80 matrikulante het in 2015 vanaf 29 November tot 6 De-sember die nuwe re-imagine Matriekfeeste, wat in Houtbaai en Heroldsbaai plaasgevind het, bygewoon.
Volgens ds Roche Heyns, voorheen Predikant in Sinodale Diens (PSD) vir Jeug, was destydse “skoolverlaters-kampe” of “skolliekampe” baie suksesvol. Op dié kampe se hoogtepunt is meer as 1 000 matrikulante by 11 skolliekampe “geestelik toegerus om die eerste treë in die volwasse lewe te gee”.
Volgens ds Faani Engelbrecht, wat aanbieder by die Matriekfees in Houtbaai was, is daar steeds ’n behoefte aan hierdie spesifieke bediening. “Nie alle matrikulante voel gemaklik met Margate, Hermanus of Plett Rage nie,” sê hy.
Maar, sê ds Marinus Theron, ’n Matriekfees-aanbieder, hulle glo nie dat matrikulante wat byvoorbeeld Rage bywoon boos is nie, maar eerder dat die Matriekfees “ ’n gesonder, lekkerder en goedkoper alternatief is wat ons wens meer gemeentes en predikante wil ondersteun”.
Faani vertel die matrikulante kon vanjaar saam met ’n lewendige re-imagine band aan die lofprysingsessies deelneem, saam met opgeleide studenteraadgewers Bybelstudie doen en onder leiding van ’n paar jeugpredikante gesels oor wat die toekoms inhou.
“Gesprekke is onder andere gevoer oor hulle verhou-ding met hulle ouers wat verander, oor wat volwassenheid behels en hoe die verhoudingslewe van ’n volwasse gelowige lyk.”
Amos Petersen, ook een van die aanbieders, sê hulle benadering tot die kamp was baie informeel: “Ons besef dat die matrieks nie na die eindeksamen krag het vir kamp nie, daarom neem die Matriekfees eerder die karakter aan van ’n wegbreekvakansie wat deur die kerk aangebied word. Ons fokus eerder op saamkuier en gesels as op lesings en amptelike sessies.”
Vir Jana Boleslawsky, ’n skoolverlater van Mosselbaai, het dit gewerk. Volgens haar ma, Lezaan Boleslawsky, is daar twee weke wat in haar dogter se lewe uitstaan, en dié week is een van hulle. “Ek is baie dankbaar vir dit wat julle doen en dat julle Jana gekies het om julle kamp by te woon. Sy is begeesterd en wil net terugkom as ’n groep-leier,” sê Lezaan.