Die opstanding

Dr Chris van Wyk van Somerstrand skryf:

Die rubriek “Opstanding en lewe na die dood(Kerkbode, 21 April 2017) van Fanie Cronjé belig die konflik tussen OT-teoloë of daar ’n opstanding van die dooies in die Ou Testament verkondig word al dan nie. ’n Keu­se word gemaak dat: “ons ons kwalik voorstel dat dié opstan­dings­geloof met ons hedendaagse verstaan van ’n op­stan­dingsgeloof ooreenstem.”

Cronjé verkondig daarmee ’n idee wat nie net in stryd is met die Nuwe Testament se interpretasie van wat in werklikheid in die OT staan nie, maar sit ook nie die OT-getuienis volledig op die tafel nie. Job praat alreeds van ’n opstanding van die vlees ná die dood, ’n teks wat Cronjé ignoreer: “MAAR ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.  En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou” (Job 19:25-26, OAV).

Cronjé verwys wel na Esegiël 37:1-14, Jesaja 26:19, en Daniël 12:1-4 wat dieselfde gedagte verkondig, maar bespreek nie Esegiël of Jesaja nie. In sy bespre­king daarna, slegs van Daniël, ontkrag hy eintlik die hele idee van ’n opstanding van die dooies, omdat hy dink dat die opstandingsgeloof beperk was tot net som­­miges wat so dink: “maar dan ook net onder seke­re groepe.”

Cronjé verwys ook op onverstaanbare wyse nie na Psalm 16:10-11 waarna Petrus in sy Pinkstertoespraak as ’n bewys van die opstanding verwys nie.  Trouens, Psalm 16 is die fondament van sy hele betoog oor die opstanding (Hand 2:22-36).

Cronjé ignoreer ook die feit dat die Fariseërs ’n opstandingsgeloof gehad het op grond van die OT (Hand 23:8) en dat dit een van die dinge is waaroor Jesus en hulle sowel as die vroeë kerk saamgestem het (1 Kor 15:23). Dit is iets wat deur Kerkbode raakgesien moet word om te keer dat daar verwarring by lidmate ont­staan.

Lees Dr Fanie Cronjé se reaksie in sy rubriek.