Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Tussenin | Zander van der Westhuizen: Oor ’n deur na nêrens en die genade van nog-nie-klaar-nie

Dit is ’n oggend met blou lug en ’n koel briesie wat deur die hawe van Naxos in Griekeland waai. Die klein koffiewinkels langs die pad naby die see is nog besig om hul stoele uit te pak en borde met die dag se spesiale aanbiedinge oor te skryf en rond te skuif. Dit is nie so besig met toeriste soos gewoonlik nie – net ’n paar op pad om die veerboot terug na Athene te vang.

Ek en my dogter stap rustig en kyk na die seemeeue wat in die baai baljaar en die oulike eilandprodukte wat kort-kort ons aandag aftrek. Tussenin hoor ons musiek in die verte en hier en daar mense wat ook in dieselfde rigting as ons stap.

Ons wandel oor die smal klippaadjie wat Chora en die klein eiland Palatia verbind. Weerskante van ons hoor ons die see se klein golwe wat teen die rotse breek en sien ons ’n vrou wat in die see swem.

Voor ons is ’n stel trappe wat teen die bult uitklim en aan die bopunt is ons eindbestemming – die ikoniese Portara. Naxos is bekend vir dié groot marmerdeur wat bo-op die klein wegbreekeiland van heinde en verre gesien kan word. Dit is ’n monument van die eiland se geskiedenis en duisende toeriste besoek die struktuur om tydens pragtige sonsondergange foto’s daar te neem.

Die Portara se geskiedenis is in sommige opsigte ’n misterie. Wat ons wel weet, is dat die tiran Lygdamis omstreeks 530 v.C. ’n ambisieuse tempelprojek op Palatia aangepak het. Hy wou ’n enorme marmertempel oprig wat met die groot tempels van sy tyd kon meeding.

Die projek is egter nooit voltooi nie. Lygdamis is in 524 v.C. omvergewerp en sy opvolgers het nie sy groot bouprojek voltooi nie. Dele van die mure en kolomme was reeds opgerig, maar die tempel het nooit ’n dak gekry nie.

Deur die eeue is baie van die marmer later vir ander bouwerk gebruik. Die enorme marmerpoort het egter bly staan – waarskynlik juis omdat die massiewe blokke te groot en swaar was om maklik elders te gebruik.

Daar bestaan steeds debat oor presies aan wie die tempel opgedra sou word. Dit word meestal met Apollo verbind, hoewel Dionysus ook in sommige verklarings genoem word.

Nietemin het die onvoltooide projek en sy merkwaardigste sigbare oorblyfsel – ’n deur na nêrens – een van die bekendste monumente van Naxos geword.

Terwyl ek daar staan en Inge foto’s neem, gaan die ironie en die waarde van die simbool nie by my verby nie.

Aan die een kant het iets wat nooit voltooi is nie, opsigself waarde gekry. Hierdie deur – wat deur duisende besoek word en só ’n belangrike deel van Naxos se identiteit geword het – se betekenis het verander. ’n Eens onvoltooide mislukking is vandag ’n reuse sukses.

Aan die ander kant is daar ’n diep waarheid in die herinnering dat alles wat ’n mens in die lewe aanpak, nie noodwendig uitdraai soos beplan nie.

As mens voel jy soms soos ’n onvoltooide projek en is jy gereeld ook teleurgesteld dat iets wat jy begin het, nie klaargemaak is nie.

Gelukkig is die Here altyd besig met onvoltooide mense soos ek en jy. Filippense 1:6 is ’n mooi herinnering dat die Here deurgaans besig is met die werk wat Hy in ons doen.

En soms gaan lê iets wat jy begin het iewers op ’n rak of in ’n onvoltooide vorm in ’n stoorkamer – of dit bly net ’n idee – wat later weer op ’n nuwe manier aangewend, aangepak of verander word. Jare later kan jy dalk nie eers onthou dat dit ’n mislukking was nie.

Ons stap terug na die dorpie en drink koffie. Ek dink aan my kind en aan myself. Ek is dankbaar dat die Here nog nie met my – of haar – klaar is nie.

Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top
Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.