Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Rassisme en seksisme is wel moderne terme, maar nie hul onderliggende gedagtegang nie.
In Kolossense 3:11 verwys Paulus na die ingesteldheid om mense in twee groepe – “ons” en “hulle” – te kategoriseer. In sy wêreld was iemand ’n Griek of ’n Jood, besny of nie besny, slaaf of vry, met vrygebore Joodse mans wat volgens dié reeks tweedelings die hoogste sport op die sosiale leer beklee het.
“Die ander” is doodgewoon as barbare afgemaak (Kol 3:11 – OAV).
Onderliggend aan die tweedeling en stigmatisering van mense is die gedagte dat ons groepering die norm vir beskaafdheid is. Om vir Grieke kultureel aanvaarbaar te wees moes Jode daarom soos hulle word.
Die omgekeerde was ook waar. Grieke moes eers soos Jode word om saam met hulle te kon aanbid.
Paulus stel egter ’n ander weg voor as om onsself die norm vir sosiale aanvaarbaarheid en harmonie te maak. Grieke en Jode moes volgens hom nie soos die ander word nie. Beide moes eerder God se beeld vertoon (Kol 3:10) deur soos Jesus te word. Hy is immers in almal – nie net in “ons” nie (Kol 3:11b).
Dié fokus op Jesus behoort ook hulle onderlinge verhouding te bepaal. Die vergifnis van iemand moes nie bepaal word deur hoe jammer die skuldige, of hoe genadig die te nagekome party was nie.
Vir Paulus is dit nie ons barmhartigheid, of ander se berou, wat vergifnis moontlik maak nie, maar eerder ons vergifnis deur Jesus (Kol 3:13). Wanneer is iemand immers ooit jammer genoeg na ons mening om ons vergifnis te verdien?
Vergifnis is daarom volgens Paulus slegs moontlik as daar op almal se onverdiende vergifnis deur Christus gelet word en as daar in lyn daarmee gehandel word. Onderlinge vrede en eenheid is net moontlik as Jesus, en nie ons nie, die norm vir ons optrede is.
▶ Dr Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.
