Nielbert Mostert, Universiteit van die Vrystaat, skryf: Ek verstaan roeping as die plek waar die gawes wat God jou gegee het, jou passies en die geleentheid om dit saam uit te leef, bymekaarkom.
Van kleins af wou ek net ’n verskil in mense se lewe maak. Ek het nooit gedink dat ek ’n dominee sou wees nie. Na skool het ek aansoek gedoen by die universiteit, en ek is gekeur vir teologie. Ek het toe besluit om dit te gaan studeer.
Die Universiteit van die Vrystaat was waar ek die geleentheid gekry het om te gaan studeer. Soos wat my studies met die jare gevorder het, het ek al hoe meer besef dat teologie is wat ek moet doen en dat dit is waar ek moet wees. Ek kan nie sê dat ek ’n spesifieke roeping ontvang het nie, maar soos my studies gevorder het, het my roeping gegroei en ontwikkel. My blootstelling aan teologie en die Fakulteit van Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat het my gehelp en bygedra tot die ontwikkeling en verstaan van my roeping. Die fakulteit het my toegelaat om met baie verskillende perspektiewe uit verskillende vakgebiede in kontak te kom, wat my op nuwe en opwindende maniere geleer het en my die geleentheid gegee het om na my persoonlike ontwikkeling en roeping te kyk.
Ek is ook baie dankbaar vir die verskillende kerklike tradisies wat ek deur my klasmaats van ander denominasies leer ken het. Hierdie blootstelling aan verskillende denominasies het vir my ’n unieke waardering en liefde vir die Gereformeerde kerklike tradisie gegee. In die klas was daar ook mense van verskillende kulture en agtergronde. Die blootstelling aan verskillende kulture het ook vir my ’n liefde vir multikulturele ruimtes gegee. Soos my studies gevorder het en my belangstelling in teologie versterk en gegroei het, het my roeping ook ontwikkel tot op die punt waar ek nou aan die einde van my studies staan en amper die bediening betree.
Die eie kerklike opleiding (Seminarium) het ook vir my baie geleer en beteken. Dit het my geestelik en teologies gevorm. Aan die einde van my kerklike opleiding glo ek dat God my geroep het om in ’n gemeente te bedien en spesifiek ook in die NG Kerk. Ek glo dat die geleentheid wat ek ontvang het om by die Universiteit van die Vrystaat te gaan studeer, my goed voorberei het vir die verskillende aspekte van die bediening, asook vir die unieke uitdagings en geleenthede in Suid-Afrika. Teologie is die rigting waarin ek glo God my gestuur het om ’n verskil in mense se lewe te gaan maak, aan God se koninkryk te werk en te help bou. Die universiteit en die kuratorium het vir my die geleentheid gebied waarin my passie vir ekumene en multikulturele bedieninge kon ontwikkel.
Ek glo ten volle dat die Here my geroep het om in die NG Kerk te bedien en om so die roeping wat ek van kleins af ontvang het, naamlik om ’n verskil in mense se lewe te maak, uit te leef. Die universiteit het vir my die geleentheid en opleiding gegee om hierdie roeping te gaan uitleef. Verder het my roeping en passie vir multikulturele bedieninge versterk en gegroei. Dit is te danke aan die multikulturele aard van die universiteit. Ek glo dat hierdie passie nie sou ontwikkel het tot op die mate waartoe dit vandag is nie as dit nie vir die universiteit en my blootstelling aan die verskillende kulture wat aan die Universiteit van die Vrystaat studeer het, was nie.
*Hugenote Kollege vier in 2026 haar 75ste bestaansjaar as ’n hoëronderwysinstelling. Om dit te gedenk, nooi hulle teologiestudente van al die opleidingsentra wat NG predikante oplei om die verhaal van hulle roeping te vertel. Hierdie skrywe is deel van die reeks artikels wat Kerkbode publiseer.
