Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Gustav Claassen
Dr Gustav Claassen agter sy lessenaar. Hy is getroud met Hanneke wat die leiding neem by Pen se kleuter­skool­bediening in die middestad van Pretoria. Hulle het twee seuns wat albei getroud is. Foto: Neels Jackson

In krisistye word goeie teologie gebore

Dr Gustav Claassen het einde verlede jaar die leisels as algemene sekretaris van die NG Kerk by dr Kobus Gerber oorgeneem. Neels Jackson het met hom gesels.


Nee, sê Claassen, hy het nie verwag dat sy termyn met so ’n storm sou begin nie.

Amptelik is hy van 1 Oktober 2015 af aangestel as algemene sekretaris, sodat sy termyn twee maande lank sou oorvleuel met Gerber s’n. In die eerste week daarna is die algemene sinode gehou waarby die groen lig gegee is vir verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag.

Toe breek die storms in die kerk los.

En hoewel dit moeilik is, is daar by Claassen ’n stil vertroue dat iets goed hieruit gebore sal word.

Immers het hy van kleins af geleer dat God se genade in moeilike tye altyd vars en nuut bly. Daarom wonder hy: “Wat gaan die Here vir ons oopbreek in hierdie moeilike tyd?”

Claassen het aan die Wes-Rand grootgeword. As skoolkind was hy reeds betrokke by straatwerk in Hillbrow op Vrydagaande en by uitreikaksies na mynkampongs op Sondae. Hy onthou ’n skoolverlaterskamp in sy matriekjaar wat geestelike verdieping gebring het. Maar toe hy universiteit toe is, was dit met politieke wetenskap in sy visier.

As student het hy deelgeneem aan stranddienskampe en werkerskampe en in sy eerste jaar het die roeping na die teologie toe sterk geword. Ná sy eerste jaar het hy van kursus verander en by RAU en by Tukkies gestudeer.

Gemeentes

Sy eerste gemeente was Alberton-Oos en na vyf jaar is hy na Monumentpark in Pretoria beroep, waar hy 23 jaar lank was.

Dit was altyd die kontak met die mense wat hy die meeste geniet het. Om deel te word van hulle hartseer en vreugde is ’n voorreg, sê hy.

In hierdie jare is die NG Kerk deur verskillende stroomversnellings. Dit was ’n tyd van heroriëntasie, sê Claassen. Die NG Kerk moes telkens besin oor hoe hy homself moet posisioneer om getrou te bly aan sy roeping.

As kerk van die Reformasie, het hy altyd gevoel, is die NG Kerk ernstig om te reformeer en uit die diep put van die reformasie te skep.

Ja, dit is nie vir enigiemand gemaklik om groot skuiwe te maak nie, sê Claassen, maar hy het nooit die gevoel gehad dat hy nou tot in sy diepste fondamente geskud word nie.

Daarvoor bedank hy sy mentors. Van hulle was daar baie, maar hy noem drie teoloë wat ’n diep indruk op hom gemaak het: Ferdinand Deist, Dietrich Bonnhoeffer en Walter Brueggemann.

En nou, met die storms wat woed, word hy die algemene sekretaris van die NG Kerk.

Claassen lyk rustig as hy daaroor praat. Sy stem is rustig as hy sê: “As jy regtig met hart en siel en verstand glo Christus is die Hoof van die kerk, en dat Hy die kerk styf aan sy bors vashou, dan weet jy die kerk is in goeie hande.”

Opgewonde

Inderwaarheid is hy opgewonde oor die kerk. Ook oor die uitdagings waarvoor die kerk te staan kom. As jy terugloop in die geskiedenis, terug tot in die Ou Testament, dan sien jy telkens dat uitdagende tye die geboorteplek is van belangrike teologie.

Hy verwys na Brueggemann se uitspraak dat die kerk nou in ’n tyd van ballingskap is en merk op dat daar in die tyd van Israel se ballingskap geweldige teologiese diepte gebore is.

Daarom sien hy met verwagting uit na die toekoms. Wetende dat dit nie sonder pyn of verlies gaan wees nie. Wetende dat dit nie nou duidelik is hoe dit gaan afloop nie. Maar vol vertroue dat alles ten goede sal meewerk.

Daar is meer redes waarom die nuwe algemene sekretaris opgewonde is oor die kerk. Een daarvan is die jong predikante.

In die twee jaar nadat hy by Monumentpark weg is en voordat hy as algemene sekretaris aangestel is, het hy met kerkeie opleiding gewerk by Tukkies se fakulteit teologie. Daar het hy die studente goed leer ken, ’n stukkie gesien van die toekoms van die NG Kerk wat aan die kom is. “Die jong mense vir wie die Here roep, maak my verskriklik opgewonde,” sê hy.

Nog iets wat hom opgewonde maak oor die kerk, is die beweging van missionale transformasie. “Ons prioriteit is dat ons so wil transformeer dat ons in elke konteks waar elke lidmaat leef, ’n verskil wil maak,” sê hy.

Vir Claassen is dit nie net woorde nie. Toe die vervalle Schubartpark-woonstelblokke in Pretoria se middestad ’n paar jaar gelede gesluit is en ’n klomp mense skielik sonder heenkome op straat beland het, het hy en sy gesin hulle oor ’n ma en haar baba ontferm.

Dit was iets van Matteus 25 se “Ek was ’n vreemdeling en julle het My gehuisves” wat letterlik waar geword het. Vandag is hulle steeds by dié gesin betrokke.

Die NG Kerk kan ’n groot verskil maak om die lande waar sy lidmate woon, te help heel. En dis nie net hy of die kerk self wat so dink nie. As hy by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke kom, dan hoor hy die verwagtinge van ander kerke oor die rol wat die NG Kerk kan speel.

Saam met die Here het die NG Kerk ’n goeie toekoms. Daarvan is Claassen oortuig.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top