Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Die Suid-Afrika waarvoor ons bid

Suid-Afrika het nou ’n tweede wonderwerk nodig. Die politieke prestasies van die nasie wat behaal is, voor en na 1994, was inderdaad ’n wonderwerk. Nog nooit in die geskiedenis het politieke transformasie van hierdie omvang immers op so ’n vreedsame manier geskied nie.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/01/J-van-Rensburg-Nelis.jpg” caption=”Nelis Janse van Rensburg” align=”right” width=”270px”]

Maar teen die einde van 2015 was ons seker dat dit nie goed gaan met ons land nie. Daar is ’n verskeidenheid van redes. Die mynbousektor wat vir baie lank ’n groot dryfkrag in ons ekonomie was, se lig het dermate verflou dat honderdduisende mense se lewensmiddele bedreig word. Werkloosheid in Suid-Afrika is ontstellend hoog. Staatsbesteding het hand uitgeruk. Die massiewe staatsdiens plaas uitermatige druk op die fiskus sodat besteding aan werkskeppende kapitaalprojekte agterweë bly. Die groot droogte het ons landbousektor onder geweldige druk geplaas. Ons land se voedselsekuriteit is skielik in gedrang met duisende tonne mielies wat ingevoer sal moet word. Dit is veral die vraag na witmielies wat moeilik bevredig sal word. Weerstand teen die staat se wanbestuur van fondse en nasionale bates word ondersteun deur ’n sterk wêreldwye anti-establishment sentiment. Mense is moeg vir leiers wat hulle eie belange bo die van die nasie stel. Die bewussyn van die ekologiese krisis, aangevuur deur  versteurde weerpatrone, veroorsaak verdere ongemak. Voeg hierby die verreikende godsdienstige en ideologiese stryde van ons tyd, en die wêreld voel skielik soos ’n baie onveilige plek.

Geen wonder nie dat die frustrasiepot ook in Suid-Afrika aan die oorkook is. Aan die einde van 2015 het die studenteopstande ons iets laat ervaar van ’n Arabiese lente. Die wrewel van die “born frees” omdat hulle voel dat hulle in die steek gelaat word, gaan waarskynlik nie tot rus gebring word deur ’n eenmalige reëling dat studentegelde nie verhoog sal word nie.

Ons het inderdaad nou ’n tweede nasionale wonderwerk nodig. Dié wonderwerk sal onder meer moet beteken dat daar van iewers sterk morele leierskap in ons land kom.  Suid-Afrika het mense nodig wat die morele Noord kan aandui en die nasie kan mobiliseer om in daardie rigting te beweeg. Dit is die kerke van ons land wat, soos in die verlede, die ware Noord sal moet aandui en ’n beweging daarheen op dreef sal moet kry.

Op 16 Desember 2015 het die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) ’n dokument vrygestel: Die Suid-Afrika waarvoor ons bid. Hierdie dokument is die resultaat van diepgaande dialoog tussen die lidkerke oor die publieke getuienis van die kerk in 2016 en daarna. Die NG Kerk se afgevaardigdes het heelhartig hieraan meegewerk. Dit is immers so dat ons daarvan oortuig is dat ons nie naastenby op ons eie so ’n groot impak kan maak as wat ons kan doen saam met ons ekumeniese geloofsvriende nie.

Die goeie nuus is dat die SARK sy rol as ekumeniese liggaam wat God se geregtigheid vir alle mense verkondig, weer baie ernstig opneem. Die omvattende teologiese besinning oor God se wil vir Suid-Afrika en sy mense tydens die jaarvergadering van die SARK, was diepgaande en inspirerend. Vanuit alle oorde was daar eenstemmigheid oor die geweldige nadelige effek van die gebrekkige politieke leierskap in Suid-Afrika. Die sosio-ekonomiese werklikhede wat ons mense in ellende laat, moet aangespreek word. “Die Suid-Afrika waarvoor ons bid”-veldtog is hieruit gebore. In die basisdokument van die veldtog spreek die 36 lidkerke hulle baie sterk uit teen korrupsie, wanbestuur, uitbuiting, onreg, miskenning van mense, onversoendheid, disrespek ens. Die verligting van armoede is ook reeds in die fokus van die SARK. Na die gebeure met die afdanking van die minister van finansies het die dagbestuur van die SARK binne enkele dae ’n afspraak met die president bekom. Tydens die lang en indringende gesprek is die standpunte van die SARK helder en duidelik gestel.

Die tweede wonderwerk kan gebeur as gelowiges nou hande vat en na mekaar se belange begin omsien. Dit kan gebeur as die Christene van hierdie land ’n morele bolwerk begin vorm teen magsmisbruik. Dit kan gebeur as almal sal verstaan dat dit nie met jou kan goed gaan as dit nie ook met die res van die bevolking wel is nie. Dit kan gebeur as die totale bevolking van ons land sal begin om sy leiers verantwoordbaar te hou om morele besluite te neem.

Die moderatuur van die Algemene Sinode hoop om eersdaags ’n proses te begin, in samewerking met die SARK,  waarin ons al ons lidmate sal nooi om saam te dink oor ons publieke getuienis en die Suid-Afrika waarvoor ons bid. Ons konstruktiewe insette word nou gevra. Sinisme sal ons immers nêrens bring nie. Ons ekumeniese vriende is uitgesproke daaroor dat hulle hoop op ’n kundige en deurdagte bydrae van ons kant af. So kan ons deel word van die tweede wonderwerk wat Suid-Afrika so nodig het.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top