The gift of being exiled: Faith, conscience, and the cost of belonging deur Ecclesia de Lange
Uitgewer: Naledi, 2025
Resensent: Eugene Malan
In hierdie diep persoonlike en eerlike biografiese vertelling deel Ecclesia de Lange haar reis van behoort aan ’n kerk en gemeente waaraan sy haarself en haar roeping gewy het, na vervreemding van die ruimte waar sy eens haar toekoms gesien het. As predikant in die Metodistekerk vertel sy van haar liefde vir God, haar passie vir die bediening en haar geloof in die vermoë van die evangelie om mense se ruimtes te verruim, sekerhede te ontwrig en hulle tot dieper menslikheid te roep.
Wanneer sy haar seksualiteit en haar voorneme om met ’n vrou te trou bekend maak, word sy egter gekonfronteer met kerklike prosesse en regsprosedures waarin haar bestaan toenemend tot ’n “saak” gereduseer word. Beheer en prosedure neem die plek van geloofsonderskeiding in, terwyl die prys van behoort stilswye en selfverloëning dreig te word.
De Lange beskryf genuanseerd die duur en eensame vervreemding wat hieruit volg – fisies, emosioneel, geestelik en eksistensieel. Tog word hierdie pynlike ervaring uiteindelik ook ’n onverwagte geskenk. Sy ontdek ’n nuwe ruimte van behoort waarin sy nie meer hoef te kies tussen geloof en eerlikheid, liefde en orde, vryheid en gehoorsaamheid, of roeping en stilswye nie. Veral in die ruimte van IAM leer sy weer om asem te haal, getrou haarself te wees en met integriteit te leef.
Hierdie boek is uiteindelik ’n getuienis dat vervreemding, hoe pynlik ook al, ’n mens kan wakker maak tot ’n dieper verstaan van behoort, geloof en geïntegreerde menswees.
Beskikbaar by Naledi.
Ds Eugene Malan is predikant by die NG Kerk Sonstraal in Durbanville.
