’n Kersieboom met Suid-Afrikaanse wortels blom in Japan

Japan, eksotiese land van die opkomende son, samoerai’s, kimono’s, kersiebloeisels en dip-dak tempels. ’n Rooi kol-vlag en vooruitstrewende ekonomie. Slegs 1% Christene in ’n bevolking van 127 miljoen. Stéphan en Carina van der Watt werk daar. Stéphan is professor in pastorale teologie en sorg aan die Kobe Gereformeerde Teologiese Skool. Carina is tuisopvoeder, gasvrou en kinderbediener. ANNALISE WIID het met hulle gesels.


Die Van der Watts is tans in Suid-Afrika op hulle driejaarlikse besoek van drie maande. Stéphan kry my op Stellenbosch vir ’n cappuccino. In goeie Japannese tradisie, bring hy ’n keu­rige geskenk saam: ragfyn skryfpapier. En miniatuur houtstokkies, waarmee die Japannese vrugte eet – elk in sy eie papierslopie, versier met geparste blomme­tjies. Dit is gemaak deur gestremdes van ’n sentrum waar­by hulle kerk betrokke is.

Ek het soveel vrae: Hoe lyk kerk in so ’n vreemde, anderste kultuur? Hoe hanteer hulle die druk in so ’n vreeslik gedrewe samelewing, met so ’n werk-tot-die-dood-ingesteldheid en verstommende produksievermoë? Hoe kom hulle reg met die taal – ek hoor dis so moeilik om aan te leer? Hoe pas ’n groot Afrika-lyf in daai klein Oosterse ruimtetjies in? Hoe maak ’n mens jou kinders daar groot? En hoekom Japan van alle vreemde plekke?

Stéphan, ’n Humansdorper, voel vir my so gemaklik bekend, soos ’n boerseun-buurseun. Hy lag. “Hoekom Japan? Die kort antwoord is: Beslis nie omdat my skoonouers (Tobie en Annalie de Wet) daar gewerk het en onlangs afgetree en teruggekom het Suid-Afrika toe nie. Eenvoudig net omdat ek en Carina van har­te oortuig is die Here roep ons om daar te wees.”

Hoe het dié oortuiging gebeur?

“Dit was in 2007. Ons was al ’n jaar of wat getroud. En het die vorige jaar ’n maand lank gaan vakansie hou by my skoonouers, wat toe nog in Japan was. Jy moet onthou, ek het so min van Japan geweet, toe ek Carina ontmoet het, het ek nog gedink Hong Kong is Japan se hoofstad!

Dr Stéphan van der Watt besig om klas te gee.

“Dit was vir my lekker om daar te kuier, fassinerend vir ’n vakansie, maar ek het nooit gedink ons gesin sou daar gaan bly nie. Ons was daardie tyd predikantspaar in Aliwal-Noord. Boonop het ek ’n pastorale hart. My fokus lê op die binnekant van ’n gemeente. Ek het myself dus nie as ’n sendeling gesien nie.”

En toe, op 23 Desember 2007, berei hy sy Kerspreek voor. Blaai deur die ou Bybel op soek na ’n spesifieke teks. Blaai verby Jesaja; steek vas by hoofstuk 49:1-7. “Luister na My, eilande, gee aandag, nasies wat ver is!”

Die eilande van Japan was onmiddellik voor sy geestesoog. Die verdere woorde – “Die Here het my ’n belangrike opdrag gegee … Hy het gesê: Dit is nie genoeg dat jy my dienaar is om die stamme van Jakob te herstel en om die Israeliete wat gered is terug te bring nie; Ek maak jou ’n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik …” – het Stéphan se hart beetgekry. En net nie weer laat los nie.

Hy het die kolletjies verbind; baie gebid; dit met Carina gedeel; en daarna met enkele goeie vriende. Later ook met hulle ouers en gebedsondersteuners. En die Aliwal-gemeente, waar hulle toe maar nog net drie gelukkige jare was.

“So ’n lewensveranderende besluit neem ’n mens nie ligtelik nie. Jy moet onthou, Japan staan bekend as ‘die begraafplaas van sendelinge’”.

Uiteindelik het hulle (met Annlie, hulle eersteling, huilend agter in ’n klein karretjie) hierdie roepingsverhaal gaan deel met sowat 100 gemeentes, waarvan sommige bevestig het dat hulle ook geroepe voel om die Van der Watts in hulle bediening te ondersteun.

En nog 16 maande se voorbereiding het hulle wortels opgetrek.

Vir Carina, wat weens haar grootwordagtergrond nie so veranker aan plek is soos Stéphan nie, was dit dalk ’n bietjie makliker.

Vir hom: “Aanvanklik so oorweldigend. ’n Mens het net geweet: Hierdie gaan taai wees.” Die eerste twee jaar verstaan ’n mens glad nie die taal nie. En hoewel sy skoonouers help brûe bou het, was dit steeds met tye uiters frustrerend en dreinerend.

Dié vrolike, kleurvolle kinderbediening is deel van die werk in Kobe. Carina van der Watt is regs agter.

Hulle tweede kind, Cornelius, is twee maande ná hulle aankoms in Japan gebore, en Carina “moes in Ja­pannees kraam”. Cornelius is kort daarna met ’n rare metaboliese siekte gediagnoseer. Dit was moeilik! Maar wat ’n geloofspad. En watter diep emosionele ban­de het hulle nie gebou nie!

Nou, ná agt en ’n bietjie jaar, gee Stéphan klas, vorm missionale omgeeharte, preek en hou vergaderings in Japannees. “Ek kan praat en luister, maar lees en skryf lol nog. Ek troos my daaraan dat hulle sê net die eerste 30 jaar is moeilik.”

Stéphan besef: “Bediening in Japan is ’n maraton; nie ’n 100 m dash nie.” Die Japannese staan uitermate skepties teenoor die “Christelike Weste” weens die vernietigende bomme op Hiroshima en Nagasaki in die Tweede Wêreldoorlog. In die eenvormige, same­horige Japannese kultuur, is Christenskap ’n baie radikale keuse. Calvyn se “mystical union with Christ” is on­ont­beerlik.

Tog bestaan die Reformed Church of Japan reeds 70 jaar en werk hulle 45 jaar al goed met die NG Kerk saam. Stéphan-hulle, sowel as sy skoonouers, was baie betrokke by hulpverlening tydens die onlangse natuur­rampe – 2011 se tsoenami en die Kumamoto-aardbe­wings verlede jaar. Die “onsigbare” Japannese kerk kon toe sigbaarder word deur hulle openbare meelewing.

By die teologiese skool het elke student ’n storie. Een van hulle vertel van ’n Japannese predikant wat baie jare gelede saam met ’n Amerikaanse sendeling ge­werk het en wat gedink het hulle werk was totaal vrugteloos.

“Maar my oupagrootjie se pa het deur daardie man tot bekering gekom. En ek is reeds die vyfde geslag predikant in my familie.” Vyfdegeslag-Christene is hoogs uitsonderlik daar. Die meeste Japannese Christene is maar eerste- of hoogstens tweedegeslag-ge­lo­wi­ges. So anders as die meeste Suid-Afrikaanse gelowi­ges se ervaring.

Stéphan en Carina van der Watt met hulle kinders onder ’n Japannese kersieboom. Die kinders is van links Annlie, Cornelius, Stephan en Lodewyk.

“Anders.” Stéphan en Carina gebruik dié woord mildelik as hulle Japan beskryf. Anders as Suid-Afrika – dié uiters homogene samelewing: Almal praat een taal. Groepsbelang bepaal individue se gedrag. Dié wat nie inpas nie, onttrek totaal, word hikikomori – ’n unie­ke en raaiselagtige Japannese verskynsel. Anders – dié land waar yin-en-yang-teenstrydighede lepellê. Waar skoonheid, waarheid en goedheid hoog geag word. Waar ’n mens in gesprekke, subtiel, “die lug tussen die lyne lees”.

Ek ontmoet Carina op Stilbaai waar sy en die kin­ders, Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan, by haar ouers kuier terwyl Stéphan sy deputasie doen. Sy is nog verrassend energiek ná ’n hele oggend se tuis­onderrig.

Sy beduie opgewonde met klein handjies en glinste­rende, vol leef-lus, terwyl sy vertel: “Ek is ‘made in Japan’. Ons het daar gewoon tot ek vyf was. Toe moes my ouers terugkom Suid-Afrika toe weens sanksies teen die NG Kerk. Na my studies op Stellenbosch het ek weer vir twee jaar daar gaan Engels gee. Dit was dus vir my makliker as vir Stéphan toe ons soontoe trek. Ten minste was die reuk van soja en die swael van die baie warmbronne vir my bekend.”

Carina is dapper, intelligent en onkonvensioneel. En oor jare deeglik gevorm vir die werk wat sy nou in Japan doen. Haar pa, Tobie, was ná hulle terugkeer predikant in Parkheuwel in Port Elizabeth. In haar graad 4-jaar skuif hy na Malabar, ’n Indiër-gemeente van die Reformed Church in Africa. Dit was in die laat 80’s se onlustye. Hulle was die enigste wit mense in die Indiërgemeenskap.

“Ek het altyd anders gevoel. Maar die voordeel daarvan is jy kyk met ander oë, met objektiwiteit, van buite af. En nou ervaar my kinders dieselfde. Hulle voel ook heeltyd anders. Die Japannese kinders is so stil en subdued. Hulle skrik as my kinders hard huil, of uitgelate en lawaaierig is. Ons is die enigste Westerlinge in ons buurt. Ons sien miskien een maal elke vier maande ander Westerlinge. Dit is ’n goeie, vermoeien­de ding, dié andersheid. As Christene is ons mos in elk geval veronderstel om radikaal anders te wees.”

Carina staan baie skoene vol: Hoewel Stéphan ’n baie betrokke en dienende pa is, sluk taalstudies en sy werk baie van sy tyd in. Sy is dus hoofsaaklik verantwoordelik vir hulle vier kinders (nou tussen 10 en drie jaar oud) se tuisonderrig.

“Ja, dis uitdagend en uitputtend, maar die dinamika van die kinders se verskillende ouderdomme en persoonlikhede is ook baie lekker. Ons teken en sing en leer geskiedenis en wiskunde in drie tale en lees CS Lewis, Boerneef …”

Sy hou van feesvier en skep graag familietradisies wat haar gesin saamsnoer.

Benewens “skool”, is hulle huis ook dikwels kuier- en oorslaapplek vir Japannese vriende of buitelandse besoekers. “Ons nooi mense aspris in. Japannese ken nie sulke gasvryheid nie. Dit is ’n demonstrasie van die evangelie. By ons en by die kerk is die enigste plek waar hulle kan ontspan oor hulle Christenskap en oor wie hulle is.”

By hulle vorige gemeente in Tokushima op die Suid-eiland, het Carina ’n baie suksesvolle bediening met kleuters gehad, genaamd Happy Kids. Sy is ook betrokke by die kinderbediening in Kobe, waar hulle sedert einde 2015 woon. En sy gee Engelse klasse vir die kweekskoolstudente.

“Ja, daar is soms baie chaos, maar gelukkig is ek ’n goeie organiseerder,” lag sy toe ek verwonderd vra: Hoe dóén jy dit?

Stéphan en Carina maak die beeld van ’n Japannese kersieboom in my gedagte-tuin staan: ’n Sterk stam met wye sambreel-takke, wat gul uitnooi, skuiling bied. Lieflike blinkswart lyne wat in komplekse patrone kartel. Omgewe van ligte, bewegende bloeisels; asof ’n swerm sagte vlinders by die boom tuiskom.

Suid-Afrika en Japan. Kerk oor kontinente. Ons het ’n boom verplant. Dit is beeldskoon.

– Belangstellendes kan Stéphan en Carina kontak by jsvdwatt@gmail.com of meer inligting by www.missiejapan.co.za kry. Kyk ook na Mission Japan: First Steps in Kobe op youtube.