Daar is géén plek vir rassisme in die koninkryk van Jesus nie.”
So skryf ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, in ’n verklaring na aanleiding van verskeie voorvalle van rassisme die afgelope tyd.
Janse van Rensburg skryf dat rassisme sonde is – omdat dit in stryd is met die evangelie.
“Rassisme neem baie gestaltes aan, maar in die kern daarvan lê daar meerderwaardigheid, dus die minagting van mense net omdat hulle aan ’n bepaalde ras behoort, vooroordeel, veralgemenende aannames, disrespek, onbegrip, afguns, misbruik en vernedering.”
Teenoor rassisme leer die evangelie dat God vir alle mense lief is. “Alle mense is na die beeld van God geskape. Trouens, Jesus verban reeds in die Bergrede alle meer-derwaardigheid tot buite die grense van sy koninkryk. Hy leer dan met sy gelykenisse, wonders, voorbeeld en lyding dat respek, deernis, luister en omgee oor grense heen, die styl en waardes van sy koninkryk is.”
Die kuns van die lewe in Suid-Afrika, skryf Janse van Rensburg, is egter om te onthou dat meerderwaardigheid goeie vriende het in die eie-ek, in die persoonlike kyk op sake, die enkelvoudige perspektief, die eie voordeel en die drang na selfbehoud. Met sulke vriende moet ’n mens maar te versigtig wees dat meerderwaardigheid, in watter vorm ookal, nie sommer by die voordeur van jou lewenshuis instap nie.
Of dit nou chauvinisme of patriargie genoem word, of manlike dominansie, of minagting en afsydigheid en neus-optrek vir siekes en gestremdes, of homofobie of rassisme, meerderwaardigheid skuil dig by al ons vroomheid en goeie voornemens.
Janse van Rensburg wys daarop dat ’n mens kan verduidelik dat jou bedoeling nie meerderwaardigheid is nie.
“Maar die standaard van die lewe in die koninkryk, ’n lewe in noue verbondenheid met Jesus, is nie net om jou bedoelinge te beoordeel nie, maar veral die impak van jou woorde en dade en aannames en vooroordele op die selfverstaan van ander. ‘Ek’ en my bedoelinge is as maatstaf altyd ondergeskik aan die ervaring en belewenis van my naaste, hoe die ander voel, wat hulle van hulleself glo, wat hulle van hulleself verstaan wanneer ons van mekaar weggaan.”
Janse van Rensburg verwys na samelewingsfaktore soos ongelykheid en die groeiende kloof tussen ryk en arm, na armes se strewe na ’n beter lewe en die frustrasies dat dit nie werklikheid word nie – en hoe dit soms uitloop op rassespanning.
In hierdie dae, sê hy, is Christene geroep om ’n voorbeeld te stel van verdraagsaamheid en goeie oordeel wanneer dit kom by die belange van die totale bevol-king van die land.
“Laat ons daarom met groot begrip vir die storie van ons land en vir die nood van mense en vir die strewe van mense na ekonomiese selfstandigheid met mekaar omgaan. Laat ons na mekaar luister met begrip en deernis. Laat ons mekaar hoor en help, hande neem en mekaar se belange najaag. Laat ons wegdeins van veralgemenings sonder om regtig te probeer verstaan wat agter mense se protes en aandrang om gehoor te word, lê.
“Laat ons, die Christene, die draers wees van die boodskap van geregtigheid, dienende liefde en sorg. Mag ons só die mense wees wat mense se waardigheid herstel en hulle vry maak van die kragte van armoede of min-agting en selftwyfel.”