“Afrika praat mos hierdie mooi visuele taal: Iemand bring ’n hoender vir die Here. Of ’n mens kry ’n hele tros piesangs vir padkos,” gesels Mariëtte Odendaal. Sy het van haar koester-ervarings in Afrika met ANNALISE WIID gedeel.
Mariëtte is ’n kommunikasie-konsultant by Arbeidsbediening Kaapstreek en die Diensgroep Getuienisaksie wat vennote soos die Reformed Family Forum en NetACT insluit. Sy vertel ware verhale; geanimeerd; met breë, beskrywende kwashale.
“Ek was as dogtertjie al gefassineer deur Afrika en ‘die sending’, soos ons daai tyd gesê het. Ek onthou hoe sit ek in ons plaaskombuis. My pa kom in met ’n brief. Van ’n ou skoolmaat van my ma, op die sendingveld. Ek hoor nog my ma, ’n entoesiastiese Vrouesendingbondlid, lees – van die ver mense in Malawi, die wonderlike werk …”
Min het Mariëtte in haar kinderdae geweet hoe nou sy en haar man, Kobus, later by die sending betrokke sou raak. In 2007 het Kobus by dr Martin Pauw oorgeneem as taakspanbestuurder vir Afrika-Ekumene van die Diensgroep Getuienisaksie. In 2008 neem Martin en sy vrou, Ilse, die Odendaals op ’n uitgebreide reis deur Afrika – via Namibië en Zambië na al die opwindende plekke waar Kobus voortaan sou werk. Saans, om die kampvuur, vertel Martin sendingstories.
Een aand vertel hy hoe die Portugese owerheid in 1922, onder aansporing van die Katolieke, die NG Sending se werk in Mosambiek stopgesit het. Al die NG sendelinge moes die land verlaat. Protestantse gelowiges is hewig vervolg. Net ’n paar honderd het agtergebly. En hulle moes maar op hulle eie aansukkel, sonder predikant. Hulle was vir jare op gemeentes van die Nkhoma Sinode, oorkant die grens met Malawi, aangewese vir Bybelonderrig en katkisasie.
Op ’n dag, 55 jaar nadat die werk in Mosambiek stopgesit is, kom een van hulle leierouderlinge by Martin in Lusaka aanklop. Om opgelei te word as predikant. Hy het met groot moeite, oor grense, sonder paspoort tot daar gereis; net met sy ID en toelatingsbriewe na Zambië se teologiese kollege. ’n Week later was sy vriend ook daar. ’n Paar jaar later nog ’n man.
Etlike dae ná Martin dié verhaal vertel het, woon Mariëtte-hulle die 100-jarige vieringe van die kerk in Mosambiek by. Die hele geskiedenis van die kerk word opgevoer. Mense sit oral onder die bome. Almal in blou en wit.
“Wie van julle moes destyds vlug vir julle lewe?” vra ds Kruger du Preez. “En,” vertel Mariëtte, die verwondering steeds oorlopensvol in haar oë, “hier verrys hierdie skare, hierdie massa mense. Hulle staan oral om ons op. Dit was ongelooflik! Om die vrug te sien van die opoffering van onder andere daardie drie manne: Hoe die kerk aanhou groei het, met so min hulp.”
In Malingunde, Malawi, besoek hulle, saam met AnnaMarie de Klerk, die hoofman oor hoofmanne. AnnaMarie demonstreer vir hom die werk wat onderwyseresse in vroeëkinderontwikkeling met die kinders van Malingunde doen. “Dít was ontroerend,” vertel Mariëtte. “Hoe hartlik hy ons ontvang; in sy huis innooi. Hoeveel agting hy vir AnnaMarie en haar werk het. Hoe hy vir ons dankie sê vir wat die projek vir sy mense beteken. Jy moes eintlik daar kon wees om die magic te voel!
“O, en dan is daar Morgenster, in Zimbabwe. Die kwaliteit van onderrig! Ek het gaan insit in een van wyle Henry Murray se klasse – het nog ’n videotjie daarvan. Hy het die wonderlikste ding reggekry. Hy het ’n deurslaggewende rol gespeel om ons susterskerk in Zimbabwe te oortuig om ook vroue op te lei as predikante en in die bediening te gebruik. Dáárin is sy nalatenskap noemenswaardig.
Ook dat, toe Henry siek word, dit nie ’n krisis was nie. Omdat hy, met wyse vooruitsig, reeds lank tevore viserektor van die Teologiese Opleidingskollege geword het. Juis sodat alles naatloos kon voortgaan onder die leierskap van dr Rotoro, ’n Zimbabwiër, as rektor.”
Die Odendaals nooi dikwels Afrika-studente, wat nagraads verder studeer aan die Universiteit Stellenbosch, om saam met plaaslike kerkleiers by hulle aan huis te eet. “Lekker informeel, om ’n skaapboud. Dan sit ek agteroor en verwonder my aan ons almal wat eintlik maar een groot familie is.”
Dít is wat Afrika-blootstelling haar oor kerkwees geleer het: Voorheen het sy gevoel soos een korreltjie in ’n druiwetros – die NG Kerk waarin sy grootgeword het. Nou besef sy: “Ek is deel van ’n hele wingerd. Swart en wit het weggeval. Ek sien, en geniet, myself as een van 7 miljoen broers en susters in hierdie kerkfamilie.”
Alles in Afrika is anders: denke, kos, klere, taal, humor. Leefstyl. Huisies van klei, wat, wanneer dit vergaan, bloot weer deel word van die aarde. ’n Klein koolstofvoetspoor. Baie medemenslikheid. “Afrika verryk my eindeloos,” sê Mariëtte. “’n Mens gaan leer daar; jy gaan nie ‘teach’ nie.”
Hieraan kan ’n mens jou telkens verwonder – hoedat mense wat oor grense beweeg en van hulleself gaan deel, omtrent altyd meer terugkry as wat hulle gaan gee het.
Dít is die mooiste taal van Afrika. Dis evangelie-taal.
– Vir meer inligting, lees gerus die boek, A family of reformed churches, remarkable stories of God’s grace, deur Gideon van der Watt en Mariëtte Odendaal (CLF Uitgewers).
