kos.”

Nadat my verbeelding en empatie geperforeer is, kan ek miskien begin om ʼn dorp in Suid-Afrika nuut te verbeel. En dalk is dit ook nader aan hoe die lewende God dorpe en mense verbeel en oor ons droom. 

Daarom… en terwyl jy die klavier se sagte eerste note van John Lennon se “Imagine” in jou verbeelding oproep:

Imagine there’s no bo-dorp

It’s hard, but do try

No township or onderdorp

Above us only sky

 

Imagine all the people 

Sharing such a town

Ahaa

 

Imagine there’s no divided churches

Or is that too hard to do 

No doctrines to kill or die for 

And just one Lord’s table too 

 

Imagine all the people 

breaking bread in peace

Youuu

 

Verbeel jou ʼn dorp sonder grense

Ek wonder of ék kan

Waar ek empatie het met almal

Met letterlik elke vrou en elke man 

 

Verbeel jou ál die mense

Deel die hele dorp

Ahaa

 

Jy gaan sê dis vir dromers

Maar dis wat gebeur in ʼn preek

ʼn Preek droom God se droom

Wat verbeelding en empatie oopbreek

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top