Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Gay-huwelike: ‘seën’ of ‘inseën’?

Den Haag. – Die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) – die NG Kerk se susterskerk daar – moet sy huidige onderskeid tussen homoseksuele en heteroseksuele huwelike ophef, vra drie drukgroepe binne die kerk.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/02/Leopold-Scholtz2.jpg” caption=”Leopold Scholtz” align=”right” width=”270px”]

 

In Nederland word huwelike, anders as in Suid-Afrika, slegs deur die plaaslike munisipaliteit bevestig. Predikante en priesters het geen siviele bevoegdheid in dié verband nie.

Gelowige paartjies gaan dus op hul troudag eers na die stadhuis, waar hulle ’n burgerlike huwelik sluit. Daarna gaan hulle dan kerk toe, waar die huwelik – soos dit hier bekend staan – deur ’n dominee of priester “ingeseën” word.

Toe die PKN in 2004 tot stand kom weens ’n samesmelting van die Nederlandse Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerken in Nederland en die Evangelisch-Lutherse Kerk, was die kwessie van homoseksuele huwelike ’n kwessie wat die eenwording kon kelder. Daar is toe op ’n kompromis tussen die liberale en konserwatiewe vleuel besluit: Die kerk kan homoseksuele huwelike “seën”, maar nie “inseën” nie.

Slegs heteroseksuele huwelike kan dus tans “ingeseën” word. In die praktyk maak dit bitter min verskil, maar drie drukgroepe meen die tyd het aangebreek om dié verskil nou op te hef.

Ds Erik Jan Tillema, een van diegene wat die verskil wil ophef, het aan die Christelike dagblad Trouw gesê: “Ons praat van mense wat gewoon deel uitmaak van die kerk. Dis belangrik dat daar gelykheid op dié punt is.”

Niemand weet wat die verskil tussen die twee woorde is nie, volgens Tillema. “Dis ook nie waarom dit gaan nie. Dit gaan oor die verskil wat gemaak word waar dit nie hoort nie. Dit maak mense seer.”

Daarteenoor het ds Arjen Mensink, voorsitter van die Gereformeerde Bond (die ortodokse vleuel van die PKN) gesê dis ’n beginselkwessie. “Ons verstaan die Skrif anders. Dié kompromis was vir ons ’n groot pynpunt by die vorming van die kerk. Dit is nog steeds so. ’n Gesprek hieroor sal moeisaam verloop.”

Formeel is die saak nou slegs op die agenda van die klassis (ring) van Apeldoorn, wat dit na verwagting na die PKN se algemene sinode sal verwys. Dit sal eers oor ’n jaar of twee op dié tafel beland.

Ds Karin van den Broeke, praeses van die PKN se moderamen, het aan die Nederlands Dagblad, ’n ortodoks-gereformeerde koerant, gesê sy sien nie waarom die kwessie nóú landwyd bespreek moet word nie. “As daar uit die klassisse of die sinode gevra word om dit te doen, sal ons dit doen.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top