Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wanneer twyfel geloof vorm

 

Where are you, God? My wife has cancer – A memoir of faith and suffering when the answers no longer come deur Michael Janse van Rensburg

Uitgewer: MLTD Janse van Rensburg Publishing, 2026

Resensent: Melinda Venter

 

Where are you, God? neem die leser op ’n eerlike en heerlike reis deur geloof en twyfel, vrae en antwoorde. Die sentrale gedagte is eenvoudig, maar diep en wyd en breed: Twyfel is nie die afwesigheid van geloof nie, maar juis die aanwesigheid van geloof.

Die skrywer waag dit om die vrae te vra wat baie gelowiges in tye van swaarkry en seerkry in stilte vra: “Waar is God?”

Deur die verhale van Bybelse figure word daar gewys en bewys dat geloof nooit ’n reguit pad is nie. Dit is ’n reis van vrae, vrese, onsekerheid, struikel, stoei, stry en weer opstaan. Hulle twyfel het hulle nie van God verwyder nie; dit het dikwels juis aanleiding gegee tot die feit dat hulle by en naby Hom kom.

Janse van Rensburg herinner die leser daaraan dat twyfel nie ongeloof is nie. Waar ongeloof jou rug op God draai, kyk twyfel steeds na Hom en vra: “Here, help my om te glo.” Só word twyfel nie ’n hindernis nie, maar ’n brug na ’n meer eerlike en dieper geloof.

Hierdie werk se krag lê daarin dat dit geloof nie as ’n volmaakte sekerheid voorstel nie, maar as ’n lewende verhouding met God – een waarin daar ruimte is vir vrae, vrese en onsekerheid.

Uiteindelik laat die boek ’n mens met ’n betekenisvolle perspektief: Geloof wat deur twyfel gevorm is, is nie ’n swakker geloof nie, maar ’n sterker geloof.

Die skryfstyl is besonder menslik en intiem. Veral die spanning tussen geloof en stilte word treffend uitgebeeld. Hierdie is nie bloot ’n handboek oor die stry en stryd teen kanker nie; dit is ’n “hartboek” wat handel oor wat dit beteken om God te soek en te vind wanneer die antwoorde minder is as die vrae wat gevra word. Dit is ’n roerende leeservaring wat elke leser wat al met lyding, leed en onbeantwoorde gebed geworstel het, sal aanraak.

Beskikbaar by Amazon.


Ds Melinda Venter is predikant by die NG Kerk Goodwoodpark.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top