Dit bly vir my besonders wanneer mense navraag doen oor teologiese opleiding in die NG Kerk omdat hulle iets van God se pad met hulle lewe begin onderskei, skryf Nioma Venter.
Jongmense wat ’n innerlike oortuiging ervaar, tweedeloopbaanpersone wat opnuut nadink oor hulle plek in die samelewing, en lidmate wat eerlik vra: “Hoe bekwaam ek myself om my gawes en passies tot opbou van die kerk van die Here aan te wend?” Sulke navrae getuig van geloof, gehoorsaamheid en ’n diep verlange om sinvol in God se diens te leef.
LEES DIE VOLLEDIGE BYLAAG (FOKUS OP TEOLOGIESE OPLEIDING) HIERONDER
By die kantoor van die Algemene Sinode verwelkom ons hierdie tipe navrae. Ons sien dit as deel van ons diensbaarheid om mense met betroubare, duidelike en toeganklike inligting te help en te verwys. Voornemende studente wil dikwels weet waar hulle meer kan lees oor opleidingsroetes en bedieningsmoontlikhede binne die NG Kerk. Gewoonlik verwys ons mense na die teologiese fakulteite by die Universiteite van Pretoria, die Vrystaat en Stellenbosch, asook na opleidingsopsies by Hugenote Kollege op Wellington.
Tog is die werklikheid dat voornemende studente dikwels hulle weg moet vind deur jaarboeke, programbeskrywings en universiteitsvereistes – en selfs dan is die groter prentjie soms steeds onseker. Teologiese opleiding in die NG Kerk bestaan immers nie slegs uit akademiese studies nie. Kerklike vorming, begeleiding en seminariumopleiding loop parallel met universiteitsopleiding, en die verhouding tussen hierdie verskillende dimensies van opleiding is nie altyd duidelik vir buitestanders nie. Dit lei soms tot onsekerheid oor hoe universiteite en die kerk saamwerk, of wat bedoel word wanneer daar van “ons fakulteite” gepraat word.
Ons ontvang ook gereeld navrae van mense wat reeds ander tersiêre opleiding voltooi het en nou nuwe bedieningsmoontlikhede oorweeg. Die afgelope paar jaar het daar boonop betekenisvolle ontwikkelinge rondom bedieningsvorme en bedieningsgeleenthede in die NG Kerk plaasgevind – onder meer rondom diensleraars en bedienaars se rolle. Sommige van hierdie prosesse is steeds besig om verder ontwikkel en verfyn te word. Juis daarom is dit belangrik dat lidmate en belangstellendes toegang het tot samehangende, verstaanbare en maklik toeganklike inligting.
Hierdie Kerkbode-uitgawe (sien pdf hieronder) verskyn daarom op ’n gepaste tyd. Ons vertrou dat die artikels nie net helderheid sal bring nie, maar ook mense sal help om die landskap van roeping, teologiese opleiding en bediening in die NG Kerk beter te verstaan en moontlik selfs met groter vrymoedigheid hulle eie roeping verder te onderskei.
Dr Nioma Venter is die algemene sekretaris van die NG Kerk.
9-15
