Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Evangelie moet deurdring tot diepe rassisme

Die VSA het die sterkste ekonomie in die wêreld, die grootste rykdom. Maar die feit is dat hier­die rykdom swaar steun op twee fundamentele sondes in sy verlede: die feitlike uitwissing van die inheemse be­volking om plek te maak vir uitbreiding, en die grootskaalse gebruik van slawerny. In die eerste geval is regstelling feitlik nie moontlik nie, en wat gedoen word, is eintlik maar bitter min en tragies. Wat die tweede saak betref: Die slawe is uiteindelik op 19 Junie 1865 – ná die verskriklike burgeroorlog – by wy­se van ’n verklaring nie alleen vrygestel nie, maar ook as gelyke burgers verklaar. Dié dag word sedertdien as “Juneteenth” gevier.

Die probleem is dat daar toe wel ’n einde gemaak is aan die instelling van slawerny, maar dat daar klaarblyklik nie afgereken is met die diskriminasie en kleurgevoel wat daarmee gepaard ge­gaan het nie. Soos iemand dit onlangs gestel het: Daar is nog altyd op ons nek gekniel. Ons kon nie asem kry nie … Die gevolge is duidelik, en ek haal aan uit ’n artikel in Christianity Today, ’n evangeliese blad in die VSA:

The result of the story is a catastrophic wealth gap: The median net worth of black families in the United States today is one-tenth the median net worth of white families. Sixty-two percent of black children born between 1955 and 1970 were raised in poor neighbourhoods, compared to 4 percent of white children. Results for the generation born between 1985 and 2000 were even worse, with 66 percent of black children raised in poor neighbourhoods compared to 6 percent of white children. The only way to explain the story above is the persistence of racial prejudice and its enshrinement into the apparatus of government.

Rassediskriminasie – rassisme – is die olifant in die kamer. Maar dan gaan die artikel van Timothy Dalrymple (die hoof- uitvoerende beampte van die tyd­skrif) voort om aan te dui dat die kerk in die VSA ongelukkig nie alleen voordeel getrek het uit die slawerny nie, maar aandadig was aan die ideologie wat dit onderlê en gelegitimeer het. En selfs ná die afskaffing van slawerny het hierdie teologie nog voortgegaan om Bybelse goedkeuring vir rassistiese hou­dings te voorsien: Mense is nie gelykwaardig nie. Mense van kleur is min­derwaardig. Geen gelykstelling nie.

Die laaste term klink bekend, nie waar nie. Dit was die een onroerbare hoeksteen van die sosiale beleid in ons geliefde land. En dit was nie eers vanaf 1948 so nie, maar vanaf die eerste jare van die stigting van ’n “verversingspos” aan die Kaap van Goeie Hoop. Van die eerste dag af in 1652 het die Europese besoekers (ironies genoeg self laer klas mense) neergesien op die inheemse Khoi wat hulle ingewag het. En gelukkig (?) is daar spoedig (gekleurde) slawe ingevoer wat die swaar werk kon begin doen. Van die begin af was daar geen gelykstelling nie (al was daar aanvanklik vrye seksuele vermenging!). Die fondament was gelê vir wat bekend geword het as “die Suid-Afrikaanse lewenswyse”.

Van vroeg af was daar wel mense wat hierdie houding probeer versag het deur die slawe en inheemse mense te evangeliseer en so in die kerk te laat opneem, maar hulle moes teen die stroom swem. Toe die eerste Europese sendelinge vroeg in die negentiende eeu boonop openlik teen die heersende houding standpunt ingeneem het, was die vet in die vuur. Hulle standpunte, soos ook die latere vrystelling van die slawe en die algemene beleid van die koloniale regering, was van die belang­rike beweegredes vir die Groot Trek. En “geen gelykstelling” was ingeskryf in die beleid van die Boererepublieke.

Nie almal het getrek nie. Die Kaapse Kerk het nogal skerp van hierdie aksie verskil. Maar twintig jaar later (1857) moes hierdie kerk ook toegee aan “die swakheid van sommige” en word die stig­ting van ’n aparte kerk vir die ge­kleurdes (hoewel sprekers van dieselfde taal) in beginsel aanvaar. Wat was hierdie “swakheid”? Rassisme.

Dit is nou al amper 200 jaar later. Het die kerk intussen hierdie “swakheid” uitgeroei? Nee. Inteendeel, vir die groot­ste deel van hierdie eeue was die (Afrikaanse) kerke die groot verdedigers van hierdie swakheid. ’n Sendingbeleid, ten diepste gebaseer op hierdie rassistiese swakheid, het afsonderlike ker­ke ten gevolge gehad, en dieselfde teo­logie het die (idealistiese, maar wrede) rassistiese beleid van afsonderlike ontwikkeling, oftewel apartheid, ondersteun. Teenstanders van hierdie teologie (van binne en van buite) is verketter, al het die waarheid en goeie teologie uit­eindelik geseëvier. Mettertyd moes teen­sinnig toegegee word dat juis die apartheidsteologie, die teologie van die status quo, die teologie ter beskerming van rassisme, eintlik die ketterse teologie was.

Dit was baie moeilik vir die kerk om tot hierdie oortuiging te kom. Vele lidmate het in die proses hulle rug op die kerk gekeer. Amptelik is rassisme (teen die sin van baie) veroordeel. Maar is rassisme daarmee uitgeroei? Ongelukkig nie. Dit sit te diep, dit lyk asof die evangelie nog nie tot daar kon deurdring nie. Natuurlik, ons almal weet dit is verkeerd, maar hoe praat ons as ons kuier om die braaivleisvure? Ons weet dit is verkeerd, daarom begin ons gewoonlik met die woorde: “Ek is nie ’n rassis nie, maar …”.

Die Amerikaners is nou erg onder skoot. Tereg. Kyk net die verskriklike ongelykheid van geleenthede, van sosiale omstandighede, van behandeling deur die polisie, ensovoorts. Maar laat ons liewer nie van ons eie ongelykhede praat nie! By ons is hulle wat swaarkry net die oorgrote meerderheid, en nie die klein minderheid soos in die VSA nie. En ons moet toegee: Die oorsake vir hierdie ongelyk­hede is basies dieselfde, naamlik ’n ingeburgerde meerderwaardigheidsgevoel van die kant van die wittes. Wat gaan ons daaraan doen?

Ons mag nie wegskram van die ongemaklike feit dat die soeklig geplaas behoort te word op daardie mense wat nog min of meer altyd aan die kortste end getrek het nie. Party van ons het nog net altyd alles aan ons kant gehad … sonder dat ons dit verdien het. Ons moet erken dat miskien die grootste geluk wat ons getref het die feit is dat ons wit is. Die wêreld was vir ons oop boontoe. Dit was nie so, en is steeds nie so vir die swart mense nie. Maar ons aanvaar dit as “normaal”. Dit is normaal dat swart mense arm is, dat hulle na die periferie verstoot word, dat hulle in krotte moet woon, dat hulle kinders swak skole het, dat hulle werkloos is, en minder betaal word.

Eers wanneer ons erken dat hierdie “normaal” hoogs onaanvaarbaar is, eers dan begin die pad van regstelling. En dit is ’n pynlike pad, want dit is die regstelling van eeue se ongeregtigheid. Die feit dat hierdie “Suid-Afrikaanse lewens­wyse” van ver af kom, maak ons nie onskuldig nie. Ons het die voordele daarvan ondervind. Maar die feit is: Ons is die enigstes wat dit kan (probeer) regstel.

Prof JJ (Dons) Kritzinger is emeritus-professor in Godsdiens- en Sendingweten­skap aan die Universiteit van Pretoria.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

11 thoughts on “Evangelie moet deurdring tot diepe rassisme”

  1. Francois Deyzel

    Dit klink vir my al na n growwe veralgemening. Die oorgrote meerderheid wittes in SA het destyds gestem vir verandering in ons politieke bestel. Apartheid is voor die sogenaamde Nuwe SA al afgeskaf. Kleur vooroordele is wereldwyd te vinde, ook vanaf swart kant. Die institusie van die kerke kan dit nie aftakel as die mens nie sy knie wil buig voor God nie.
    Die BLM beweging/Cancel Culture is bewys, en erken self, dat dit n marxistiese beweging is met wit en swart lede. Die tragiese is dat BLM self in hul protes optredes swart lewens geneem het en swart besighede vernietig het!
    Die rassisme word orals gevind. Die kerk kan nie individue verander sonder dat die Persoon van die Heilige Gees dit doen nie.

  2. Lood Oliver

    Daar is growwe veralgemening in hierdie skrywe. As mens dit lees lyk dit asof alle blankes ryk is en al die voorregte het terwyl alle nie-blankes arm en minderbevoorreg is. Dis eenvoudig nie waar nie. Begin sommer by die parlementslede en kyk hoeveel hulle het. En gaan vra hulle hoeveel hulle omgee vir die man op straat. Al wanneer dit klink of hulle omgee is as daar ‘n verkiesing is en dan hou dit net tot diue verkiesing verby is. Dit wat die prof sê van swartes is net so waar van duisende blankes. Hulle is ook arm; bly ook in krotte en kan ook nie bekostig dat hulle kinders skool toe gaan nie.

    Verder bestaan verskillende kerke vandag nie as gevolg van rassiste nie. Dit is eenvoudig ‘n kulturele ding. Ek glo elkeen wil graag die Here dien op sy eie manier en in sy eie taal. Prof Dons, wat in die sendingvakgebied is, is juis die een wat dit behoort te weet. Daar is verskeie NG Gemeentes wat nie-blanke lidmate het en hulle voel net so tuis daar as wat die ander is.

    Miskien moet die Kerkbode eers bietjie huiswerk gedoen het voordat die berig gepubliseer is. My repliek sal waarskynlik nie gepubliseer word nie omdat dit nie saamstem met die politiese korrektheid waarna die Kerkbode streef nie.

  3. Ja, rassisme is n probleem en kan nie Bybels regverdig word nie. Maar moet nie alles soos soetkoek opeet wat die ver linkse media ons wil laat probeer glo nie. Gaan kyk gerus n paar PragerU videos, veral die bydraes deur “African Americans”, om n meer gebalanseerde opinie te kry. Ek stem heelhartig saam met die ander kommentaar oor die growwe veralgemening en deel graag n aanhaling van dr. Jordan Peterson:”There’s nothing more racist than targeting an entire ethnic group with a collective crime regardless of innocence or guild of its individuals”.

  4. Martin Heyns

    BAIE DANKIE Dons. Hier is geen MAAR’S by jou artikel te voeg nie. Ons sit nog netso vas in Apartheid EN RASSISME soos altyd. Ons weet nie wat dit regtig beteken om ‘n versoende gemeenskap te wees nie. Amerika wil dit ook nie weet nie—die van julle wat al daar gebly het sal weet wat ek bedoel. GEEN WONDER DAT DIT SO IN DIE RASSISTE SE GESIGTE OPBLAAS nie. Ons moet wakker skrik. As elke gemeenskap maar weer van vooraf ekumeniese Waarheid=en Versoemingskomitees in die lewe wil roep en kliphard aan versoening op grondvlak wil begin werk. Hier waar ek bly kan ons netso wel in 1960 ge;eef het! Buite blink maar binne …..

  5. Jan Nieder-Heitmann

    Liewe Dons, Soos wat jy uitwys hoe die teenstanders van die teologiese regverdiging van geen-gelykstelling en Apartheid verketter is, smaak die reaksies van die eerste drie respondente al te veel na daardie selfde verkettering van weleer. Dankie vir jou moed om jouself die skyf daarvoor te maak te midde van julle goue jare van aftrede. Ten minste help jy ons om in die reaksies te sien tot welke mate ons nog steeds probeer om ons eeue-oue kultuur van wit meerderwaardigheid en self-regverdiging en -verontskuldiging te handhaaf. Met groot erkentlikheid van een van jou leerlinge oor die laaste 45 jaar.

  6. Johann Theron

    Die hartseer deel is dat ons kerk se lidmate nie die sistemiese aard van rassisme verstaan nie. Dit is soos ‘n virus in ons lywe en in ons kerkstrukture ingebed vanaf 1857. So maak dit nie meer saak of n lidmaat rassisties is nie, want die struktuur self is sodanig. Om niks te doen is om die struktuur te bevestig. Die “swakheid van sommige”, nl: “die wil van mense”, het toe harder gepraat as die Woord van God. Die hereniging van die kerk word steeds afhanklik gemaak van die wil van mense deur die tussenorde. Die motivering sedert 1857 is dieselfde motivering as nou – die liefde vir die swakker broer. Hoe ontstellend dat die mooiste van die Gereformeerde belydenis – die regverdiging van die sondaar, so subtiel kon word die regverdiging van die sonde.

  7. Sas Conradie

    Beste Prof Dons

    Baie dankie vir die uitstekende artikel. Ek waardeer Prof se moed om so reguit oor rassisme te skryf. Ek stem absoluut saam. Soos u tereg skryf, is rassisme baie diep gewortel, soms onbewustelik, ook onder Afrikaners en onder
    Christene. En ons vergeet baie maklik hoe die apartheid stelsel ander rasse gedehumaniseer het. Dit is een van die redes vir die misdaad in Suid-Afrika.

    2 jaar gelede het ons familie ‘n uiters moeilike gesprek tydens ‘n famile saamtrek gehad nadat iemand in ons famile neerhalend van plaaswerkers gepraat het. Ongelukkig was dit die Christene in ons familie wat die neerhalende taal en optrede teenoor ander rasse verdedig het. Ek weet ons familie is nie die enigste waar hierdie tipe taal gebruik word nie. Totdat Christene in Suid-Afrika hierdie onbewustelike rassisme gaan aanspreek, gaan daar nie genesing tussen die verskillende rasse in Suid-Afrika en dus ook in die land as geheel kom nie.

  8. Johan Schoeman

    John Hagge het dit mooi opgesom toe hy gesê het: “Jy can either stand for the Truth, or you can be a liberal!”…….

  9. Liewe Jan en Martin, ek is ook teen rassisme. Ek is vir gelyke behandeling van alle mense as “geskape na die beeld van God”. Ek is ook wit, en glo nie dat dit die nuwe “original sin” is nie. Was ek gelukkig om wit gebore te word? Dalk, maar dit is iets wat nie binne my beheer was nie, net soos niemand anders behalwe God beheer daaroor het nie, aangesien Hy ons elkeen in ons “moederskoot gevorm” het. Dit is dus nie iets waaroor ek voel ek omverskoning moet vra nie. Die plek of omstandige waar iemand gebore word gee ook nie die persoon die reg om enige ander persoon anders te behandel as wat die Woord voorskryf nie. Ek sal graag wil hoor wat, spesifiek, julle ingedagte het om die “social justice” te bereik wat julle impliseer. Groete in Christus

  10. Jean Redelinghuys

    Van die negatiewe reaksies is n toonbeeld dat apartheid inderdaad nie gefaal het nie , maar gewerk het . Ons is nog steeds vasgevang in n sirkulere diskoers waar daar weinig oop gesprekke is met swart mense , sonder n gedekte tafel van vooroordele , en geen wonder dat
    sommige dink die Prof wil hulle net laat skuldig voel nie.

Comments are closed.

Scroll to Top