Nuwe redakteur vir Kerkbode

Le Roux Schoeman (40) is as die nuwe redakteur van Kerkbode aangestel, het die direksie van Tydskriftemaatskappy pas bekendgemaak. Hy volg Neels Jackson op wat aan die einde van November uittree.

“Ons is werklik opgewonde oor Le Roux se aanstelling. Hy is ’n jonger dog ervare joernalis wat sy spore in die digitale era verdien het. Hy is ’n visueel-geletterde digitale storie-verteller wat glo in die joernalistieke ideaal van onopgesmukte stories wat goed oorvertel word. Schoeman kommunikeer net so goed met ’n videokamera as met ’n pen,” het ds Danie Mouton voorsitter van die direksie aan Kerkbode gesê.

Schoeman het ’n BTh-graad in teologie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, waarna hy verder in joernalistiek studeer het. Hy was vir twee jaar verbonde aan The Church of England Newspaper in Londen. Daarna het 13 jaar by Media24 gevolg, onder meer as hoof van Netwerk24 se nasionale multimedia-afdeling.

’n Besoek aan Sirië in 2013 was vir hom ’n vormende ervaring. ’n Groep joernaliste het gaan waarneem hoe Gift of the Givers vrywilligers ’n hospitaal in die rebellegebied bystaan en toerus, sowat 25km van die veglinie met Basjar Al-Assad se troepe.

Schoeman vertel: “Dit het my nuwe waardering vir noodleniging gegee – nie net in oorloggebiede nie, maar ook die werk wat soveel duisende NG Kerkgangers daagliks in hulle gemeenskappe doen in ’n verskeidenheid van ‘loopgrawe’ in die stryd wat oral om ons gevoer word: teen verslawing, teen armoede, teen haweloosheid, ongeregtigheid en uitbuiting. Dis tot ’n groot mate die storie wat ek dink Kerkbode kan vertel.”

Le Roux Schoeman skakel in by die Cape Peninsula Reformed Church, die Engelstalige NG gemeente in die Kaapse middestad. Hy begin sy dienstermyn by Kerkbode in Januarie 2019.