Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.
Die moorde van sewe vroue in Gauteng het onlangs aan die lig gekom. “Hierdie gebeure mag nie bloot as nog ’n reeks misdaad afgemaak word nie. Dit is ’n ernstige aanklag teen ’n samelewing waarin vroue steeds nie veilig kan leef, kan beweeg of kan werk nie. Dit vra nie net om woorde van ontsteltenis nie, maar om dringende, sigbare en volgehoue optrede van die staat, die polisie, die regstelsel, kerke én die breër gemeenskap,” skryf dr Nioma Venter, algemene sekretaris van die NG Kerk.
Die Nederduitse Gereformeerde Kerk voeg ons stem by dié van talle Suid-Afrikaners wat met diepe ontsteltenis en hartseer kennis geneem het van die ontdekking van die liggaam van ’n sewende vrou in Gauteng, na die reeks moorde op vroue wat die afgelope weke aan die lig gekom het.
Ons betuig ons innige meegevoel met die families en geliefdes van die slagoffers, en bid vir hulle in hierdie tyd van ondenkbare verlies en onsekerheid. Ons dink ook aan die families wat steeds wag op die formele identifikasie van hul geliefdes.
Hierdie gebeure mag nie bloot as nog ’n reeks misdaad afgemaak word nie. Dit is ’n ernstige aanklag teen ’n samelewing waarin vroue steeds nie veilig kan leef, kan beweeg of kan werk nie. Dit vra nie net om woorde van ontsteltenis nie, maar om dringende, sigbare en volgehoue optrede van die staat, die polisie, die regstelsel, kerke én die breër gemeenskap.
Vir die Kerk is moord in die eerste plek ’n geloofsaak. Die Bybel leer ons dat elke mens na die beeld van God geskep is (Gen. 1:27) en daarom ’n ononderhandelbare waardigheid besit. Geweld teen vroue en kinders, en die strukture en houdings wat dit moontlik maak, is daarom in direkte stryd met die evangelie.
Die Kerk het ’n besondere verantwoordelikheid om nie net teen geweld te praat nie, maar ook om binne gemeentes en gemeenskappe ’n kultuur te help skep waarin vroue gerespekteer, beskerm en gehoor word; en waarin patriargale houdings en alle vorme van mishandeling uitgedaag word. Dieselfde respek, menswaardigheid en kosbaarheid van lewe geld natuurlik vir alle mense, ongeag geslag.
Ons doen daarom ’n beroep op gemeentes, predikante, kerkrade en lidmate om hierdie getuienis ook sigbaar te maak. Sluit weer doelbewus aan by die wêreldwye #ThursdaysInBlack-veldtog deur op Donderdae swart te dra as teken van protes teen verkragting, geweld en mishandeling, en as teken van solidariteit met vroue en kinders wat in vrees leef. Laat hierdie sigbare teken gepaard gaan met gebed, prediking, gesprekke, ondersteuning aan slagoffers en praktiese optrede in elke gemeenskap waar ons teenwoordig is.
Ons bid dat die ondersoeke na hierdie moorde met dringendheid uitgevoer word, dat die verantwoordelikes aan die gereg oorgegee word, en dat die land se verbintenis tot die bekamping van geslagsgebaseerde geweld in daadwerklike optrede sigbaar sal word.
Die NG Kerk staan saam met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) en ander kerke en burgerlike organisasies wat vra vir ’n samelewing waarin elke vrou en kind veilig kan leef. Ons mag nie gewoond raak aan hierdie geweld nie. Elke lewe wat geneem word, is ’n onherstelbare verlies.
Lees ook: Verklaring van die SA Raad van Kerke wat op 15 September 2026 uitgereik is (onderaan aangeheg).
Nioma Venter
Algemene Sekretaris
SACC Murders
