Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die dertien NG Kerk-geaffilieerde diensorganisasies bedryf gesamentlik 318 programme landswyd. Organisasies soos Badisa, CMR, Tutela en Caritas beskik oor gespesialiseerde vaardighede en strukture om komplekse uitdagings te hanteer.

Uit die kantoor van die Algemene Sekretaris: ‘NG Kerk-skenking kom by plekke van nood uit’ 

In November 2025 het die Algemene Sinode Moderamen (ASM) besluit om R1,5 miljoen per jaar, vir drie jaar (2025–2027), aan die Kerklike Maatskaplike Dienste Raad (KMDR) beskikbaar te stel. Annabelle Lombard vertel meer oor die impak van dié vennootskap.

 

Suid-Afrika bevind hom vandag in ’n ingewikkelde werklikheid, en die NG Kerk is vanuit gemeentes en op elke vlak van kerkverband intens bewus van die omstandighede waarin gelowiges binne gemeentes en gemeenskappe leef. Die skepping sug; mense leef met die gevolge van armoede, geweld, rampe en uitsluiting, en die kerk mag nie swyg of op die kantlyn staan nie.

Daar word dikwels gevra: Waar is die kerk? Wat doen die kerk om plaaslike nood te verlig? Omvangryke barmhartigheidswerk deur lidmate, gemeentes, ringe en sinodes vind plaas, maar wat word op nasionale vlak gedoen? Hoe kan ons op elke vlak van ons kerkverband God se gawes getrou en deursigtig bestuur tot diens van sy koninkryk?

Die NG Kerk se Roepingsverklaring 2023–2027 (sien onderaan dié artikel) dien as rigtingwyser vir die leiers van die Algemene Sinode Moderamen (ASM):

 

God drie-enig roep en stuur ons
om in ons verskeidenheid verenig te wees,
sodat ons as gemeentes saam met gemeenskappe kan werk
in die verligting van nood en die bediening van hoop.
Die kerk het ’n diakonale roeping
en verantwoordelikheid teenoor mense in nood.

 

’n Konkrete uitdrukking van hierdie roeping het in November 2025 gevolg toe die ASM besluit het om R1,5 miljoen per jaar, vir drie jaar (2025–2027), aan die Kerklike Maatskaplike Dienste Raad (KMDR) beskikbaar te stel met die versoek dat die skenking na plekke waar die nood die grootste is gekanaliseer word.

Deur die kerkverband se middele verantwoordelik aan te wend, kan die NG Kerk saam met ander ’n groter verskil maak waar nood die grootste is.

 

Dít is ons roeping

Die ASM, die kerkvergadering waarin die nege sinodes van die NG Kerk byeenkom, besin gereeld oor plaaslike nood. Die unieke band tussen evangelisasie en diakonaat is deurgaans ter sprake, want dit is wat die kerk se diens onderskei van ander vorme van hulpverlening. David Bosch verwoord dit treffend: “Die daad sonder die woord is stom; die woord sonder die daad is leeg.”

Barmhartigheidsdiens (diakonia) beteken om nood saam met gemeenskappe te verlig. Dit vind praktiese uitdrukking in drie elemente:

  • getroue teenwoordigheid op grondvlak;
  • dade van deernisvolle liefde; en
  • gepaste woorde wanneer die goeie nuus van die evangelie gedeel word.

Die vraag is daarom nie slegs hoeveel die kerk gee nie, maar hoe ons op elke vlak van ons kerkverband God se gawes getrou, verantwoordelik en deursigtig bestuur tot diens van sy koninkryk.

Rentmeesterskap wat tot diens kom

Die Hervormingsdaggetuienis van Oktober 2024 roep die kerk tot verstandige en toegewyde rentmeesterskap.

Hierdie skenking is nie ’n gewone administratiewe toekenning nie. Die uitdruklike doel is om onmiddellike maatskaplike behoeftes aan te spreek. Die besluit demonstreer die kerk se erns met plaaslike en globale nood.

Nuwe strukture en inisiatiewe is ontwikkel om ’n groter impak te maak:

 

  • Die ASM is in proses om ’n deursigtige beleidsraamwerk daar te stel vir beter ondersteuning tydens nasionale en internasionale noodsituasies.
  • ’n Geïntegreerde datasisteem sal inligting van die KMDR-organisasies en die sinodes saamvoeg om kommunikasie te verbeter en ’n vollediger prentjie van die kerk se impak te bied.
  • Die NG Kerk neem leiding as stigterslid van READY SA, ’n netwerk van kerke en geloofsgebaseerde organisasies wat gekoördineerd op rampgebeure reageer.
  • Die NG Kerk neem deel aan die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke se GRAPE-projek, wat op ekonomiese geregtigheid fokus.

 

Saam met ander

Die NG Kerk glo in netwerke, en die KMDR is ’n logiese vennoot. Paulus se beeld van die kerk as ’n liggaam met baie dele is waardevol. Die kerk hoef nie elke diakonale projek self te bestuur nie, maar kan met vennote saamwerk en bestaande strukture versterk.

Die KMDR is ’n forum vir dertien professionele maatskaplike diensorganisasies wat histories uit die NG Kerk ontstaan het en wat baie mense ken as die Christelike Maatskaplike Diensrade (CMR).

Dr Willie van der Merwe, koördineerder van die KMDR, beskryf die KMDR as ’n netwerk van diensorganisasies wat mekaar help en bemoedig en gesamentlike aksies kan loods. Die KMDR is reeds in 2001 gestig deur die destydse Algemene Kommissie vir Diens van Barmhartigheid van die Algemene Sinode en die maatskaplike diensorganisasies van die onderskeie sinodes.

Die dertien NG Kerk-geaffilieerde diensorganisasies bedryf gesamentlik 318 programme landswyd. Organisasies soos Badisa, CMR, Tutela en Caritas word as medewerkers in God se koninkryk beskou. Hulle beskik oor gespesialiseerde vaardighede en strukture om komplekse uitdagings te hanteer.

Saam met die nege sinodes se gesamentlik beraamde diakonale begroting van R25,6 miljoen (2025/26), bestee KMDR-lidorganisasies jaarliks meer as R1,6 miljard aan professionele maatskaplike dienste. Deur die KMDR as vennoot te benut, maak die ASM gebruik van ’n omvangryke netwerk om ’n groter moontlike impak te verseker.

 

Van skenking tot diens

Met die ASM se skenking het die KMDR ’n projek van stapel gestuur: “Survive to Serve”. Lidorganisasies benoem programme wat van hierdie skenking baat vind. Programme wat onder finansiële druk verkeer, word só ondersteun om met kritieke dienste voort te gaan.

Die ondersteuning dek ’n breë spektrum van maatskaplike nood:

  • beskerming van kinders en gesinne;
  • verslawingsorg;
  • bejaardesorg;
  • werkskepping en bemagtiging; en
  • voedselhulp.

Plaaslike gemeentes word ook hierdeur versterk. Die liggaam van Christus word in sy volle krag sigbaar wanneer ’n gemeente se barmhartigheidswerk hande vat met ’n KMDR-vennoot.

 

Liefde en versorging wat tasbaar word

Ds Charl van Rensburg, voorsitter van die KMDR se uitvoerende bestuurskomitee, sê in ’n verklaring: “Die ASM het deur die KMDR-skenking God se liefde en sorg op grondvlak laat uitkom. Honderde mense regoor die land baat hierby. Ons kan nie anders as om dankie te sê nie.”

Dr Nioma Venter, Algemene Sekretaris van die Algemene Sinode, sê: “Ons roeping as kerk is om vir mekaar en die skepping te sorg. Terwyl die tema van ons onlangse Predikante SAAMkoms oor die versorging van leraars en gemeentes gegaan het, het hierdie skenking die versorging van plaaslike gemeenskappe ten doel.”

Die ASM se KMDR-skenking is veel meer as net ’n finansiële bydrae. Dit is ’n belydenis in aksie. Dit gee uitvoering aan die Hervormingsdaggetuienis se uitdaging om nie swygend by die nood in ons land verby te loop nie, maar om deur oordeelkundige bestuur daadwerklike en volhoubare hoop te bedien.

Die kerk werk in netwerke van omgee en wys daarmee dat God se genade lewend en aktief is. Saam maak ons ’n verskil.

 


Hervormingsdaggetuienis_Okt2024 Roepingsverklaring 2023_2027

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top