Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Schalk van Johannesburg skryf: Vergeet vir ’n oomblik van die verstes, die Suid-Afrikaners wat wonder of ons hulle liefhet.
Ek rig ’n pleidooi aan u: So lief soos u die Woord het en so lief u vir prediking is, wees so lief vir die Afrikaners wat voor u preekstoel sit. Uit liefde vir hulle en hulle kinders en al dié wat nie meer kom sit om te luister nie, wees braaf en beskerm hulle harte!
As herder, staan op vir u skape, weerstaan die wolwe en jakkalsies wat vrede en tuiskoms steel. Uit die liefde van God en respek vir die prys aan die Kruis – laat nie toe dat die ‘onse mense’ op enige buiteding gebou word nie. Sien, weerstaan en bestraf verdeeldheid en ’n afgod van apartgeid. Mag ons ons nou en dan se ‘saamkoms’ verdien, deur ’n radikale roeping van Saamkoms sonder die ou vleeslike grense te gehoorsaam.
Mag ons ons lidmate so dissipel dat ons dankbaarheid, vrees en verwyt verjaag. Mag ons klaag voor God ’n menslike kla vervang. Die Woord noem ons skape; skape kan rus, volg en vertrou. Ons is nie honde wat blaf, knor en byt nie. Hoe help ons ons kudde om nie ‘uitmekaar’ gejaag te word nie? As ballinge en kinders van ’n ‘onse Vader’ smag ons na leraars en herders wat die wêreldse begeerte na self ontbloot: selfsugtig, selfde wees en selfs; self-beskikking.
Liewe dominee, ek bid vir jou om helder en braaf te staan teen elke aanslag en simbool wat ons kinders van ons landsburgers skei.
Na amper 20 jaar van stilte, is dit dalk al te laat. U lidmate se lojaliteit het dalk reeds geskuif na ’n groepering en leierskap buite die kerk en Skrif.
Ek bid vir ’n wonderwerk, om jou, in jou en in my.
