LGBTIQA+ is ’n ‘happy’ sambreel

Menslike seksualiteit is ingewikkeld, en daarom is dit belangrik om die taal waarmee daaroor gepraat word, goed te verstaan. CHARLENE VAN DER WALT, professor in Gender en Godsdiens aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, bestee ’n paar weke daaraan om dié kwessie met haar M-studente deur te praat. Hier bied sy ’n kort inleiding tot die gesprek.


Terme soos seks, seksualiteit en gender hoort saam en staan in verhouding tot mekaar. Tog is dit belangrik om te onderskei tussen die terme.

Seks (as biologiese geslag) hou verband met die beliggaming van geslagtelikheid. Tradisioneel dink ons aan die verskille tussen mans en vroue se liggame. Maar ons weet vandag daar bestaan ’n legio variëteite tussen wat tradisioneel as biologies manlik en vroulik verstaan is. Daar is mense wat manlike én vroulike liggaamskenmerke vertoon. Na hulle word verwys as Interseks – die I van LGBTIQA+.

As biologiese geslag kompleks is, dan is seksualiteit dit soveel te meer. Seksualiteit sê iets van ons verhou­dingsgerigtheid, ons begeerte na seksuele omgang en vervulling met die ander. Die ontdekking, ontwikkeling en volwassewording van ons seksualiteit is ’n pro­ses. Dit ontwikkel en verdiep soos ons groei, ons be­hoef­tes verander en ons ouer word.

Gender is ’n sosiale konstruk wat ons deurentyd met mekaar onderhandel. Dit vind uitdrukking in dominante konstruksies van manlikheid en vroulikheid in ’n bepaalde tyd en konteks. Gender is nie iets wat ons het of iets wat ons is nie, maar eerder iets wat ons herhaaldelik en onnadenkend doen.

In die identiteitsakroniem LGBTIQA+ verteenwoordig die LGB oriëntasie-identiteitsmerkers. Die G staan vir Gay en is ’n identiteitsterm wat deur mans aangeneem word wat oor die algemeen tot mans aan­getrokke voel. Die L staan vir Lesbies en dui op vroue wat tot vroue aangetrokke voel. B staan vir Biseksuali­teit – ’n term wat dikwels tot verwarring lei. Om as bi­seksueel te identifiseer, beteken nie dat jy die hele tyd met beide mans en vroue wil seks hê nie, maar dat jy die poten­siaal het om tot mans of vroue aangetrokke te voel.

In die bogenoemde gevalle is dit belangrik dat dit terme is wat uitdrukking gee aan identiteit. Hoewel die reis na die persoonlike aanvaarding van daardie indentiteitsmerker dikwels pynlik en moeisaam is, is dit terme wat vrylik deur iemand aangeneem word omdat hulle glo dat dit akkuraat iets uitdruk van ’n beliggaamde en deurleefde ervaring.

Die T vir Trans dui op mense wie se liggame nie ooreenstem met hulle genderbelewing nie. Die persoon het byvoorbeeld ’n manlike liggaam, maar beleef haarself as ’n vrou.

Queer (die Q) is die term met die ruimste reikwydte. Dit is nie ’n identiteitsmerker nie, maar dui op ’n politieke of ideologiese posisie wat dít wat as normaal, stabiel of onbevraagtekenbaar beskou word, te destabiliseer en te bevraagteken.

A (vir Aseksueel) verteenwoordig mense wat nie noodwendig seksuele aantrekking voel tot ’n ander of in ’n wederkerige seksuele verhouding wil staan nie. Dit is iets anders as ’n selibate leefstyl waar ’n persoon die begeerte het na seksuele omgang maar kies om hulleself van seks te weerhou.

Die + aan die einde van die akroniem laat nie die deur oop dat allerlei verskynsels ingesluit word in die akroniem nie, maar dui aan dat die gesprek oor seks, seksualiteit en gender ’n voortgaande een is.

Om in ’n wêreld te leef waarin die spelreëls rakende seks en seksualiteit oor die algemeen bepaal word deur heteroseksuele mense, maak dit nogal moeilik om tot aanvaarding te kom van jou andersheid, en om dit te erken en selfs te vier.

Die toets vir gay verhoudings, en trouens alle soorte verskeidenheid wat by LGBTIQA+ ingesluit word, bly myns insiens dieselfde as vir heteroseksuele verhou­dings: Is verhoudings wederkerig, gemeenskaplik instemmend en lewegewend vir hulle wat daarin betrokke is en dié wat daardeur geraak word?

As dit nie aan hierdie vereistes voldoen nie, klink dit al te veel na dwang, geweld en ongesonde praktyk, of jy nou “straight” of gay is.

Pedofilie en bestialiteit word nie as oriëntasie of identiteitsmerkers beskou nie maar beskryf skadelike seksuele praktyke. Hierdie verhoudings kan uit die staan­spoor nie instemmend wees nie en is daarom lewe-ontnemend vir slagoffers van hierdie wanprakty­ke. Die trauma en verwoesting van hierdie praktyke is ’n sigbare wond in ons geaffekteerde instansies, gemeen­skappe en gesinne en moet ten sterkste bestry word.

Hoewel die reis na identiteitsaanvaarding soos ver­sinnebeeld in die LGBTIQA+-akroniem dikwels kompleks is, is dit ’n “happy” plek om by aan te kom. Die begeerte van hulle wat onder dié sambreel van terme identifiseer, is gewoonlik om eenvoudig in verbondenheid te leef met die een wat as reisgenoot geskenk is.

Soms kry ’n mens die indruk dat die gesprek oor LGBTIQA+ gevoer word asof dit volledig vervreem is van heteroseksuele mense, asof heteroseksualiteit nie ook maar net ’n bepaalde oriëntasie is nie.

Dalk help pynlike momente soos die huidige een van verdeeldheid en rigtingloosheid in die gesprek oor “selfdegeslagverhoudings” ons om te ontdek dat ons eintlik ’n groter gesprek nodig het oor seksualiteit. ’n Gesprek waarin ons saam kan ontdek dat ons seksua­liteit ’n gawe van God is. God is immers self in diepe weerloosheid en verbondenheid aan die mensdom verbind en verlang altyd na meer intimiteit, eerlikheid en afhanklikheid.

Ons het ’n gesprek nodig waarin ons saam kan ween oor die maniere waarop seks verwring is en ’n wapen geword het waarmee hulle wat mag het, dié wat gering en weerloos is verneder, verkrag en vernietig.

En tog ook ’n gesprek waarin ons kan herontdek dat seks en seksualiteit iets is om te vier omdat dit van die min plekke is waar ons uitgenooi word om in weerloosheid bloot net onsself te wees in brose nabyheid aan die ander en in God se teenwoordigheid.