Ons soek jou mees oorspronklike gedagtes en beste skryfwerk vir ons skryfkompetisie wat die beste lesersbydraes met ’n kontantprys en publikasie in Kerkbode beloon.
Deelnemers kan in een of meer van drie kompetisiekategorieë inskryf:
- 2020: Insigte uit ’n annus horribilis.
- Hoe lyk ’n inklusiewe kerk?
- Só lei die Bybel my besluitneming in my alledaagse lewe.
Hoe skryf ek in? Volg die instruksies hieronder.
Waarna is ons op soek? Kerkbode-stories is vanjaar altesaam meer as 800 000 keer gelees, volgens Google Analytics, wat dié goed tel. En wanneer ’n mens kyk na watter soort stories gelees word, besef jy gou daar is een gemene deler: Lesers hou van helder, goedgeskrewe stories en briewe. So dit is presies wat ons beoordelaars van jou vra. Toeganklik én insiggewend. Sowat 800 woorde wat die leser verras, vermaak en inlig.
Wanneer kry ek my prysgeld? Drie weninskrywings sal op www.kerkbode.co.za en in hierdie blaaie gepubliseer word en die wenskrywers sal betyds ingelig word dat hulle hulle stories via sosiale media kan deel met soveel moontlik lesers.
Nuwe Sluitingsdatum: 23 Oktober 2020
