Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr PP (Paul) Kruger, emeritus-Dopperpredikant, Pretoria, skryf:
Soos ’n onverwagte hou in die maag het dit vir talle van ons gekom – daardie sinodebesluit (2026) van die Dopperkerke in SA, wat die deur na die amp van ouderling en predikant vir vroue in hulle gesig toegeklap het. Terwyl ons as ’t ware nog na asem snak sedert daardie besluit, wil hierdie brief ’n hartkreet wees, ’n ware cri de coeur aan die lesers van Kerkbode, die blad van die NG Kerk waarvan my kerklike voorvaders in 1859 afgeskei het.
LEES OOK: Swanepoel, Winckler en MacMaster trap versigtig by Woordfees-gesprek wat wye draaie gooi
Dit is ’n pleidooi om begrip, voorbidding en kerklike gasvryheid vir Dopper-lidmate en gemeentes wat ingevolge daardie sinodebesluit onwillig uit die innige gemeenskap van die GKSA-kerkverband gedwing is – tensy iets soos ’n wonder binnekort nog gebeur! My brief weerspieël die persoonlike siening van ’n emeritus-Dopperpredikant in sy sewe-en-tagtigste lewensjaar. Deur daardie sinodebesluit is ek en ander nou in ’n kerklike diaspora (verstrooing)-situasie ingedompel.
Ek bedoel ‘verstrooiing’ insoverre dit ons kerkgemeenskap as verband van kerke (gemeentes) betref. Buite die GKSA wag ’n soektog nou om deur God se genade nuwe kerklike verbintenisse aan te gaan. Dit is ’n pad waar die belofte moed gee, dat die Heilige Gees die kerk al dieper in die hele waarheid sal lei (Joh 16:13) – nie ’n ánder waarheid nie; die héle waarheid! Dit is ’n pad waarop óók vir Diaspora-doppers oneindig meer is om te ken van die liefde van Christus, die lengte, breedte, diepte en hoogte daarvan, liefde wat ons verstand te bowe gaan … maar ons kan dit alleen ‘saam met al die heiliges’ nastreef, dit wil sê, in gemeenskap met die een, heilige, algemene (katolieke) , Christelike kerk (Ef 3:18-19).
LEES OOK: Algemene Sinode Moderamen: Oor susterkerke, die skenking aan noodlydendes in Gasa en gesprek met Groote Kerk
Juis op hierdie pad , daarvan is ek seker, kan NG gemeentes en lidmate ons as Doppers-in-diaspora help! Met die titel ‘verdeeldheid onder broers’, het prof Willie Jonker (die NG teoloog wat deur ’n Dopper-teoloog beskryf is as ‘behorende tot ons almal’) in ’n artikel feitlik ’n model-voorbeeld gegee van hoe NG lidmate hierdie soort hulp aan ons in óns verstrooiing kan bied.
Hy het dit geskryf in ’n boek wat gesamentlik deur myself en dr JHH (Howard) du Toit, NG predikant, in 1990 uitgegee is [ons is hegte vriende sedert ons studentejare saam in Nederland] – Geroep tot eenheid: Gesprekke ter wille van die heling van die breuk tussen die GKSA en NGK, NGKB, Pretoria. In navolging van prof Jonker kan selfondersoek by NG lidmate ons as Doppers-in-diaspora nadertrek en bring tot eie selfondersoek en die her-vind van ’n kerkverband waarin ons weer kan tuiskom: ’n eenheid sonder eenvormigheid (ons Afrikaans-Hollandse kerke was in elk geval vir omtrent twee eeue één). Sodoende sal ons gehelp word om uit eng kerklike ‘seperatisme’ vry te kom en deur die krag van die Woord en Gees saam uitgelei te word in die wonderlike ruimtes van die kerk wat ‘wêreldwyd’ in Christus een is. Só sal die liefde inderdaad liefde wek!
