Hy wag vir my voor Robertson-Oos se NG kerk. Leun, arms oor sy bors gekruis, teen sy wit Datsun-bakkie met die Doulos Trust se embleem op die deur. Rustig. “Ons gesels sommer eers hierbinne,” nooi hy, en in ’n klein Sondagskoollokaal vertel hy vir my sy aangrypende verhaal van sorgsaamheid.
Vincent is nou 48. Hy het by Nestlé gewerk, as projekbestuurder, maar sewe jaar gelede, toe die fabriek toemaak, verloor hy sy werk. Daardie tyd was sy lewe “baie deurmekaar”. Hy het alles gedoen wat ’n mens nie mag nie, vertel hy – ’n bietjie verleë, maar sonder skroom. Hy is nie die doekies-omdraai soort nie.
Een Maandagoggend gaan boek hy homself in by die plaaslike hospitaal. Om gehelp te word. Om uit te vars van die drank en die dwelms. Hy wou ’n nuwe blaadjie omslaan. “Ek was net moeg vir hoe ek was!”
Hy het ’n week lank in die hospitaal gebly. Sy vrou en sy dogter (toe in Graad 10) het nie geweet waar hy is nie. Niemand het geweet nie. Niemand het hom kom besoek nie. Maar hy het dit so verkies. Dit was ’n goeie soort eensaamheid. “Net dr Pohl en sy vrou het vir my kom lees en bid.”
Die volgende Maandagoggend is hy ontslaan. En hy is reguit huis toe. “My vrou het niks gepraat nie. Ek het ook stil gehou waar ek was. Ek wou myself kans gee om eers weer in te settle. Teen die Woensdag vra my vrou: Waar was jy? Hoekom is jy nou so anders?”
Toe eers vertel hy haar …
Hy wou homself toets – of hy nou regtig klaar is met al die verkeerde dinge. Soggens, na hy sy vrou by die werk afgelaai het, ry hy dan Off Sales toe. Parkeer voor die deur. Daar sou hy sit tot 12:00. Toets. Om te sien of hy sterk genoeg is. As hy teen twaalfuur nog nie geswig en drank gekoop het nie, het hy gevoel hy is besig om die ding te wen.
Eendag sien hy daar ’n vrou krap in die vullisdrom. Katrina Scheepers. Hy ken haar. Sy word die sleutel tot sy toekoms.
“Wat maak jy?” vra hy.
“Ek soek kos,” sê sy. “Ek is honger.”
Vincent gaan koop toe vir haar iets om te eet.
Maar hy vra ook: “Waar bly jy?” Sy neem hom anderkant die treinspoor na die sinkskuilinkies; die baie mense. En hy sien hulle daardie dag met sy hart, nie met sy oë nie.
Hy begin hulle help met sy eie geld. Koop kos. Begin die beledigings, die intense vernedering, die afjakke wat hulle as boemelaars en bedelaars kry aan sy eie lyf voel. Hoe mense vir hulle snou: “Jy lyk gesond; loop kry vir jou ’n werk; kry ’n lewe.”
Toe gaan slaap hy tussen hulle. “Om deur te gaan wat hulle deurgaan. Dit was ’n goeie skool vir my.”
Daarna begin Vincent om die dorpsmense se siening oor die haweloses te verander. Hy leer die haweloses “beter bedel”. Jy vra nie geld nie. Jy vra brood. Jy praat ordentlik. Jy verduidelik dat jy honger is. As jy geld vra gaan almal dink jy gaan dit net uitdrink. Vra eerder werk. Vra of jy iets kan doen om jou brood te verdien.
Soms kry Vincent vervaldatumkos by die winkels om uit te deel op straat. “Maar,” sê hy, “dit is baie belangrik dat die haweloses nie van my afhanklik word nie. Ek sal hulle een of twee keer help, maar dan moet hulle hulle situasie op die tafel sit. Dan sê ek vir hulle: Ek het jóú gehelp, hoe gaan jy mý nou help? Wat gaan jy doen om jou eie situasie te verbeter?”
So het hy al letterlik honderde mense opgehelp.
Met besonder goeie samewerking van die hele gemeenskap. En vyf anonieme sakemanne wat die Doulos Trust gestig het om sy bediening finansieel te steun. “Ek sal deur die vuur loop vir hulle,” sê hy, “net vir die manier waarop hulle agter my staan.”
Vincent netwerk ook met die polisie, die hospitaal, maatskaplike dienste, die munisipaliteit, en Departement Gesondheid. Dit het baie lank geneem om al die verhou-dinge te bou. Veral met die haweloses. Nou vertrou hulle hom. Hy is dag en nag “aan diens”. Dis nie ’n agt tot vyf werk nie. Mense en moeilikheid ken mos nie tyd nie.
Vincent ken elke hawelose in elke buurt van die dorp. As iemand byvoorbeeld naby die Oos-kerk bedel, bel die gemeentemense hom en vra: Vincent, ken jy die ou? Is hy veilig? En hy weet uit bloot ’n beskrywing oor die foon of ’n mens maar ’n broodjie kan gee en of dit ’n kansvatter is met ’n liegstorie, “want, o, hulle kan met die wonderlikste stories kom!”
Aanvanklik was daar 375 haweloses in Robertson. Nou is daar nog net ’n handvol. Stukkende, down and out mense. Vincent laai my in sy bakkie; ry met my deur die dorp. “Daar sit Abraham en Lexus en Nippie,” wys hy. “Ons kom al ’n lang pad saam. Die wêreld het hulle oud gemaak. En daar loop Glenda Fouché. Soms noem sy haarself Elmarie Plaatjies. Sy’s kwaai. Sy skel ’n mens van haar af weg.”
Baie van hulle kom van ver af; kom pluk vrugte. Maar, as die seisoen verby is, is daar vir ses maande nie werk nie. Dan help Vincent ten minste een persoon per familie om werk te kry. Maar hy moet gaan na waar hulle bly. Dis te moeilik om hulle in ’n saal of by ’n gemeenskaplike versamelpunt te kry. “Onthou hulle is moeg en honger en sonder vervoer.”
Vincent pas ook voortdurend sy optrede aan by die onmiddellike behoefte of krisis van elke mens. “Ek kom byvoorbeeld by hulle in die bos. En hulle skel onder mekaar. Dan maak ek hulle sit. Dan gesels ons; oor wat is die situasie. Een sal dalk sê: Daai een het my goed gevat. Dan praat ons oor deel. Of oor hoe ons mekaar se oë moet wees. Dikwels sal hulle nog so onder mekaar baklei – maar dan kom ’n buitestander in en skielik staan hulle saam. Dan vergeet hulle hulle eie klein onderlinge geveggies. Dan kom ’n familiegevoel skielik sterk na vore.”
Vincent sê die meeste haweloses ken die Bybel. Iets het net gebeur dat hulle die pad byster geraak het. Alkohol speel dikwels ’n rol. Of dwelms. Dit is medisyne vir ’n groter seer. Hulle is gewoonlik op straat omdat iets iewers erg skeef geloop het.
Daar was byvoorbeeld die man van Pacaltsdorp. Hy was lank in die tronk. Vincent weet nie hoekom nie. Hy het hom maar net op die straat opgetel. Gewag tot hy self vra: Ek wil huis toe gaan. En toe geld bymekaar gemaak en hom geneem.
Die man was 25 jaar laas by die huis. Die familie was nie bly om hom te sien nie. Het uitgevaar oor alles wat hy hulle aangedoen het. “Ek het nie sy sleg kant geken nie”, vertel Vincent, “ek het net die nuwe mens wat hy geword het, geken.” Maar die familie wou hom nie hê nie. Die man het niks gesê om homself teen hulle te verweer of te verontskuldig nie. Sy trane het net geloop. Vincent het sy mense verseker: “Hy is nie meer soos hy was nie. Onthou God se genade is groot.” En, deur baie emosie, het hy hulle begelei om dit weer met mekaar te waag.
“Dit is soos dit in my eie lewe was”, sê hy, en hy weet dat hy genade en ’n tweede kans gekry het. “Ek gee dit nou net vir ander aan.”
As hy snags nie kan slaap nie, klim hy in sy bakkie en vat die strate. Hy wil die tyd wat hy in sy swartskaapjare verloor het, inhaal. Gaan maak mense wat nat reën en koud kry warm toe. Ander nag het hy ’n negejarige dogtertjie gesien wat haar liggaam verkoop. Dadelik die polisie geroep.
Wanneer iemand siek is, is Vincent daar. Hy help hulle families opspoor. Help hulle met aansoeke vir ongeskiktheidstoelaes.
As ’n naamlose sterf, doen hy aansoek vir ’n deernisbegrafnis. Staan hy self by die graf en lees en bid. Gee ’n laaste bietjie waardigheid aan ’n weggooimens terug. Anders grawe die munisipaliteit gewoon net ’n gat en stoot dit weer met ’n stootskaper toe.
So vertel hy terwyl ons deur die strate ry. By die vliegveld loop ons die bosse in. Hier is nogal kwaai slange, waarsku hy. Ons kry vir Sarah op ’n plastiekkrat sit. Sy het vir haar dogters wat hier woon kom kuier. Onder die renosterbosse is Maria se bed netjies opgemaak. Haar man is in die hospitaal. “Kom kyk my huis,” nooi haar dogter, Sarieta, en neem my vier bosse verder na haar skuiling. In ’n swart potjie op die vuur, kook hulle ’n soppie.
Twee nagte later giet dit soos dit reën. Vincent is in die nag uit om hulle te gaan haal en onderdak te gee. Twee dae later bring ’n vrou vir hulle vleis en groente. Vincent gaan laai dit af. En hulle nooi hom vir ete!
“Dit is wonderlik om te sien wat ’n verskil ons in mense se lewe kan maak,” sê Vincent. “Dis ook ontnugterend om te sien hoe baie mense eenvoudig net glad nie omgee nie. Maar dink net aan al die dinge wat ons nóg kan laat gebeur as ons nog meer kan saamstaan!”
▶ Kontak Vincent Andries by 079 690 1789 of vincentandries5@gmail.com of ds Ken Pritchard by kjp@telkomsa.net vir meer inligting.
